13Junie 2017. Dinsdag.
Wat ’n nag! Die boek sê dat ’n landbries die Meltemi
versterk en van ’n noordewind na ’n oostelike wind verander. Dit kan sterk
waai, tot fors 6- 7. Wel, weereens jok hy nie. Teen 20:00 begin Gus te waai en
hy ruk hom op tot 25 knope. Eers baie laat in die nag, versag Gus se hart en
waai bietjie flouer, maar hou nooit op tot die volgende oggend nie. Dan is hy skielik
skoonveld.
Wel, dit is toe ook so. Die môre breek aan en Gus
is skoonveld. Die see lê stil en stemmig in die baai, net soos ek daarvan hou.
So teen 10:00 klim ek en Archie in Dinkie en vat die langpad na die Wit See.
Dit word so genoem omdat die sand onder die vlak water baie wit is. Die groot
see se golfies spoel in en ons ry al hoppende soontoe. Die golwe spat op my en
ek word ’n ouvrou met ’n nat broek.
Die kleure van die water is pragtig. Verskillende
kleure van blou en turkoois, met bruin kolle seegras. Pragtig. Ons stop langs
die klein strandjie, klim uit, loop langs die see en drink die kleure in. Archie
maak tot sy voete nat.
Trek skoene aan |
Loop langs die see |
Kleure |
Wit See |
Toe is dit die terugtog en Archie se boude word
baie nat. Nou is hy ’n ouman met ’n nat broek. Maja staan pragtig en alleen in
die baai.
Maja |
Ons kry ook die nuus dat daar, gister, 12 Junie,
om 15:30 (Turkse tyd) ’n aardbewing naby Lesbos Eiland was, 6.3 op die
rigterskaal. Ons was 40 km daarvandaan. Ek moet sê ek het na die groot see se
kant toe geloer om te sien of daar nie ’n tsunami golf aangerol kom nie. Archie
het my egter verseker dat as daar ’n golf was, sou hy ons lankal getref het.
Toe voel ek meer gerus.
Dis ’n heerlike windstil dag in die baai. Tot
20:00 en daar begin Gus toe weer met sy nonsens! Vertoorn my siel met sy geloei
in my ore. Gelukkig nie met dieselfde fors as gisteraand nie.