20 Junie 2019. Donderdag.
Dis
nag. Ons loop 00:30 na die veerboothawe. Elize en Martie het uiteindelik
met Luthtansa gevlieg. Fanie het die veerbootkaartjies geskuif en hulle
behoort 01:10 hier aan te kom.
Soos
gewoonlik is die veerboot laat en kom 02:00 hier aan. En sowaar, Elize
en Martie is aan boord. Ek en Elize is behoorlik in snot en trane toe
ons mekaar sien en ek huil amper soos op my ma se begrafnis. Dis van
verligting dat hulle uiteindelik hier is.
 |
Hulle is uiteindelik hier |
Ons
stap die pad in die vroeë oggendure na Maja en altwee kom doodmoeg aan
boord. Oor die plank en in hul huis vir die volgende twee weke.
 |
Elize |
 |
Martie |
Na net 'n paar uur se slaap, skeur ons ons lywe uit droomland los en staan op. Vandag gaan ons na die Grot van Johannes en die Klooster by die chora.
Archie
pas sy tweede vrou op en ons meisies vat die langpad. Eers deur die
dorp en later kronkel ons verder. Sommer gou is ons by die grot. Dit
voel behoorlik soos heilige grond.
 |
Opstap |
In
die grot is hulle besig met 'n diens, in die pragtige klein kapel van
St Anna. Daar word gesê dat die drie krake in die dak die bewys is van
God se stem toe hy die openbaring aan Johannes gemaak het. Daar is 'n
klompie mense wat die geestelike gebeurtenis bywoon. Die nagmaal word bedien
en ek nagmaal saam. Hier, in die grot waar Johannes sy openbarings gekry
het. Dit is baie spesiaal.
 |
By die Grot |
Na
die grot val ons weer in die pad. Boontoe, na die Hora. Dis nou die
chora, die dorpie op die heuwel. Die uitsigte op Skala Patmos, slaan jou
asem weg. Die blou see, die wit huisies, die mooi baai. Hoe hoër ons
gaan, hoe mooier word dit.
 |
Mooi uitsig oor Skala Patmos |
Elize
en Martie is gewillige lammers ter slagting. Hulle moet gedurig die
uitsigte verfraai met hulle sprankelende self en poseer amper vrywillig.
Dan is dit hoedens af en glimlag. Ai, maar dis mooi.
Toe word ons dors en drink 'n vars uitgedrukte lemoensap by 'n restaurant met 'n pragtige uitsig. Heerlik.
 |
By die restaurant |
Volgende
op ons lys is die Klooster van St John (Johannes). Die konstruksie het
in 1088 begin deur die heilige, Christodoulus. Dis meer as 15m hoog,
die lengte van suid tot noord is 53m en van oos tot wes, 70m. Die kerk slaan jou asem weg, deur die oordadigheid daarvan. Die Frescos is pragtig. Lang tafels staan gedek in die een gebou. Die
klooster het tien kapelle, vier wat in die erf is. Die ander kapelle is
as't ware om elke hoek en draai. Ons wil net nog 'n bietjie langer in
die klooster bly. Dis pragtig.
 |
Klooster en chora |
 |
Hoë mure |
 |
Uitsig |
 |
Klokke |
 |
Eetsaal |
 |
Frescos |
 |
Fresco |
Ons
word honger, maar hier is nie veel te koop nie. Ons koop toe maar gebak
by die bakkery en eet dit op 'n huis se stoeptrappies. Martie se
spinasie en feta happies is heerlik, maar ek en Elize se kaaspastei is
bietjie droog. Maar ons eet steeds heerlik, want ons is honger.
 |
In die chora |
 |
Middagete |
 |
Chora se straatjies |
Elize
dwaal in die straatjies rond en ek en Martie dwaal agterna. Groot is my
blydskap toe ons die windmeulens raak dwaal. Dis groot en mooi van
naby. Ek wou nogal vreeslik die goed van naderby sien.
 |
Windmeulens |
Toe is dit vinnig busstop toe om die 13:50 bus te klim terug huis toe. Die twee nuwe besoekers is nogal moeg. Ons kom rooigesig by Maja aan.
Die eerste skemerkelkie van die besoekers word gedrink. Die kaptein skink en dis yskoud en heerlik. Net wat mens nodig het na so 'n lang, heerlike dag.
 |
Skemerkelkies |