Friday, June 24, 2016

Skala Loutron. Lesvos Eiland.



24 Junie 2016. Vrydag.

Plomari tot Skala Loutron

Die wind draai in die nag … En in watter rigting? Hy waai nou vanuit die suide, reguit in die hawe. Nou staan sake so – Gus se rukwinde waai vanuit drie verskillende windrigtings en as hulle ons klaar geruk het, waai hy sieklik weer suid. Maja se anker is voor in die water en sy is vasgemaak met die twee vasmeertoue en twee ekstra “ springlines” aan die kaai. Nou word sy heen en weer geruk deur Gus en die golwe spoel by die hawe opening in en dan word ons heen en weer geslinger deur die golwe.

Natuurlik maak ek nie ’n oog toe nie en die kaptein? Slaap soos ’n flippen baba! Gus hou so teen 3:00 op waai en toe spoel daai golwe net groter in. Ek hou maar wag en kyk wat gebeur, dat ons nie teen die kaai vas gewaai word nie, want die anker is heeltyd onder spanning deur die wind en golwe. Iets na drie sluimer ek in en is weer 4:30 wakker.

Die Franse langs ons het genoeg gehad en vertrek en ek sê vir Archie ek bly nie vir nog ’n dag al hoppende hier nie. My hart is seer oor die Griekse aand wat ek gaan misloop en ons het nog nie eers die dorp verken nie.

Ons vertrek na Skala Loutron, 39°02.702 N, 26°31.688 O, 13.8 myl. Iewers het wind gewaai, want die deinings is groot. O, ek is moeg vir wind!

Die eiland is groen en baie mooi. Om omseil al die klippe in die see en kom by Golf van Yeras aan. Dis weer klippe en rotse en vlak water omseil en toe is ons by Skala Loutron. Daar staan drie ander bote op anker. Ons gooi en die anker byt goed. Ons moet reg wees vir die Fors 5 winde wat vanmiddag kom. En hulle het gekom!

Isidoro net oos van Plomari
Mooi berge en kranse
Omseil die klippe
Gevaarbaken
Skala Loutron

By die kaai staan ’n groot boot van YWAM – Youth with a mission. Hulle help met die Siriese vlugtelinge. Dis seker hulle af dag, want hulle baljaar op daai boot. Vrolike gelag klink in die baai op.

YWAM

Dis baie lekker op anker, want dit is beslis nou somer in Griekeland. So elke nou en dan koel ons in die see af.

Ons eet heerlike avokadopeer broodjies. Salig op die tong, soos engelpippie!

Heerlik


Plomari. Lesvos Eiland.



23 Junie 2016. Donderdag.

Mandraki tot Plomari
 
Ek lê nog in die bed met my koffie in my toe die kaptein se stem dringend sê: ”Ou vrou, ons moet gaan!” Vrydag lyk skielik erger en Saterdag, wat ’n stil dag sou wees, nog erger. Ons sal moet gaan.


Ons kry die boot inderhaas reg, trek toue in, anker op en uit die hawe na Plomari, 38°58.464 N, 26°22.161 O, 32.3 myl. Toe ons uit die hawe is, waai Gus dat dit klap, met rukwinde tot 29 knope. En dit van voor. Ek sê vir Archie ons moet teruggaan, maar dapper kaptein sê dat ons eers kyk hoe dit in die oop see lyk. Hy het mos hoeka gister gaan kyk hoe lyk die oop see en gesien dit lyk nie so erg vanuit die hoogte nie. Ons trek ons lewensbaadjies aan, want Maja se reëls sê met winde hoër as 20 knope, moet ons dit dra. Die deel tussen Chios en Oinoussa is bekend vir sy sterk winde. Gelukkig weet ek my suster Elize, is aan die bid.

Maja lig so aan die een kant op en dan sak sy weer as Gus se rukwind verby is. Ons vaar deur die windstraat, ek bedoel seestraat en die deinings in die oop see is groot. Nie so groot soos daai tyd met Elize en Annette nie, maar groot. Gus het bietjie bedaar en later word die see se deinings kleiner en Gus waai ligter, maar steeds op Maja se snoet. Ek sing nie, ek sit net en kyk vir daai golwe, een vir een.

So vaar ons myl vir myl, knoop vir knoop voort in die onbekende. Later kan ons die deinserige buitelyne van Lesvos sien. My hart is dankbaar. Oral in die geweste is kuspolisie wat die see patrolleer vir Siriese vlugtelinge. Een van hulle vaar reg op ons af en ek sit die radio gou aan vir ingeval hulle ons roep. Hulle roep nie, maar vaar naby ons verby en bespied ons met vêrkykers.

Die 32 myl gaan gouer verby as wat ons gedink het en ons nader Plomari. Ons gooi anker, Archie tru in en daar is niemand om te help nie. Ons bure by Mandraki het ons gewaarsku dat die kaai hoog is en Archie klim daai muur soos ’n rotsklimmer uit, maak die tou vas en gooi dit vir my. Toe is ons vas en ons gaan vir twee dae hier bly.

Plomari
Die hawe
Plomari
Kerk

Ons gaan dorp toe net om van Maja af te kom, want dit is snikheet en drink iets by ’n kafee onder ’n boom. Ons sal môre die dorp gaan ondersoek. Archie het my ook genooi vir Griekse kos, musiek en danse wat Vrydae aangebied word. En dis mos mos more Vrydag!

Gus waai hier baie deurmekaar. Van alle rigtings. Dan kom die windvlae van die noorde, dan van die weste en ook van die ooste. Die hawe is nie beskut teen die suide nie.

Die wind draai in die nag …