Saturday, May 7, 2016

Panormou Baai.



7 Mei 2016. Saterdag.

Patra tot Panormou Baai

Ek kan vanaand glad nie konsentreer op die blog skryf nie. Ons het vandag so vreeslik heerlik gevaar, 29.6 myl. Heerlike stil see. Baie verder gevaar as wat ons beplan het. En nou dit! Die blerrie Gus en sy maters speel wegkruipertjie met Maja en haar mense. Hulle jaag mekaar van anderkant die berg, hardloop berg-af, oor Maja en laat al haar toue klap en sy tol in die rondte, dan is hulle weer skoonveld. Dan net sodra ek my weer verlustig in die windstil stilte, kom hulle weer en die weer dieselfde ding oor. Dit raas en tol en weg is hulle weer. Wat het ek nou gedoen om dit te verdien? A, nou is dit weer salige stilte! Daar kom hulle weer!
***
Teen 08:30 is al die toue losgemaak, die motor prrr, alles is reg en Benito groet en waai en daar trek ons op ons 2016-avontuur. Ons vaar uit die beskerming van die marina en pak die see aan. Dis stil en rustig met die vier skimme van die Rio Andirrion Brug voor ons. Ons vra die nodige toestemming om onderdeur die brug te vaar en Patra verdwyn al hoe vêrder in die agtergrond. Word deel van die verlede. Van verlede jaar se hede.
Rio Andirrion Brug

Ons wil vandag na Trizonia gaan, 20,4 myl. Dis waar ons verlede jaar vir vier heerlike dae gebly het. Die eiland kom bekend nader. Ons vaar so lekker, dat ons daar en dan besluit ons wil vêrder gaan. Maja verander van koers. Ons is bietjie haastig om by die Saronic See te kom.


Trizonia Eiland

Ons bekyk die opsies by Eratini, maar alhoewel dit ’n oulike dorpie is, is die ankerplek te diep tot te naby die strand. Ons besluit om nie daar te anker nie en vaar verder. Panormou Baai, 38°21.495 N, 22°14.653 O, 29.6 myl, is net om die hoek en dit is ons voorland. Dis bekende terrein die, want ons het al twee keer hier geanker.
Eratini se berge
Eratini

Dis ’n salige stil anker en ek geniet dit terdeë. Langbeen op die dek met ’n koppie lekker warm koffie. Dis koud hier, want daar is nog sneeu in die berge. Toe begin Gus met sy streke, waai nie regtig sterk nie, maar net sterk genoeg om my te irriteer. Verstoor my rus. Beproef my. Tot hy moeg word en gaan lê. 
Sneeu op die berge

Welkom in Griekeland!

Patras Marina. Amper gereed.





6 Mei 2016. Vrydag.



Archie skarrel rond. Dan peuter hy hier en dan daar. Dan stap hy met groot spoed dorp toe, koop ’n ding en kom terug en installeer dit. Dan is dit die kajuitligte, die “voltage sensitive relay” (g’n mens weet wat dit is nie!). Die vlae moet gehys word, die toue moet weer op hulle plekke teruggesit word. Dan is hy weer doenig in die enjin. Dié kaptein se werk is nooit klaar nie.
Kaptein se werk is nooit klaar nie



Uiteindelik is alles klopdisselboom en ons is gereed om môre te vertrek. Ons kyk vir oulaas hoe die son al die wolke aanraak, verkleur en dan in die see verdwyn.
Maja is gereed
Die son verdwyn