Saturday, June 18, 2016

Lithi. Chios Eiland.


18 Junie 2016. Saterdag.

Roete tot op datum
Psara tot Lithi

My suster Elize sê sy hoop ons het soos klippe geslaap. Nie eers amper nie. Ek staan knorrig op na die slapelose nag. Vanoggend, so ewe skynheilig, waai Gus glad nie. Ons maak al die toue en ekstra toue los, ek skuif agter die helm in en Archie trek die anker op. Hy het behoorlik gebyt, die katrol steun en kreun om dit los te kry.

Ons vertrek na Lithi, 38°20.578 N, 23°59.429 O, 24.2 myl. Archie is jukkerig, hy is lus vir seil. In die oop stuk see waai Gus en Archie span die seile. Ek het nie die energie of lus vir ’n geseilery of ’n geskuinlê nie. Ek is verdomp te moeg. Na ’n paar rukwinde trek ons dit in. Die bedagsame kaptein kan sien sy vrou is nie lekker nie. Toe die wind effens draai, span ons weer en ons seil rustig vir 2h30min.

Tot siens Psara

Lithi is aan die wilde woesste westekant van Chios Eiland. Hierdie kus is bekend vir groot see en deinings as die meltimi waai. Dis ’n eenvoudige vissersdorpie met ’n baie beskutte hawe en ’n paar plekke vir jagte. Ons maak langs die kaai vas en ek gaan slaap dadelik.

Vissershawe
Lithi
 
Ons stap nie eers na die dorp in die heuwels toe nie. Inteendeel, ek het nie voet aan wal gesit nie. Vandag is ’n totale rusdag.

Psara. Psara Eiland.


17 Junie 2016. Vrydag.

Glyfada tot Psara

Vandag is die dag van die 48 myl kruising. Ons is besig om stadig maar seker Turkye te bekruip waar ons vir Deon, van Aliwal-Noord se wêreld, en sy vrou Ryna, gaan ontmoet.

Ons is op voor die son sy kop uitsteek. En vertrek ook voor die son sy kop uitsteek (5:45). Dis al wanneer ek die son sien opkom. 

Die son kom op
 
Anderkant die groot see lê Psara, 38°32.390 N, 25°33.840 O, 48.4 myl. Ons kan die eiland nie eers voor ons sien nie, so vêr lê dit in die verskiet. “The road is long …”

Gus is stil en die see is plat. Hier is ietwat van ’n stroom waarteen ons vaar en ons spoed is nie wat dit moet wees nie. Archie looi daai motor en myl vir myl kom ons nader. Later kan ons die vae buitelyne van ’n eiland sien.

Heelwat later steek Gus sy kop uit en ons span seil. Hy waai liggies en ons motorseil vir vier ure. Ons seil en seil en seil en vaar en vaar en vaar.’n Klomp dolfyne kom groet en swem ’n ruk saam met Maja toe verdwyn hulle weer. 

Dolfyne groet

Die eiland van Psara kom nader. Vir 35 minute seil Maja op haar eie en toe is  dit seile af en regmaak vir vasmeer in die hawe. Gus waai dat dit bars en gelukkig kom Nick, die taverna eienaar, om ons te help. Die wind waai ons herwaarts en derwaarts. Archie gee die gooi-opdrag, ek gooi die anker en hy tru in. Nick vang die toue en ons is vas. Ons slaak ’n sug van verligting. Ons sou baie gesukkel het om alleen op ons eie in die wind vas te meer. 

Ons is moeg, maar tevrede. Ons het 48 myl geseil, nege ure op die water. Die kruising is gedoen!

So met moeë lywe gaan stap ons. Psara is eintlik ’n eiland tussen niks en nêrens. Hulle kry nie toeriste nie, behalwe die arme drommels soos ons wat die kruising doen. Hulle het egter baie moeite gedoen met die dorpie. Daar is paadjies uitgelê en selfs ’n kaart is beskikbaar.

Ons stap boontoe en kyk na ’n kerk op die heuwel. Daar is ook ’n standbeeld of gedenknaald van iets, maar dis Grieks vir ons. Aan die eenkant lê die hawe en dorpie en aan die ander kant ’n groot kerk wat soos ’n klooster lyk.

Archie en gedenknaald
Hawe en dorp
Kerk op die rots
 

Ons gaan drink yskoue wyn by Nick se taverna omdat hy ons so mooi gehelp het en eet geniet ons aandete op Maja. My suster Elize, van Potjiestroom se wêreld, het gesê ons moet vroeg gaan inkruip en 21:20, voordat dit donker is, maak ons so. Ons gaan daai bed seermaak!

Nick se taverna met Maja in die agtergrond
 
Maar helaas! Gus begin met sy rukwinde en peper ons daarmee. Ek staan op om sake te bekyk. Gus waai van skuins voor en waai Maja se agterent teen die kaai vas. Ons het reeds twee ekstra “springlines” wat veronderstel is om ons in posisie te hou, maar Gus se vernynige windvlae is te hewig. Maja se toue klappertand teen die aanslae.

Die kaptein trek toe die stuurboord kant se tou styf dat ons agterkant tee die kaai is met twee groot balfenders om haar te beskerm. Toe draai sy nie meer die en daai toe nie. Die anker is snaarstyf en as die wind haar gooi, sit dit baie stremming op die anker en die gevaar is dat die anker kan loskom. Dan is sorge legio! Ek en die kaptein lê toe maar op die dek en hou se tussen insluimerings die sake dop.

Ons is so vrekmoeg en nou kan ons nie slaap nie. Archie gaan slaap 02:00 en ek lê toe maar verder op die dek. Baie later sluimer ek in.

Ns. Die groot Griekse Gidsboek sê iemand moet hier altyd in die nag die sake dophou, so ons geval is nie uniek nie.