Thursday, May 24, 2018

Petalidhion

24 Mei 2018. Donderdag.

Koroni tot Petalidhion

Ons wou vanoggend dorp toe om Koroni te gaan verken, maar toe waai Gus so dat ons nie lus is om in Dinkie te klim en land toe te roei nie. Die kaptein bak die eerste pannekoek van die seisoen en dis heerlik.

Pannekoek bak


Toe net anker op en ons vertrek sonder om by Koroni voet aan wal te sit na Petalidhrion, 10.5 myl. Ons motorseil 'n ruk, want Gus waai maar floutjies. Die kaptein hou hom besig met verstellings op die genoa. Ek weet nie eintlik wat hy doen nie. Dis kapteinsdinge.

Werk aan genoa

Die baai is mooi, maar die dorp is maar lelik. Ons gooi anker en hy byt dat dit bars. Gus waai vanuit die suide, maar toe draai hy en waai vanuit die noord-weste. Die swerkater waai tot 25 knope. Hy hardloop van die berg se kant af en spring in die see. Ons word omtrent hot en haar gewaai. Al wat 'n tou aan Maja is, tril en jil soos Gus waai.

Petalidhion vissershawe ingang

Later kom nog 'n jag in en hy kry die laaste stuk van sy genoa nie ingetrek nie. Die arme vrou gooi  maar anker so rondom die wapperende seil. En Gus waai verwoed verder. Hulle maak toe die laaste stuk seil met toue vas dat dit nie so moet waai nie.

Sukkel met genoa

Gus bedaar bietjie na vyf ure se erge gewaai, maar lê gaan hy nie vanaand nie. 

Dis eintlik mooi met die groot berge daar oorkant by Kalamata se wêreld. Ons sien dit eers toe ons dit kan waag om op die dek te sit vir aandete. Ek sal hierdie plek onthou as 'n windbaai.

Verre berge

Koroni

23 Mei 2018. Woensdag.

Methoni tot Koroni

Vroeg uit die vere en ons vat die pad. Poseidon het geel winde (Beaufort skaal 5 en 6) voorspel vir 9:00. Dis so tussen 20 tot 25 knope. Nou dié briesie waai reg van voor en die golwe en deinings word iewers in Afrika vervaardig. So teen die tyd dat hulle hier aangerol kom, is hulle al taamlik groterig.
 
Ons gaan na Koroni, 19.1 myl. Ons vaar uit die baai met Gus reeds al waaiende op Maja se snoet. Darem nie te erg nie. Hoe later hoe kwater, en ons spoed verminder, soos wat Gus sterker begin waai. Ons vaar amper drie ure aan 8 myl. Maja en haar kaptein vaar vorentoe, deining vir deining altyd vorentoe. 

Die Peloponnisos het drie vingers waarom jy moet vaar om by die Saronic See uit te kom. Ons moet vir Elize en Fanie by Monemvasia ontmoet. Vandag is dit die eerste vinger, Kaap Akritas. Gus waai tussen 15 en 25 knope van voor. Ons beur vorentoe. Baie stadig kom ons kaap nader en ons vaar tussen hom en die eiland verby. 

Kaap Akritas

Toe waai Gus ligter, maar daai golwe kom van die kant af en rol ons die kant toe en daai kant toe. Dis nogal vermoeiend.

Al hoe rollende

Om die draai sien ons die mure van Koroni se kasteel. Die dorpie staan trots langs die mure. Die boek sê mens moet die anker versigtig gooi, want hier is verskuilde rotse. Ek gooi 'n sandkol sekuur raak en die anker byt. Archie toets dit en ek ruik lont. Die Kaptein gaan kyk met die snorkel en sien ons ankerketting lê so tussen die rotse. Hy trek dit versigtig op en elke nou en dan sit die ketting aan die rots vas. Vaar bietjie vorentoe en bietjie agtertoe ry, bietjie trek en bietjie los en uiteindelik is die anker op. Wat 'n verligting! Ek wil nie eers dink wat sou gebeur het as ons anker aan 'n rots vasgehaak het nie. Altyd dankbaar vir klein genades!

Kasteel en dorpie
Koroni se waterfront
Dorp en kerk

Ons soek 'n ander, minder rotsagtige, plek en gooi toe suksesvol anker. Toe is ons vas en ek is moeg en verlang toe vreeslik na my ma.

Die dorpie is mooi en ons anker heerlik aan die voet van Koroni en sy kasteel.