13
Mei 2018. Sondag.
 |
Efimia tot Ayios Andreas |
Ons maak gereed om te vertrek. Elkeen kry sy opdrag en ons
verlaat die dorpie, Efimia, wat ons vreeslik geniet het.
Ons vaar na Ayios Andreas, 6.6 myl. Ons gaan daar anker met
'n lang tou na die land. Ons eerste vir die seisoen. En natuurlik 'n eerste vir
Sullivan. Ons vaar by die baai in en daar is reeds 'n boot. Ons geliefde
plekkie is egter steeds oop en ons vaar dadelik soontoe.
Archie tru, ek gooi die anker en toe is dit sukke tyd.
Archie duik met sy sierlike boog om die tou land toe te swem. Hy snuffel 'n
goeie klip uit en maak vas. Terug Maja toe, vat die ander tou en swem weer land
toe. Maak vas aan 'n rots. Sullivan trek die toue in en maak vas. Toe staan
Maja netjies vasgemaak in die baai.
 |
Maak reg |
 |
Trek toue |
Dis pragtig hier. Die water is kristalhelder verleidelik
turkoois-blou. Ek swem heerlik.
Dinkie neem ons na die land en ons stap op die rowwe
stappaadjie na nêrens. Draai maar weer om. Maja voel tuis in die pragtige baai
en ons kry bure. Die Engelse van die seiljag Wanderer, is baie edel van inbors.
Hulle tel al die rommel op die strand op en gooi dit in sakke. "Goed
gedoen julle!"
 |
Ayios Andreas Baai |
 |
Ayios Andreas Baai |
Dinkie neem ons terug Maja toe en dis tyd vir die groot spring van Maja se snoet af. Ons al drie willig in om die groot sprong te neem. Archie hef die hande na bo, ek val na benede en Sullivan spring met vliënde vaandels! Sowat van pret!
 |
Archie spring … |
 |
… ek spring … |
 |
… maar Sullivan vlieg |
Terug by Maja, besluit ons dit is braai-aand. Die makkers
soek 'n geskikte plek op die rotse en die braaibenodigdhede word toulangs met
Dinkie rots toe vervoer.
 |
Toulangs |
 |
Braaiers |
Alles is gereed en die vuur word aangesteek. Ons braai in
ons Bushy braai (ons buurman, Bushy, het in 2013 die braai vir ons as 'n
geskenk van Suid-Afrika af gebring). "Yamas Bushy en Grietjie!"
 |
Bushy se braai |
 |
"Yamas Bushy en Grietjie" |
Ai, maar die ankers is betowerend. Die brandende
braaibrikette, Griekse wyn, twee ou vriende op die rotse. Toe die vuur reg is,
sit die makkers die souvlakia op die
kole. Archie versorg drie souvlakies en Sullivan die ander drie. Daar is 'n
samehorigheid tussen die twee makkers. Die jare tussenin het weggeval en
hulle sit doodeenvoudig hulle vriendskap voort asof niks verander het nie. En
ek is maar net die Seilende Sigeuner.
Ons geniet die kameraderie, die eenvoud, die vriendskap. Die wonder van aand-word speel voor ons oë af. Dis 'n verandering wat altyd dieselfde en tog so anders is. Laat dit so wees ...