Saturday, July 29, 2017

Evia Eiland. Karavos.



28 Julie 2017. Vrydag.

Eretria tot Karavos

Karavos is net 13.59 myl van hier en weg is ons. Gus waai nou weer van die westekant af en ons kan darem vir 1h39min seil. Archie hou mos baie van seil! Dit verskaf hom diepe vreugde as die seile wit in die wind bol en Maja klots-klots voortgaan op pad na die nuwe bestemming. En ek ook!

Die twee skoorstene is kenmerkend van Karavos. Dit kan al van vêr gesien word. Hier is ook ’n baie groot sementfabriek. ’n Regte werkersdorp.

Archie sit ’n triplyn aan die ankerketting, want die boek sê daar is ou vasmeerblokke waaraan jou anker vas kan haak. Toe is ons slaggereed. Daar is gelukkig plek by die kaai en Archie tru en ek gooi anker. Soos gewoonlik gaan ek dan baie vinnig agtertoe as Archie gereed is om met die tou in die hand op die kaai af te spring. Hier is niemand om ons te help vasmeer nie. Ek het wel bietjie vergeet wat die verskil tussen vorentoe en agtertoe ry is, maar ons meer suksesvol vas. 

Verstel fenders

Dis baie warm en later stap ons dorp toe, neem ’n paar foto’s van die kaai en hawe en stap verder. Ons kom op ’n vyeboom af wat jouwaarlik ryp vye het. Ons pluk elk ’n vy en word op heterdaad betrap deur die eienaar van die boom. Sy beduie vir my ek moet daar staan en wag. Gaan ons dan nou opgesluit word vir onwettige vye pluk?! Maar nee, die vriendelike vrou bring vir ons ’n hele sak yskoue vye! Ek is stomgeslaan en bedank haar opreg. Die boek sê hoeka dat dié dorp se inwoners is bekend vir hul vriendelikheid.

Karavos, vriendelike werkende dorp
Skoorstene
Maja in die middel
Heerlike vrienskap-vye

Ons geniet ons verblyf by Karavos en toe die son sommer gou-gou agter die berg insak, daal ’n salige soel koeligheid oor ons neer.

Evia Eiland. Erétria.



27 Julie 2017. Donderdag. 

Khalkis tot Eretria

Archie gaan eers gou na die hawepolisie toe om my weer op die bemanningslys te sit en Ryna en Lourens af te haal. Hulle is deesdae baie streng oor die bemanningslyste. Die mense wie se name op die lys is, moet op die boot wees. En bewaar jou siel as jy op die boot is en jou naam is nie op die lys nie. Onwettige immigrant-kamp toe met jou!

Ons vertrek uit Khalkis en val in die pad na Erétria, 13 myl en ons seil vir een uur. Ons vaar onder die Nuwe Khalkis brug deur 'n baie vlak kronkelende kanaal. 

Nuwe Khalkis brug
Archie

Die westewind waai. Eretria is ’n lekker groot baai en ons anker in 5m diep water.  Dit byt behoorlik en ons is vas.

Die wolke pak saam en word al hoe dikker en swaarder. Etlike weerligstrale verlig die oortrokke lug. Ons sien hoe die reënvlae grys neergiet aarde toe. Die swaar reën mis ons en Maja word net stofnat. Van wasgoed op die draad is daar ook geen sprake nie. Dan reën dit tien druppels, dan breek die son deur die wolke, net om die volgende oomblik weer weg te kruip en dan reën dit twintig druppels. Dis koud en van land toe gaan met Dinkie is daar geen sprake nie, want as die reën jou nie gaan natmaak nie, gaan die effe onstuimige see dit doen.

Son probeer deurbreek
Reënvlae

Dis die weerpatroon van die hele middag. Dis net Gus wat nie weet waar hy vandaan wil waai nie. Dan waai hy wes, dan oos en tot ’n klein klein bietjie suid (die boek sê die suidewind waai net twee keer in die jaar hier by Erétria en dis in die winter?)

Baie laat die aand kom twee jagte in die donker daar aan en gooi anker. Die een is te na aan ons en die ander jag en hy trek anker op en gooi weer. Ek weet nie hoekom kom hulle so laat in ’n baai aan nie.

Ons slaap rustig in ’n sag-wiegende Maja.