28 Mei 2016. Saterdag.
![]() |
Vasilikos Baai tot Almyropotamus Baai. |
Hoppende het ons gaan slaap en minder
hoppende word ons wakker. Die kales slaap nog almal toe ons vertrek. Ons gaan
na Almyropotamus Baai, 38°16.803 N, 24°08.506 O, 24 myl. Ons sou eers na Stira
Eiland toe gegaan het, maar daar is nie
beskutting teen suidewind nie.
Rimpel dimpel diamant |
Gus waai en ons span die genoa en
seil vir 1h10min. Ons raak nou gekonfyt met die geseil.
Die kaptein hou van seil |
Toe gebeur iets snaaks. Ek vra vir
Archie of mens wind kan sien. Hy is mos ’n slim man wat alles weet. Hy sê nee.
Maar hoe dan nou? Ek het dan nou net vir Gus sien waai tussen die genoa en die
reling. Ek het die lugstroom gesien beweeg. Net vir ’n paar oomblikke, maar ek
het die wind gesien. Ek is ’n vrou wat dolfyne kan aanvoel, sirenes kan hoor sing
en nou het ek vir Gus gesien waai.
Tussen genoa en reling sien ek vir Gus |
Ek sit op Maja se dek en oordink die
gebeurtenis. Ek is altyd gewikkel in ’n stryd met Gus. ’n Stryd wat ek nie kan
wen nie. Hy beheer my emosies, hy ontneem die geniet van my. As hy lê, blom ek
en as hy opstaan verwelk ek. Miskien wil Gus met sy fluisterende blaasstem vir
my iets sê, maar ek luister nooit. Toe sien ek hom. Hy wil dalk hê ek moet
ophou om teen hom te baklei. Ophou om altyd in opstand teen hom te kom, hom
aanvaar en respekteer, miskien eendag selfs liefkry.
Eilande |
Ons vaar by die baai in. Maar Gus
waai uit volle bors. Ons gooi foutloos anker in die wind en hy byt dat dit
bars. Liefkry? Ek weet nie so mooi nie. Gus waai so dat niemand hulle kop by
die deur uitsteek nie. Ons anker is stewig, die baai het oraloor skuiling en
Maja is ons skuilplek.
Almyropotamus Baai |
Toe Gus gaan lê, raak alles rustig en pragtig. Ons beleef ’n stil aand.