Sunday, June 18, 2017

Ayvalik.


18 Junie 2017. Sondag.

Ayvalik Marina

Ons wou vandag na die antieke stad van Pergamon toe gaan. Maar helaas, dis bewolk en hulle voorspel reën. So ons bly maar by die huis. Ons wag dat dit lyk of dit effens ooptrek en toe gaan ons dorp toe. Zafer het gesê ons moet by Paşa gaan eet, want hulle olive oil cooking is uit die boonste rakke. Dis mos Turkse familie kos.

Ons stap al die pad dorp toe, terwyl die lae wolke dreigend in die lug hang. Dit kan enige tyd reën. Ons kry die Paşa restaurant, maar hy is toe op ’n Sondag. Dooiemansdeur. Net soos baie ander winkels en restaurante. Ons dwaal rond op soek na nog olyfolie kookkuns. Maar puur verniet. Die meeste is toe. 

Vars groente

Ons vind weer vir Violetta, die pers winkel waar ek verlede jaar vir my vriendin oorkrabbetjies gekoop het, maar sy is ook toe. Dis amper soos Laurika Rauch se liedjie “Alles is blou …”, maar dis nou die geval van “Alles is toe …”

Violetta se winkel
Kleurvolle kas
Plaveisel
Tweedehandse winkel

Die honger knaag en die een restaurant se kos sal eers 13:00 gaar wees en dis nou maar eers 11:30. Dis te lank. Dit kom daarvan as mens te vroeg dorp toe gaan. In hierdie geweste begin die lewe baie later as by ons in Suid-Afrika. Ons eet toe maar by so ’n kafee ding aan die gatkant van Ayvalik. Ons was nie lus vir duur betaal nie. En nogal lekker, die kos. Nie wow nie, maar lekker. 

Restaurant

Ons stap terug en koop vir oulaas voorrade voordat ons die land gaan verlaat. Die goed is goedkoper hier in Turkye as wat dit in Griekeland is. Môre gaan Archie die langsame proses van uitklaar doen en as dit nie te laat is nie, gaan ons Lesvos, Griekeland toe. As dit te lank neem, gaan ons maar weer by ’n baai anker en dan Dinsdag die pad na Griekeland toe vat.

Ons eet heerlike vis wat ek self gaarmaak om ons toer in Turkye mee af te sluit.

Ayvalik. Ou vriende.


17 Junie 2017. Saterdag.

Turkye se seilroete
Çamlik Köyü tot Ayvalik Marina

Vandag is ons laaste Turkse been vir die jaar. Ons gaan Ayvalik Marina toe, 3 myl, waar ons uit die land moet klok. Dis met heimwee wat ons die laaste stuk na die marina toe vaar. Ons is baie lief vir Turkye.

Ons kry ons baie duur tuiste in die marina en ons is hier vir twee dae. Dis nou wasgoed was en boot skrop en stofsuig, want ons het nou landkrag wat ons kan gebruik. Ook ’n lang, baie-water stort, waar jy alles skoon kan skrop en afspoel en sommer net vir die lekker daarvan onder die stort staan met die water wat teen jou afstroom. Lekker!

Toe maak ons reg om saam met Zafer en Nuran Türkmen, ons Turkse vriende, te kuier. Hulle bly op Bademli, maar kom vandag vir ons op Maja kuier. Dis heerlik om hulle weer te sien. En met ons beperkte kommunikasie, gesels ons lekker. Dis halwe sinne en handgebare en soms lag ons maar net. Ons drink sap en eet ietsie lig.

Nuran en Archie
Ek en Zafer
Nuran en ek
Zafer en die meisies
Archie en die meisies

Toe neem Zafer ons in sy mobiele huis na Alibey vir aandete. Ons stap rond en Alibey het atmosfeer soos min. Dis soos in Griekeland. Almal loop rond en geniet die pragtige dorpie.

Mobiele huis





Ons gaan eet by ’n familie restaurant, waar hulle “olive oil” kos voorsit

. Dit is wat hulle tuisgemaakte tradisionele Turkse kos noem. Ons eet heerlik en die kos is uiters smaaklik.

By die Adamis Restaurant
Nuran en ek by Adamis se spyskaart

Na ete stap ons in die dorp rond. Nuran soek hoede vir Zafer se suster en koop sommer twee. In Turkye is dit nou Ramazan. Die Moslems mag nie in die dag eet nie en as die son onder gaan, skiet hulle die kanon wat die einde van die dag se vas aankondig. Dan mag hulle eet. 

