8 September 2016. Donderdag.
![]() |
Uçagiz tot Karaloz |
Archie
gaan gou die oggend voor ons vertrek dorp toe. Hy roei met Dinkie soontoe, maar
toe hy terugkom, is hy so bietjie haastiger en die roeiery is te stadig na sy
smaak. Toe gee hy vet en die motortjie dreun.
Roei |
Gee vet |
Ek groet my sarkofae. Ons gaan vandag na ’n nuwe plek waar ons nog nie tevore was nie. Die ander aand toe ons so lekker geëet het saam met ons nuwe vriende, het die ander Engelse van die tafel langsaan gesê hoe mooi is Karaloz baai, by Kekova Adasi. Dis aan die suid-westelike kant van Kekova Roads en net 6 myl.
Ons vaar rustig en stadig daarheen.
Die boek sê die ingang is nie baie goed sigbaar nie en jy moet uitkyk vir ’n grot.
Ons kyk toe uit vir ’n grot en sien dit en siedaar! Daar is die ingang. Daar is
twee inhamme waar jy kan anker en dan met ’n lang tou aan die rotse op die land
vasmaak.
Ons vaar |
Grot by ingang |
In die een inham is daar reeds ’n jag en ons gaan na die ander een. Daar is net plek vir een jag om daar te anker en die geluk is aan ons kant. Ons anker en Rambo swem land toe met al sy kettings en toue. Hy het die kuns om altyd die beste rotse en gate uit te snuffel om die toue aan vas te maak. En vas is ons.
Rambo |
Karaloz |
Daar kom ’n hele paar gulets en ekskursie bote ingevaar, maar hulle maak daar vêr vas en pla ons nie. Hulle almal ry later, ook die seiljag en ons is stoksielalleen by Kekova Adasi. Daar is geen mens naby nie. Die enigste bewys van nog lewe op die ganse aarde, is twee bokke wat daar rondloop.
Alleen op anker |
Dis doodstil. Ons hoor net hoe die water saggies teen die rotse klots. Die berge rondom ons vervaag tot dowwe donker reuse wat oor ons waak. ’n Sekelmaan hang speels in die lug en verdwyn onnutsig agter die berg. Dis net ons, die uitspansel en die donker.
Dit betower my en ek word intens
bewus van die natuur. Ons word en is natuur.