26 Julie 2015. Sondag.
 |
Aigialis tot Katapola |
Toe ek by die deur uitkyk moet ek
my oë knip om seker te maak ek is wakker. Blur my oë? Hoekom kan ek nie sien
nie? Om ons is digte mis. Ek kan nie eers die dorp sien nie. Dit voel omtrent
soos the morning after. Gisteraand
was ’n perfekte magiese idilliese aand. Maar wat gaan nou vanoggend aan?
 |
Die mis brand weg |
Ons kan nou nêrens gaan nie, want
die sig is totaal te swak. Teen 09:30 begin die mis bietjie te lig en eers ’n
uur later kan ons anker optrek en vertrek. Ons het nog nooit sulke mis hier
gehad nie.
Daar is vanaand ’n raki fees in Katapola so ons gaan my
geliefde Aigialis verlaat en na Katapola 36°49.616 N, 25°51.807 O, 10 myl,
gaan.
Ons moet eers deur ’n kanaal vaar
en Archie put me up front to con the way
through. Dis net die begin waar daar ’n baie smal plek is waar jy kan vaar.
Daar is ’n rif aan die eenkant en vlak aan die ander kant. Die kaptein bring
ons veilig deur.
 |
Smal kanaal |
Katapola lê in ’n groot baai. Ons
gaan na die dorpskaai en daar is baie plek. Gelukkig staan ’n barmhartige
samaritaan op die kaai om ons te help. Archie tru, ek gooi anker en die man
vang die toue en maak vas. Toe is Katapola ons s’n. Ons gaan vind uit waar die
fees gaan wees en die mooi, vriendelike Griekse meisie sê dit is by die hawe en
die raki is gratis. Wat ’n geluk! Ons
ís die hawe.
 |
Die hawe |
 |
Banketbakkery |
 |
Kleurvolle Katapola |
 |
Stegie |
Die stalletjies word opgerig, reg
voor Maja is die raki stalletjie en
die verhoog is skuins voor Maja. Eers teen tienuur begin die musiek. Die
dansers word met ’n boot aangery. Watter fees is was dit nie! Raki word uitgedeel en die Griekse
dansers dans. Ek staan op Maja en kyk. Die hele wêreld wemel van mense. Vir
foto’s neem is daar geen kans. Kyk daai raki
was sleg. Sommige mense ril en gril, maar wat drink, is hulle. Ek het my gesig
ook maar lelik getrek vir die soet gif.
 |
Raki stalletjie |
 |
Verhoog |
Middernag is die dansers
klaar gedans en die mense vat oor. Hulle dans die wêreld vol. Dis behoorlik ’n fees
en nogal op ons voorstoep. Archie gaan slaap, maar ek geniet die fees vir die
oog. Net na een-uur gaan kruip ek ook in, maar toe ek twee-uur wakker word, kyk
ek by die deur uit en die wêreld om ons is almal besig om te dans. Probeer maar
weer slaap, maar vier-uur loer ek weer en om en om en om dans hulle.
 |
Orkes doen hulle ding |
Wat ’n fees!