Alibey se kaai
Turkse bruidspaar

So loop ons te lekker verby ’n besige restaurant toe die kanon afgaan. En ek? Ek gee een van my berugte gille en al die mense rondom my skrik. Toe hulle klaar geskrik het en ek lig my hand op om apologie aan te teken, bars almal uit van die lag. Ons vier lag omtrent die hardste van almal. Wel, ek is bly ek kon bietjie vermaak verskaf!

Baie later klim ons weer in die mobiele huis en ry terug na Ayvalik en hulle laai ons by die marina af. Wat ’n heerlike genotvolle aand het ons saam met baie spesiale vriende deurgebring. Dankie, julle!






















Çamlik Köyü.


16 Junie 2017. Vrydag.
 
Poroselene tot Çamlik Küyü


As jy van watervervoer gebruik maak, moet jy jou watertekens ken. As jy só ’n swart-geel-swart boei in die water sien, met twee driehoeke wat na onder wys, beteken dit dat daar ’n gevaar is en jy moet aan die suidekant van die boei verbyvaar. 

Gaan aan suidekant verby

As daar ’n smal kanaal by ’n hawe is waarin jy moet vaar, word dit met groen en rooi boeie gemerk. Dan “grin” jy – "green right in". Dit beteken dat die groen boei aan jou regterkant moet wees wanneer jy by die hawe ingaan en die teenoorgestelde as jy by die hawe uitgaan. Moet net nie deurmekaar raak nie! So maak ons ook, toe ons deur die smal kanaal op pad na Çamlik Köyü, 9.5 myl, toe vaar.

Groen boei
Rooi boei met Alibey in die agtergrond

Daar is ’n klomp jellievisse in die water wat saam met ons vaar. Ons dink dit is Rhizostoma pulmo, meer bekend as die vaatjie jellievis of asblikdeksel jellievis. Sommige is meer blou-pers as die ander wat wit-pers is. Hulle is effens giftig, maar sy byt-steek is nie erg pynlik of gevaarlik nie.

Rhizostoma pulmo
Rhizostoma pulmo

Ons kom by ons baai en vaar verby Oom Olifant en rus vir my siel daal op my neer. Hier gooi ons anker op ’n modder bodem met uitstekende houkrag en Gus waai baie liggies. Die plasties kom in my na vore, want daar is ’n pad met motors wat verbyry en ek geniet die beskawing vreeslik. Die dreunings pla my nie eers nie. Inteendeel.

Oom Olifant

Ons en al die jellievisse geniet die rustigheid van die baai.

Poroselene.



15 Junie 2017. Donderdag.

Poyraz Adasi tot Poroselene
 
Van die een Vrystaatse dam na die ander. Dis net 3.2 myl na Poroselene. Ons soek ’n sandkol tussen die seegras en gooi die anker sekuur daarop. Archie toets dit en ons is stewig vas. Ons weet mos Gus werk skofte en waai elke aand ’n barshou. 

Kalm see

Hier op Poroselene is nie veel te sien of te doen nie. Ons gaan nie land toe nie bring die tyd op Maja deur. Hier is nou wel ook 'n sandbank, maar anders as op Keçi Bükü, waar busvragte vol toeriste aangery word om op die sandbank te loop, is hier net een eensame sandloper …

Eensame sandbank loper

Die vlae wapper in die wind. Laat my dink aan Paddy Faller, een van Archie se skoolvriende, wat nou die dag gewonder het oor die vlae op Maja.

Vlae

Nou die hele vlagstorie werk so. Heel agter, aan die stuurboord kant (regs), wapper die vlag van die land waarin die boot geregistreer is. Dis die belangrikste plek vir ’n vlag op ’n boot. In Maja se geval is dit VSA. Dit was baie makliker om die seiljag in Delaware, VSA, oor die internet te registreer, as in Suid-Afrika. Maja is in Kroasië gekoop en om haar in Suid-Afrika te laat registreer, moes ons haar soontoe seil. Hulle wil haar persoonlik ontmoet. Vir ons was dit totaal buite die kwessie om dit te doen. Nou is Maja trots Amerikaans!

Die volgende vlag wapper aan die mas aan die stuurboord kant van ’n boot. Dit is die vlag van die land waarin jy seil. In ons geval is dit Turkye.

Aan die bakboord (links) kant van die mas, kan jy enige vlag laat wapper. Daar vlieg ons trots ons Suid-Afrikaanse vlag. Paddy, daar het jy dit nou!

Gus waai en ons swaai. Gelukkig nie so erg soos Bademli saans nie. Die son sak en ek verewig. Lyk vir in die deel van die wêreld is die sak van die son die mooiste deel van die dag.

Hy sak