24 Junie 2015. Woensdag.
Vandag is ’n stapdag. Ons gaan
die Lycian Way na Kale Köy, aan dıe anderkant van dıe baaı, aandurf.
Gestewel en gespoor begin ek en Archie die staptog.
Direk oos van Ürçağiz is antieke
Teimiussa. Daar is nie veel van die antieke stad oor nie, maar oral is
graftombes, wat uit rots gekap is, sigbaar. Daar is ook mooi uitsigte oor twee
van die drie monde of ingange tot Kekova. Ek gebruik my stapstokke om die
spinnerakke in die oorgroeide paadjies te verwyder.
 |
Graftombe by Teimiussa |
 |
Teimiussa |
 |
Ölu Deniz (voor) met Kekova Baai (agter) |
Ons stap vêrder in die bloedige
oggend hitte na Kale Köy. Die kasteel is bo teen die kop duidelik teen die blou
lug sigbaar. Ons stap verby nog grafte wat op sigself kunswerke is wat uit die
rots gekap is. ’n Groot olyfboom staan sterk en trots by ’n graf. Die kontras
van lewe van die ou olyf en dood van iemand jare der jare gelede kom maak nes
in my siel. Die lewe is eintlik so kort. En tog ook so lank...
 |
Olyfboom en graf |
Ek stap saam met drie jonge dames
in die kasteel rond. Die strukture van die ou gebou is afgeëts teen die lug en
die see. Die teater se sitplekke is uit die klip gekap. Bo gekom, sien jy
lekker vêr. Daar onder is die dorpie en die antieke stad wat onder die water lê.
Aan die westekant lê die dorpsmarina van Ürçağiz waar Maja is.
 |
Kasteelmuur |
 |
Kasteel |
 |
Uitsig deur skietgat |
 |
Emma (van Nieu Zealand) en ek |
 |
Uitsig op twee van die baai se ingange (agter) |
 |
Uitsig oor Ürçağiz |
Ek begin weer ondertoe te stap,
waar Archie vir my sit en wag. Hy is mos nie so lief vir ruïnes nie. Ek en hy
stap toe af af af see se kant toe om die onderwater stad te bekyk. Jy kan niks
sien nie, want dit is mos onder die water! Ons sien wel een van die graftombes
wat in die water staan.
 |
Onderwater stad met graftombe |
Kale Köy het ’n ouwêreldse bekoring
wat in my hart kom klim. Daar is ’n hele klomp restaurante waar al wat
hongerige sit en eet.
Ons gaan drink vars uitgedrukte
lemoensap by ’n klein drinkplekkie. En rus sommer ook ’n bietjie voor ons die
terugtog in die bloedige son aandurf.
Langs die pad groei daar seebone
en ek pluk vir ons. Vanaand eet vars-vars opbrengs van die seemoeras. Moeg,
warm en gelukkig kom ons by Maja waar sy geduldig in die dorpsmarina op ons wag.