11 Julie 2014. Vrydag.
![]() |
Mykonos tot Naousa Baai |
Ons is alweer oppad. Ons is altyd oppad. Ons laat altyd plekke agter en soek na nuwe plekke. Ons swerf, waarheen, waarna?
Vandag vaar ons na Naousa Baai op Paros Eiland (37° 08.662 N, 25° 13.670 O), 21.4 myl. Meltemi waai teen Maja se snoet vas. Net liggies en ons vaar die hele pad.
Ligtoring by Naousa Baai |
Ons sien een enkele eensame dolfyn en fynkam die waters vir nog, maar niks. Ons vaar maar net, vorentoe na ons volgende bestemming. Ons nader Paros en vaar in die groot baai. Daar is baie ankerplek en na ek en Archie se gestry oor waar die beste plek is, gooi ons die anker en ons is vas.
Daar is nog baie plek |
Naousa Baai |
Dis warm, die water lok ons in en ons swem in die helder blou-groen. Die aand daal neer oor die baai. Dis amper volmaan en die wit ronde bal hang in die lug.
My hartjie, my liefie, die son sak weg ... |
My hartjie, my liefie, die maan kom op ... |
Meltemi begin later te waai en die vreedsaamheid van die baai verander in 'n geraas. Ons stel die "ankersleep-alarm" en toe voel ek gerus en gaan slaap. Die alarm sal lui as die anker begin sleep.
Die geruk en gepluk en geraas van Meltemi maak my 01:10 wakker en slaap is vir die res van die nag nie vir my beskore nie. Later word Elize wakker en hou saam nagwaak. Ons is my ma se dogters van die donker. Skielik begin die ankersleep-alarm skreeuend te lui en almal is grootoog wakker. Archie kyk en die anker lyk nog goed. Maja se posisie was net vir 'n oomblik buite die toegelate beweegsirkel.
Almal gaan slaap toe weer behalwe ek. Al die geluide van die wind hou my wakker, al weet ek die anker is veilig.
Die volgende dag voel ek soos 'n uitgewasde lap.