Wednesday, June 17, 2015

Karacaören.



16 Junie 2015. Dierbare Dinsdag.

Gemiler Adasi tot Karcaören

Maja se bemanning is omtrent ’n lieftallige ou klompie. So dierbaar op hierdie Dinsdag. Hoop net ons kan die strylose, minsame en dierbare dae volhou. Die dierbare Dirk bring die tou terug in Dinkie, sonder om te stry. Ons kyk minsaam toe hoe die "lone ranger" Dinkie staande ry.

"Ride 'ím cowboy"


Ons gaan vandag op ’n besigtigingstoer op Maja na Ölü Deniz en Bottervlieg (Butterfly) Vallei. Hierdie deel van die Turkse kus het baie hoë berge.

Ölü Deniz is ’n baai wat soos ’n lagoon is en seiljagte en ander motorbote mag nie daar ingaan nie weens die gevaar van besoedeling. Ons vaar daar verby, maar ons kan niks van die baai sien nie. Wat ons wel sien, is die baie paragliders in die lug. Hulle kom so sweef-sweef af en land dan op ’n sandstrook. Die manne, veral Dirk is dadelik lus om dit te doen, maar die kaptein glimlag net. Die blou lug word verspatsel deur die stippels-skouspel van reghoekige valskerms wat hang-hang terugkeer na die aarde.

Ölü Deniz
"Paragliders"


Ons vaar verder, na Bottervlieg (Leon se naam) Vallei. Daar is veronderstel om baie skoenlappers te wees, maar ons sien net lieplappers op die ekskursiebote, waarvan daar oorgenoeg is. Ons gooi tydelik anker, dis nou ’n anker wat nie eintlik hoef te byt nie, want ons gaan net ’n rukkie daar vertoef. Die water lyk aanloklik en die manne laat die klere waai en swem. Darem nie al die klere nie!

Hierdie klowe en berge roep na my stappersiel en ek hunker honger om in daai berge te gaan stap. Om weer op die hoogtes te staan met die wêreld aan jou voete. Dit steel my hart en my voete jeuk en ek staar weemoedig na die hoogtes. Maar nou ja, ek sit reeds hier in my eie paradys wat omring is deur turkoois water, uitsigte en ondervindings wat die alledaagse by verre oortref. Ek lief Turkye!

"Butterfly Valley"


Ons vertrek en vaar na ons slaapplek vir die aand, Caracaören, 36°32.409 N, 29°03.176 O, 13,3 myl. Die restaurant het omtrent die hele baai vir hulle boeie opgeëis en ek is lus en sê ’n matrooswoord. Ons kry wel ’n plek om anker te gooi. Almal is weer op hulle poste. Toutrekkers, swemmers, ankergooiers en agteruit-ryers. Vas is ons. Later kom die groot gulet langs ons te naby aan ons, want hulle is net met een tou aan die land vas (hulle fout) en ou Archie verskuif ons toue. Toe is alles weer klopdisselboom.

Karacaören


Dis Leon en Dirk se laaste anker aand en ons klou aan die momente vas. Dit gaan te gou verby. Ons kyk na die mistige hoë berge, die pragtige turkoois water, die rotse, die klippe, Maja. Wat is voorreg.

Uitsig vanaf Maja


Soos die vreemde Kapenaar, wat ook in die baai geanker is en wat op sy staanboot by ons verby roei, met reg vir sê: "It is fantastic!"