Sunday, July 28, 2013

Wonderwerk. Dag 90


26 Julie 2013. Vrydag

U. Lemes tot Rogoznica


Vandag gaan ons Primosten toe. Ons gaan vasmeer op die dorpskaai. Ek gaan heerlik stort en hare was en blaas en in die dorp rondflenter, saam met 'n menigte ander mense. Ek verlang na mense. Al kan ek net vir hulle kyk!

Ons vertrek 09:00 en dis nóg 'n pragtige dag. 'n Dag van swem en sonneskyn én seil. Archie is in sy noppies, want ons seil vir 'n lang tyd. Ek is in my noppies, want Gus is net 'n ligte bries en ons seil net rustig.

"We are sailing .."
"... we are sailing"


Ons nader Primosten, met 'n wind wat al hoe sterker waai. Ek bekommer my al klaar oor vasmeer in die wind. Dit lyk goed, die dorpskaai lyk leeg.

Primosten, hier kom ons!

Voor ons kom 'n superjag by die kaai aan. Hy meer vas en gebruik twee plekke. Ons vaar nader. Daar is baie oop plekke, maar by almal staan "reserve". Die bote wat vasgemeer staan, is omtrent almal superjagte. Die man op die kaai wys hulle is vol. Die blêrrie superjagte. Hulle neem nou vir Primosten ook oor.

Ons anker toe. Maar ek is bemoerd. Die boek sê die baai kan ongemaklik wees as deinings in die baai inkom. En die deinings kom in. Ek wil nie heeltyd sit en op en af en heen en weer ruk nie. Ek wil stort en dorp toe. Ek braak gal by Archie en sê al wat superjag is, sleg. Archie luister maar geduldig en kry my jammer, want hy sê ek is só intens.

Hy vra wat wil ek doen. Ek sê: "Ek wil Primosten se kaai hê. Ek wil nie op anker sit en wieg nie, ek wil nie nou in die wind op die see wieg nie. Al wat ek wou hê, is die dorpskaai!" Minder intens en meer nugterdenkend as ek, besluit Archie ons gaan nog 4 myl verder (omtrent 'n uur se vaar) na Rogoznica (43º 31.585 N, 15º 58.137 O).

Ek is nog steeds moerig. Ons kom by hulle dorpskaai aan. Die vasmeerman wag met die tou. Die wind waai. Ek haak die tou met die boothaak. Ek gryp die tou, maar daai tou is so swaar, ek kry dit nie eers uit die water getrek nie. Hy gee 'n ander tou. Teen hierdie tyd, het Gus vir Archie totaal van koers af gewaai. Gelukkig is daar net een boot naby, waarheen Gus ons natuurlik waai.

Die man gee bevele, Gus waai, ons sukkel, totale konsternasie. Uiteindelik is ons vas, die man tevrede en ons uitasem.

Rogoznica is stil. Daar's nie baie bote in die kaai nie. Die strate is byna mensloos. Die plek het nie atmosfeer nie. In die verte is Marina Frapa, 'n peperduur ★★★★★ Marina. Ek verlang na Primosten!

See van maste by Marina Frapa


Toe gebeur dit. 'n Wonderwerk. Die seiljagte begin instroom. Ek weet nie waar kruip almal uit nie, maar die strate word propvol. Dis bootmense en gewone dorpsmense. Dit pomp (soos ons vriend Chris sou sê). Dit lewe en kry atmosfeer, beter as by Primosten.

Rogoznica kaai
Rogoznica kry lewe


Toe gebeur nog 'n wonderwerk. Ek sit langbeen op Maja en hoor die klank van 'n panfluit. Ek spits my ore. Ek ken daai deuntjie. Dis die Rooi Indiane wat in Italië in Florence op 'n plein gespeel het en my absoluut betower het. Ek verlaat Maja daar en dan en drafstap in die rigting van die meesleurende musiek. Dis wraggies hulle, vere en al. Ek luister en drafstap terug, gryp Archie se beursie en gaan koop 'n CD.

Geveerde Rooi Indiaan
Wonderwerk!


Ek betaal en hy gee kleingeld. Sy beursie lyk presies soos Arch s'n wat hy in Bolivië gekoop het. Ek wys vir die man na die beursie en sê: "Bolivië". Hy wys na sy beursie, kyk my in die oë, glimlag en sê: "Bolivië." Ek luister nog 'n ruk en stap dan tevrede terug na Maja. Ek hou baie van Rogoznica.

Ons stap rond. Oral is musiek by die eetplekke. Daar is die Harpoon Blues Band op die verhoog en die Rooi Indiane speel nog oorkant Maja. Ons kom by 'n regte egte vistrailer wat alle seediere verkoop. Die vrou het baie aantreklike kurwes wat uithang en veral onder die mans verkope bevorder. Ons koop prawns wat vars uit die see kom.

