Friday, July 29, 2016

Paloi. Nisyros Eiland.



27 Julie 2016. Woensdag.

Tot Nisyros
 
Ons vaar weg van ons slaapplek en na etlike ontduikings van sekere vaartuie, vind ons die pad na Nisyros Eiland en wel na die hawe van Paloi, 36°37.179 N, 27°10.269 O, 12.0 myl. Ons seil vir 1h35min en vaar ’n ryk en ons is oor die stuk see en die hawe van Poloi lê voor ons. Daar is baie plek vir ons en ons gooi anker, Archie tru en die besoekers is gereed om af te keer. Hier gaan ons bly vir twee dae.

Fanie vang vis
 
Ons hou ’n geheime stemming of ons twee bromponies of een motor moet huur. Uitslag – 3 stemme vir motor en 1 stem vir bromponie. Ek wonder wie het vir ’n bromponie gestem?!

Tradisioneel gaan kyk mens saans na die sonsondergang in Madraki. Wie is ons om te stry en daar trek ons in ons wit Nissan Micra. Mandraki is nog net so pragtig soos altyd. Elize verkyk haar aan alles.

Ons stap al langs die see en Mandraki lyk pragtig in die laatmiddagson met sy tone wat so raak-raak aan die brekende branders (brandertjies). Die kronkelende paadjie lei ons na die klippies strand en ons geniet die vaste aarde onder ons voete. Dis lekker om vir ’n slag na die see te kyk van die land se kant af. Die klippies klou aan die land vas, wil nie nou al weer in die see getrek word nie. 

Klippies strand
 
Volgende op ons lys is die “Virgin Mary of the Caves”. Ons stap op boontoe en besoek die klooster. Dit fassineer my as kerkmens geweldig baie en ek drink die atmosfeer in die klooster in. Elize geniet dit ook baie, meer as wat ek van Archie en Fanie kan sê. 

"Church of Virgin Mary of the Cave"
Klippie mosaïek
Uitsig van die kerk

Elize wil die dorpie doen en ek steek by ’n kerkdiens vas waar ek in die deur staan totdat ’n kerkganger vir my beduie ek moet sit. Ek geniet my eerste kerkdiens in Griekeland geweldig baie, maar moet ongelukkig loop voordat dit heeltemal klaar is, want die ander weet nie waar ek is nie.

Elize verwonder haar aan die stegies in Mandraki en die mans loop maar ewe geduldig saam met ons. Sulke liewe dierbare eggenote!

Straat kafee
Mandraki
Seefront kafee
Magiese Mandraki
Ek en Archie

Ons gaan sit in ’n straatkafee en drink skemerkelkie. Ek en Elize ruk hand-uit en drink ’n gin en tonic. Te heerlik. Ons sit suip nou behoorlik! Die son sak loom agter die berg en ons begin toe maar karretjie se kant toe staan. Wat ’n heerlike aand het ons beleef in die magiese Mandraki.

Ons sit suip
 
Archie bestuur uitstekend en onthou om aan die regterkant van die pad te ry.



Diepseeswem.



26 Julie 2016. Dinsdag.
 
Die klein motorboot langs ons vertrek vroeg. Maar o wee! Hulle kom nie weg nie, want ons anker is oor hul vreeslike skewe anker.Weer kom Redding Internasionaal tot hulle redding. Gelukkig weet Archie presies hoe om die tou te gebruik om die anker te laat vrykom. En daar trek hulle. 

Nog 'n redding
 
Ons anker is toe heeltemal los en ons moet inderhaas regmaak om te vertrek. En weg is ons.

Oggendskoot - Anderland
 
Elize het mos die begeerte om in water wat dieper as 200 m is, te spring. Wel, vandag is die dag! Ons gaan in water van 500 m vaar. Archie gee opdrag dat ons gereed moet maak toe ons by die plek kom.

Elize klim dapper op Maja se snoet. Jy moet maar jou balans hou, want sy wieg so effe. Sy retireer en sê ek moet liewers eerste spring. Ek klim en ek spring. Sy klim en dink: ”As my sussie dit kan doen, kan ek ook!” Archie tel en daar trek sy sierlik deur die lug en verdwyn onder die 500 m diep water.

