Friday, September 21, 2018

Busrit na Georgië.

18 tot 20 September 2018. Dinsdag tot Donderdag.

Maja is veilig op haar stelte en reg vir haar winterslaap. Ian kom groet en ons gaan sê gou vir die Koekemoers koebaai. Ons is gepak en stiptelik 19:30 daag die taxi op om ons otogar toe te vat. Ek "pat pat" Maja liggies op haar pens en weg is ons.
Koebaai Koekemoers
Ons klim 20:30 ons eerste bus na Ankara en ry dwarsdeur die nag. Ons kom 7:30 daar aan, moeg en styf. Wag vir twee ure vir die volgende bus wat 9:30 na Tbilisi vertrek. En ons ry. En ons ry en ry en ry. Dit word aand en ons ry nog steeds. Gelukkig stop die bus darem elke nou en dag vir bene rek, toilet en kos. En nog om by elke busstasie nog mense op te laat. 

Dit word nag en ons ry sonder ophou. 2:45 kom ons by die grenspos aan en moet die hele bus ontruim. Sak en pak stap ons die laaaang pad van die Turkse grenspos na grenspos van Georgië. Ons word ingestempel en toe begin die groot wag vir die bus om deur die doeane te kom.

Ons wag vir twee ure toe kom sê die buspersoneel daar is iets fout, ons sal nog moet wag. Nou wat die probleem was, weet ons nie eintlik nie, want daai mense praat gladnie Engels nie. 'n Meisie van Georgië wat bietjie Engels kan praat, probeer vir ons verduidelik wat die probleem is, maar ons verstaan nie wat sy probeer sê nie.
Nou wag ons. Sommer in die straat met al ons bagasie. Dis nag en word koud. Een van die jong meisies kry vir ons 'n trollie om op te sit. Nou het ons blokkiesboude. Dit word kouer. Dan kry jy 'n nood en moet 'n piepie in 'n stink hurktoilet gaan koop. Ek gril my dood en wil opgooi. Met konsentrasie onderdruk ek die naarheid. Almal is erg moedeloos. Wel, 5:15 daag ons bus uiteindelik op en ons klim. En toe ry ons verder asof niks gebeur het nie. Die buspersoneel sprak g'n sprook. Maar daai mense op daai bus is moeg en moedeloos en moerig.
Ons wag en wag …

Op 'n stadium is daar pandemonium agterin die bus. Dis toe jong knape wat mekaar wil gryp (dis seker die wat moerig was). Almal rek hulle nekke "om beter te kan sien, my kind". Hulle word uitmekaar gemaak deur die omstanders en die buswaardin en toe ry ons weer verder. Ons kom toe 12:00 (ons het Dinsdagaand vertrek en dis nou al Donderdagmiddag) in Tbilisi aan. Sowat van busry het ek nog nooit ondervind nie. Dankie tog ons is veilig hier.
Nou soek ons 'n taxi. Die bestuurder weet nie waar is die woonplek nie. Nou staan al die ander taxibestuurders nader. Daar is blykbaar twee strate met dieselfde naam. Archie het sy selfoon met die aanwysings en hulle kyk en bespreek. Klink vir my na 'n klomp speeus op 'n telefoondraad.  Uiteindelik het hulle konsensus bereik oor waar die plek is en ons klim. En daar trek ons en wonder bo wonder kom ons by ons woonplek.
Archie stap gou af om te sien waar die woonplek presies is. Hy en die landlord  kom en hy gryp my sakke en daar trek ons. Nadat ons ingeburger is, gaan wys hy vir Archie waar die  hy geld kan wissel, die supermark, die metro en gaan koop sommer saam met Archie kruideniersware en help dit terug dra. En dis baie vêr af. Toe bring hy vir ons druiwe uit sy tuin (met 'n spinnekoprak of wat). 'n Baie gawe man.

Nou lê ek eers met my voete in die lug, want my enkels is geswel.