Vangs van die dag
Haal uit en wys!


Ons stap terug na Maja met die heerlike stink prawns. Ons drink eers 'n glasie wyn, maak die prawns gaar en eet op die dek, met agtergrondmusiek van die Rooi Indiane. Ek hou baie baie van Rogoznica.

"Life is great"

Ek kyk vir Archie en sê: "Life is great!"


Published with Blogger-droid v2.0.10

Dolfyndag. Dag 89


25 Julie 2013. Donderdag

Van U. Hiljaca tot U. Lemes


Nog 'n windstil spieël oggend. Ons laat U. Hiljaca, op Zut-eiland agter en vaar na U. Lemes, op Kaprije Eiland (43º 40.766 N, 15º 53.256 O), 23 myl.

Die Kornati-eilande lê in 'n bad vol blousel water aan die regter kant. Voor ons is nog blousel see en nog eilande aan ons linker kant. Dis net onse Maja  wat rustig, met haar statige kameelperdloop, die seemyle een vir een aflê.

Kornati Eiland
Blousel see


Ek sê vir Archie dit lyk vir my na dolfynwater. Ek kry mos 'n aanvoeling oor dolfyne. Nie lank daarna nie, bewys ek my aanvoeling as die werklikheid en die bekoorlike gediertes wys vir ons hulle gladde lywe. Daar is 'n hele klomp van hulle. Hulle duik hier en dan daar. Ek staan gereed met die kamera, maar hulle speel woer-woer met my. As ek die kamera in dié rigting hou, spring 'n ander een in daai rigting. Ek sien een baie naby aan Maja totaal en al sierlik uit die water duik (baie sierliker as Arch se duik). Te laat met die kamera!

Ons besluit toe maar om saam met ons see-vriende te swem. Dit was ongelooflik, om in 80 m diep blousel-blou water te swem en te weet dat nie te ver van ons af nie, swem die dolfyne. Ons kan sien hoe hulle uit die water duik en dan weer in die water verdwyn. Hulle swem al verder en verder van ons af weg...

Hoe blou is die water


Ek en Archie gaan sit op Maja se snoet om droog te bak, terwyl Maja haarself op "auto" bestuur. Ons hou darem 'n oog op die pad, maar niemand is in sig nie.

So by my kool, later sien ek nog dolfyne, maar hulle is verder weg. Ai, maar Archie se aftrede is lekker!

Gus steek liggies op, en ons span seile. Ons seil te heerlik vir omtrent 40 min. In 'n baai sien ons 'n seiljag met 'n SA-vlag. Ons vaar soontoe en Archie skree: "VRYSTAAAAAT!" Hulle kyk soos een man om. Ons groet en gesels. Hulle kom van Plet, Durban en Bloemfontein. Wie hulle is, weet ek nie, maar soos gewoonlik in seilers se lewe, kom die koebaai te gou.

Ons vaar verby interessante klipmure op die eilande en ons bespiegel waarom iemand soveel moeite sou doen om mure daar te bou. Ons kry nie 'n antwoord nie, maar ek is seker as ons vriend, Deon van Aliwal-Noord se wêreld, dié lees, sal hy uitvind en ons inlig.

Vreemde klipmure
Vreemde klipmure


Ons vaar om die punt van Kaprije Eiland na die ankerplek. Geen ankerplek nie, net restaurantboeie. Ons het geen keuse as om 'n boei te gryp nie. 

Uvala Lemes
U. Lemes met Matteo Restaurant


Archie klim in Dinkie en gaan kyk na die spyskaart. Dis gewoonlik peperduur, maar die pryse is billik en hy bespreek 'n tafel vir twee.

20:00 is ons gereed vir ons ete afspraak by Matteo. Ons roei kant toe in 'n papperige Dinkie. Ons klim op die rotse uit en moet as't ware rotsklim na die paadjie. Ons tafel is gereed met die naam Maja op die kaartjie.

Ons bestel. Ek besluit op die huis spesialiteit, lam en geroosterde groente. Die kelner praat onduideliker as Mr. Bean op die TV-reeks, hy antwoord iets. Hulle het "no peka". Wat beteken dit? Ek bestel toe maar kalf met groente. Hy mompel weer iets en sê: "No peka!". Toe bestel ek vis met groente. Hy mompel en beduie en sê baie ongeduldig: "No peka!!" Ek probeer mossels en hy skryf. Mossels het seker nie peka nodig nie. Archie bestel "meat grill".

Restaurant Matteo


Wel, ek moet sê, ek is honger huis toe en Archie sê dis van die smaakloosste restaurant kos wat hy nog geëet het. Restaurant Matteo is nie aan te beveel nie!



Published with Blogger-droid v2.0.10