Monday, August 7, 2017

Sounio.


7 Augustus 2017. Maandag.

Karystos tot Sounio

Vandag is die dag wat ons die Golf van Evia verlaat. Ek hoop op heerlike windstil nagte en goeie weer vir Michelle en Johan se kuier.

Ons verlaat die veilige hawe van Karystos en gaan na Sounio, 31 myl. Gus waai nie te sterk nie en later, toe ons uit die groot baai is, span ons die seile. Ons seil vir 2h10 min en die res van die tyd motorseil ons.

Ek, die treurende sigeuner, huil die hele dag oor my ma. Ek dink die spanning van al die wind was net vir my te veel. En ek huil en huil en huil. Die kaptein weet later nie meer wat om te doen nie.

Hy verlaat sy posisie agter die helm en kom troos sy vrou. Maja is onder vol seil en die autopilot stuur. Ek dink my ma se engel-asem het vir haar wille kind gefluister dat ek deur die trane vir die see moet kyk. Dit lyk vir my vlak en ek kyk op die dieptemeter, 14 m diep. Dit word al vlakker en voor ons kan ek die geel skynsel van vlak rotse sien. Ek skrik en skakel die enjin aan. Ons pyl op die vlak af. Archie haal die helm van autopilot af en ek stuur vir Maja weg van die gevaar. Ons is al twee wit geskrik.

By die noordelike kant van Makronisi Eiland is daar 'n vlak rif. Daar was altyd 'n skeepswrak wat op die rif gelê het wat bote van die gevaar gewaarsku het, maar dis nou weg. Die rif is nou nie so sigbaar nie. Dis baie vlak, as ons daaroor geseil het, sou ons die kiel teen die rotse geslaan het. Ons wil nie eers dink wat kon gebeur het nie.

Ons kom nader aan Sounio en gooi anker. Ek huil nog eenstryk  deur. Gus waai, maar darem nie te erg nie. Die baai word voller en voller. Dis ’n gewilde plek hierdie baai met die Tempel van Poseidon daar bo-op die berg. Die mense op die seiljagte gaan nie eers land toe nie, want ou Gus waai te veel.

Sounio Baai
Tempel van Poseidon

Die maan kom stukkend agter die heuwel uit, so stukkend soos my hart.

Gedeeltelike maanverduistering

Evia Eiland. Karystos.



6 Augustus 2017. Sondag.

Animvoriou Baai tot Karystos

Dit was ’n nag van loei-lawaai en min slaap. Alles lyk egter beter as dit dag word. Maar van Gus het ek nou eers genoeg gehad. Ons bekyk die windvoorspellings en sien die plek om na te gaan is Karystos, 22 myl. Ons hoop maar van die beste, want al die boeke praat van die hewige rukwinde. Die een boek sê: “You are advised to have pretty much all sail off in good time.” En dis nou as jy die baai waar die hawe is, invaar. Wel, nou dit klink bemoedigend!

Oggendskoot - Gus

Ons seile is af en ons vaar die laaste 3myl in die groot baai na die hawe. Gus waai die water silwergrys met sulke klein perdjies. En my moed sak in my skoene. Vir ’n gewaai soos gister sien ek nie kans nie. Ek vloek saggies.

Wonder bo wonder, hoe nader ons aan die hawe kom, hoe minder en ligter is Gus se rukwinde. Dis vir my te wonderlik en my gesig breek oop in ’n glimlag (wat ’n taamlike rare ding deesdae is).

Kry fenders reg

Daar is sowaar ook ’n man op die kaai wat ons beduie waar om vas te meer. Archie tru en ek gooi die anker. Die kaaiman gryp die toue en vas is ons. Dis heerlik stil hiet teen die kaai, Gus is seker maar besig om elders amok te maak.

Ons gaan dorp toe om voorrade te koop, maar dis Sondag. In dié klein dorpies is supermarkte toe op ’n Sondag en ons gaan met leë hande huis toe. Ons is nou maar op noodvoorraad.

Dis sommer net ’n gewone dorpie. Daar is ’n kasteel en ’n mooi kerk en ’n groot anker. Baie vissersbootjies is vasgemeer in die hawe. Die munisipale gebou is ook baie netjies. Ons stap langs die see en kyk na die ankerplek. Dit lyk te wonderlik, geen windvlae nie. Die seiljagte staan sierlik stil in die water, geen geronddansery  in die wind nie.

Rooiers
Kasteel langs die baai
Muurblom
Dis 'n anker daardie!
Drie-koepel kerk
Koepel skildery
Mooi ou gebou
Munisipaliteit

Ons kry later n kafee oop wat allerhande goet het. Alles sonder pryse. Jy koop maar net en betaal. Ons koop vye, komkommers, rooi pepers, appels, 5 liter wyn en pistachio neute.

Ons eet ’n gyro vir aandete, maar dit is verseker nie die lekkerste gyro wat ons al geëet het nie, maar dit vul darem die holkol. Die hele bevolking van Karystos loop in die strate rond. Oumense, jongmense, kinders op fietse, honde, ma’s met babawaentjies. Almal stap en eet. Feestelik!

Ons is baie vaak na die vorige nag se min slaap en ons gaan kruip sorgvry in die kooi.