Friday, May 16, 2014

Lefkas. Skuilplek.

15 & 16 Mei 2014. Woensdag & Donderdag.

Die wind waai sonder ophou. Soms sterker, soms sterkste. Dis koud en onplesierig. Die vier vriendelike Skotse Britte langs ons (dis nou die wat
aan die ander bote vasgesit het) gee darem bietjie warmte aan die plek met hulle vrolike lag en gesels, met ons en ook onder mekaar.

Toe ons die moed kry om ons neuse buite Maja uit te steek, gaan ons Lidl toe. Dis 'n supermark wat baie ingevoerde goedere verkoop. En winskopies! Die gemors is net dat dit gewoonlik ver uit die dorp is. Met die rugsakke op ons rugge, sit ons toe af soontoe. Dis 2 km se stap. Maar dit is deur en deur die moeite werd. Ons koop Taramasalata teen 'n goeie prys. Dis 'n pienk slaaismeer wat met viseiers gemaak word. Maggies, dis lekker. Ek dink toe aan ons vriende, Christa en Nick, wat vreeslik daarvan hou. Ons stap die pad terug met ietwat swaarder rugsakke!

"Nee Archie, los!"

Met al die winskopies veilig in die kaste, durf ons die dorp aan. Die hele dorp is ook in die 1953 aardbewing vernietig en is herbou. Om elke hoek en draai loop ons in ons Britte vas. Dan is dit lag en skerts.

Archie en Lefkas Harley!
Straatkafee
Groentewinkel
Grieks-Ortodokse Kerk

Archie loop nooit by 'n bootwinkel verby sonder om in te gaan nie. Die skroewe en goetertjies trek hom soos 'n magneet. Dan koop hy silwer
goedjies met rooi steeltjies, en ander met blou agterkante, swart rubberige goedjies en áltyd skroewe. Hy kyk en snuffel en vroetel met alles in die winkel. Hy wys ewe opgewonde vir my ook van die goed en dan sê ek: "Ja, dit is mooi" of "Wat is dit?"

Ek hou van die toue wat hulle in die bootwinkels verkoop. Dikkes en dunnes en dit kom in allerande mooi kleure. Ek wil altyd net toue koop.
Archie hou ook van die toue, so dit kos selfbeheersing om mekaar nie op te sweep om te koop nie.

Ons dwaal af van die geroesmoes van die hoofstraat en loop in die stegies rond waar die gewone Lefkassers bly.

Wasdag
Huis in 'n stegie

Dit word koud en ons gaan terug Maja toe. Dan begin Archie om alles wat hy gekoop het, te installeer. Dis tools en bore en hy krap die hele boot om. As die ding dan in is, maak hy die huis weer netjies.

Die weer raak beter, maar Gus waai maar een stryk deur. Daar is geen seilbote wat in en uit die marina gaan nie. Almal is in hulle bote en wag op beter dae. Ek weet nou presies waar kom die gesegte, "Ek wag op beter dae" vandaan. Dit kom van seiljagte wat wag dat Gus moet gaan lê, sodat hulle weer op die see kan uitgaan.

Sunny Sailing se charter bote
Lefkas Marina

Gus waai die hele nag en vroegoggend (Donderdag) val daar 'n hengse bui reën.  Dinge lyk darem nou baie beter, veral as jy suid wil vaar, maar ons wil noord vaar. Daar is weer beweging op die water en sommige jagte pak die pad weer aan.

Ek is bly ons vaar nie vandag nie, want ek skuil te lekker!




4 comments:

  1. Hallo daar!

    Eks bly julle durf Gus aan en verken die dorp. Lyk die straatkafee nie te heerlik nie! Eks mal oor die straatjies en stegies waar die rerige mense bly. Laaina sal nogal vd Huis in die stegie foto n mooi lapverf skildery kan maak. Daardie Taramasalata sous lyk nes pienk roomys, maar ek kan dink dat dit lekker is.

    Archie se gekrap in die bootwinkel met al die goetertjies laat my dink aan die vrouens wat so krap in die kraletjiewinkels. En almal geniet hulle gate uit, Archie ook.

    Vir my lyk dit sommer net na n lekker 2 dae, wind en al.

    Enjoy!
    Liefde
    Elizexxxx

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hi Elize.
      Dit bly maar koud hier , veral as die wind waai. Ons durf maar altyd vir ou Gus aan. Ek hou mos van die dorp. Ons sal vir julle ook Taramasalata koop om op brood te sit. Dan kan jy proe.

      Marietjie

      Delete
  2. Hi Julle

    Dit lyk darm of julle oordentlik oorleef het, en die water lyk ook heel beter. Krieke, lyk my as jy alleen gelaat word op een van daardie plekke sal jy wragtig wortel skiet.
    Dis nogals erg, hulle het net begin asem haal na die oorlog, toe tref die aardbewing.
    Nou ja, dis darm lank terug.
    Archie, ek het 2 "extra extra hot" wat saam toer...OK?

    Groete
    Gerrie

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hi Magert
      Jou suster is net 'n sigeuner as die wind nie waai nie :-)
      Twee "XXHots" klink goed.
      Archie

      Delete