Ek spring

Fanie duik

Ou Archie is totaal onkant betrap met die kamera, want hy het nie gedink sy gaan regtig spring nie. Toe spring ons maar weer. En Elize? Niks bang nie. Geniet dit vreeslik. So word ’n droom waar. Sy het in haar diep water gespring. Sy wou 200 m diepte hê, maar kry toe die bonus van 500 m. 


Elize se sprong

Bravo vir die brawe Elize!

Kos. Kos Eiland.



25 Julie 2016. Maandag.

Vathi, Pserimos tot Kos
 
Gus Gus, die alewige Gus. Altyd teenwoordig, altyd daar om my siel te versondig. Gelukkig is dit nou dag en hy is klaar met nagdiens. Die wind is nou bietjie stiller.

Anker op en ons vertrek op pad na Kos, 36°53.737 N, 27°17.371 O, 9.6 myl. Fanie is vreeslik lief om op Maja se snoet te sit en hy laat nie op hom wag nie. Hy sit voor en sien alles eerste. Die kaptein seil vir Maja en ek en Elize sit maar en klets. Ons seil vir 1h10min.

Oggendskoot - Onder seil
 
Ons gaan eers probeer om by Kos se hawe plek te kry. En wat ’n geluk, daar is baie plek. Die kaaiman blaas sy fluitjie en ons maak gereed. Elkeen weet wat om te doen. Ek gooi anker en Archie tru. Elize en Fanie hou die sake dop om af te keer as dit nodig is. Ons kom netjies in en ons is veilig vas.

Dit is meer as wat ons van die Hollandse seiljag, Bright Side kan sê. Hulle sukkel met ’n gekruisde anker. Soos gewoonlik kyk almal onbeskaamd.

Kyk onbeskaamd
 
Die kaptein wink vir Archie om te kom help. Redding Internasionaal (Archie en Fanie) klim in Dinkie en roei daarheen. Met ’n tou bevry hulle die gekruisde anker en die seiljag is vry om sy roete na wie weet waar voort te sit. Archie en Fanie is die helde van die oomblik.


Redding Internasionaal

Elize en Fanie gaan dadelik dorp toe. Elize is mos een van daardie toeriste wat die hele dorp moet “doen”. Sy kan trofeë wen vir haar vermoë om ’n dorp plat te loop en te verken.

Kos
 
Ek en Elize gaan die Kasteel van die Ridders. Dit het dubbel mure en ’n grag. Daar is ’n Middeleeuse muur wat deel van die antieke stad ommuur. Ou kleine Maja is vasgemeer net onder die muur van die kasteel.

Ons loop in die ouwêreldse kasteel rond en wonder oor die mense van lank gelede. Hoe hulle geleef het en hulself altyd teen die vyand moes verdedig. Daardie tyd was dit mos die in-ding om ’n stad te gaan verower. Ai, mans darem! Ons loer oral in en loop in die ondergrondse tonnels. 

Kasteel van die Ridders
Mure
Kasteel
Ondergrondse tonnel
Uitsig oor die hawe
Kanonkoeëls
Elize

Toe is ons klaar gekasteel en gaan terug na Maja waar Fanie heerlik ontspan. Hy moet rus, want hy gaan draf. Archie kom soos ’n pakesel met aankope wat hy by die Lidl gekoop het. Hy het die bus geklim, want die Lidl is 4 km van die hawe af.

Fanie gaan draf en toe hy terug is, stap ons Marina toe om te gaan stort. Dis omtrent ’n halfuur se stap tot daar, maar die beloning is ’n heerlike stort met baie water. Ons kom silwerskoon daaruit en ruik heerlik kosmeties na seep en shampoo.

Kos is ’n plesierige plek, want hulle hou partytjie en disko tot laataand. Fanie slaap op die dek, maar hy kan glad nie slaap nie. Die dronkies val in die kanaal, meisies wat nie op hulle voete kan bly nie, word gedra. Die “beauty queens” van die motorboot langsaan gesels tot 3:00 en hou vir Elize uit die slaap.

Maar ons het dit geniet in Kos.