29 Julie 2014. Dinsdag.
![]() |
Akyarlar tot Gümüşluk |
Wat 'n naam vir 'n plek! Gümüşluk (37°03.262 N, 27°14.105 O), is 8.6 myl om te gaan. Ons verlaat 'n pragtige Akyarlar in die vroegoggendson.
Totsiens Akyarlar |
Die wind waai liggies en ons span die hoofseil en die genoa. Ons seil rustig totdat Gus ons in die steek laat en ons maar seile intrek en verder motor.
Oggendskoot - Vaagweg |
Maja onder vol seil |
Ansu in ligte luim |
Gümüşlük se kaai lê voor ons en 'n seiljag vertrek en daar is sowaar plek vir ons. Gumnuts, 'n seiljag wat ook by Ios en Amorgos was, is ook daar en ons word bure. Hulle anker lyk bietjie skeef, maar nou-ja. Ons gesels lekker met Martin en Shiree van Gumnuts. Hulle spog met hul nuwe seiljag en wys alles vir Gerrie en Ansu.
Martin, Gerrie en Ansu op Gumnuts |
Gümüşluk is 'n plek met atmosfeer, 'n gelukkige plek.
Een van Gümüşluk se talle restaurante |
Gumnuts besluit hy moet sy skewe anker weer gooi en maak toe so. Dis waar die moeilikheid begin...
Hulle vaar uit hul staanplek. Ons almal staan op die dek en 'n klein skare staan op die kaai en kyk hoe die vaardige en bekwame Martin sy anker optrek. Hulle trek en trek en ek verbeel my ons anker maak 'n roering.
Hulle sukkel, kry g'n niks op nie. Na 'n ewigheid kry hulle iets uit die water gehaal en dit was beslis nie die Bybelse Moses van ouds nie. Dis wraggies 'n anker bo-op sy anker! Ons anker! O, die pyngedagte. Die skare staan verstom.
Kyk waar is Maja se anker! |
Hulle gooi ons anker terug in die water en nou is Maja ewe lossies teen die kaai. Die ander buurman wat gebare taal praat, beduie ons moet Maja met 'n ekstra tou vasmaak. Ons maak so.
Gumnuts tru in, gooi anker en maak vas. Archie trek ons anker in met die hoop hy byt. Martin is nou dubbeld vies - vir ons, omdat ons oor sy anker gegooi het én meer nog vir homself, oor hy sy anker so windskeef gegooi het. Hy straf ons deur vir ons ander bure te gaan kuier.
Ons anker het toe glad nie gebyt nie en ons maak los, vaar uit en gooi ons anker weer. Toe weet ons dat ons veilig is.
In Turkye moet jy 'n swartwatertenk hê - dis 'n fênsie naam vir 'n septiese tenk. Archie en Gerrie moet dit opkoppel, want dit is die wet. Die swaers bring die hele middag in die toilet deur, met warm, natgeswete lywe. Na ure se gewerk, is hulle uiteindelik klaar en ons kan nou wetlik skyt in ons skuit.
Die swaers weer aan die werk |
Ons gaan loop op die ou muur van die dorp, waarvan die oorblyfsels onder water is. Gerrie se kamera gaan saam!
Pelgrimstog oor die ou muur |
Ons pelgrimstog |
Ansu en Gerrie kook hoender. Dit ruik so lekker, ons monde water.