Wednesday, September 24, 2014

Turkye. Yalvaç.

22 September 2014. Maandag.

"What to do, what to do!?"  Die toere wat aangebied word deur die inligtingsentrum, is peperduur.  Een dag se ekskursie kos maklik R1 000. En onthou, Maja het 'n nuwe enjin gekry. Ons sak is plat.

Ons besluit ons gaan sommer Yalvaç toe. Daar gaan nie veel aan nie, maar die pad gaan deur die berge. Ons wag vir die dolmus en ons wag en wag en toe kom dit eers, al klaar vol.

Van die mooi pad sien ek bitter weinig, want ek moet heelpad balanseer om op my klein bankie, wat ek met 'n vrou deel. Al die ander sitplekke is vol.  Die bestuurder bring los stoeltjies vir die staande passasiers en arme Archie ry die hele rit, 30 cm van die vloer af, ongemaklik tussen die sitplekke. "So much for the view".

So ry die boere sit-sit so... Na een en 'n half uur se ongemaklike ry as insittende in 'n oorvol dolmus, kom ons in Yalvaç aan. En dis toe inderdaad so. Ons is die enigste toeriste daar.

Dis toevallig ook markdag op Yavaç maar nie halfpad so opwindend soos Pinar Pazari s'n nie. Ons koop wel 'n kabel vir die kamera en een kilogram Turkish Delight.

Hierdie Turke is wraggies gawe mense. So loop ek en Archie, ietwat verveeld daar rond om die tyd om te kry. 'n Man in 'n netjiese pak klere, staan sterre in die lug, besig om 'n magdom pakkies op te tel. Daar is omtrent twee pakkies markaankope vir elke vinger. Dis tamaties en uiwe, nog ander groente en vrugte en alles en nog wat. Hy sukkel om alles op te tel. Ek en Archie snel hom te hulp, sit die pakkies in die regte vingers. Toe hy alles opgetel het, sit hy dit net daar neer, haal 'n groot tros druiwe uit en oorhandig dit aan ons met 'n breë glimlag. Hy tel toe weer al sy pakkies op en loop glimlaggend weg en ons eet glimlaggend ons tros druiwe.

Een-perdekrag wa ...
... een-silinder wa

Ons stap rond en koop toe betyds kaartjies vir dir terugrit. Dis toe sitplek nr 1 en 2. Langs die bestuurder. Prima plekke. Toe sien ons met die terugrit hoe mooi die omgewing eintlik is.

Eğirdir oorkant die meer

Terug by Egirdir,  stap ons terug Seshuvar gastehuis toe om ons bagasie te kry vir die nagbus wat ons 20:30 Cappadocia toe neem.
Dis 'n lang nag op die bus, agt ure!

Turkye. Pinar Pazari.

21 September 2014.  Sondag.

Sondag is markdag in Pinar Pazari, 'n buurdorpie. Ons klim die dolmus (minibus) en daar trek ons. Ons mis mos nie 'n mark nie. Na 45 minute se ry op 'n baie mooi pad, deur menige appelboorde, is ons daar. Wel, álmal is daar, want dit wemel van mense en hul dinge.

Appels in oorvloed

Dis nou behoorlik Turkye op sy beste. Al die plaaslike inwoners en boere van die distrik is daar.  Almal koop en verkoop, ons ook. Die Turke groet ons en gesels en glimlag. Hulle gee ons 'n stukkie van hul warm harte.

Te koop
"Sunday shoppers"
Markstal
Meestal chillies
Klein koolkoppe ...
... en 'n grote
Olywe by die dosyne
Bone

Die hoogtepunt is middagete. Die skape en bokke word sommer daar in so 'n primitiewe slagpale geslag. Hulle maak dan die heel stuk vleis, van die blad tot die saal, in 'n groot kiln (steenoond) gaar. Dan koop jy die gaar vleis per kilo en jy eet dit sommer so met jou hande. My opgekapte vleis word op 'n klein stofie bedien. Archie besluit op skaapkop. Lekker!!

"Smilies" reg vir die oond
Aan die braai in die kiln
Middagete

Ons koop appels, want dis appelwêreld dié, en druiwe. Die turkish delight kon ons ook nie weerstaan nie. Tot iets vir Maja - 'n skadu dakkie vir daardie warm middagson.

Ons en ons aankope klim die dolmus en ons ry terug Eğirdir toe, moeg gemark.