Friday, September 11, 2015

Galaxidi.



10 September 2015. Donderdag.

Itea tot Galaxidi



Galaxidi , 38°22.600 N, 22°23.265 O, 4 myl, is ’n besonderse, romantiese dorp. Hierdie dorpie het ’n 4 000 jaar ou geskiedenis. Dit was toenertyd ’n belangrike vlootdorp. In die 18de en 19de eeu was dit ’n baie vooruitstrewende Griekse hawe, totdat die Turke die gebied oorgeneem het en beslag op die vloot gelê het. Hier is ook ’n klomp films, TV-reekse en dokumentêre programme geskiet. “The Beekeeper” deur die bekende Theodoros Angelopoulos, is hier verfilm.

Archie vaar deur al die eilandjies en vermy die vlak water en toe is ons daar. Ons kry ’n plek langs die kaai en die boek sê gooi baie ankerketting uit. Ons maak toe net so, maar ons het nie genoeg ketting nie en dis toe maar weer optrek en weer gooi. Hierdie keer ’n bietjie nader aan die kaai. Ai, wanneer gaan ek en my kaptein leer om afstand oor die water korrek te skat!? Die keer is dit klopdisselboom en met die hulp van die Turkse bure, is ons vas en veilig. Hulle vertrek later na die Kanaal van Korinte.

Galaxidi
Straattoneel


Ons gaan die aand, op aanbeveling van ons Turkse bure by Taverna Albatross uiteet. Dis sommerso eenvoudige eetplek. Dis skemeraand. Die tafeltjies staan langs die straat. Die kelner-tannie wat ons bedien, is sommer ’n gewone tannie, ’n boere tannie. Daar is net sekere van die kos op die spyskaart beskikbaar. Sy verduidelik. Ek kies haas en Archie vark. ’n Hond kruip agter sy baas se motor weg en as iemand op sy motorfiets daar verbyry, blaf hy en sit hom agterna. Net langs die taverna, bo-op die balkon, sit ’n langhaar Griek en luister na sy musiek wat hy vir die hele buurt speel. Mooi, sielsmusiek. My soort musiek. Archie geniet dit ook. Met toe oë sing hy saam.

Twee katte jaag mekaar. Hulle raas en skree en baklei met mekaar. Ek dink Kietsie wou by Katsie se vullisdrom eet. Hier het elke straatkat sy eie vuilgoeddrom. Hierdie aand is magies. Dis lewe, dis Grieks, dis menswees, dis bestaan.

My haas is heerlik!

Itea. Delphi.



9 September 2015. Woensdag.


Antieke Delphi. Dis waarheen ons vandag gaan. Maja bly alleen agter in Itea en ons klim die 7:45 bus na Delphi. Dis mislik en bewolk. Dit lyk na nag, al is dit dag.

Die busrit is asemrowend mooi. Oral staan my geliefde berge hoog en trots. Dis net jammer dat die son nie skyn nie. Onder ons lê die olyfwoud. Die vaal dofgroen olyfbome staan in netjiese rye, plate van hulle. En aan hulle voete lê die see van Itea. Dis prentjiemooi.

Olyfwoud


Ons was verlede jaar ook hier en het die antieke stad van Delphi besoek. Vandag is ons net hier vir die natuurskoon en die tempel van Athena waarvoor ons verlede jaar nie tyd gehad het nie. Dis boonop gratis, ons hoef nie eers te betaal om daar in te gaan nie.

Ons gaan drink koffie in ’n plek met die mooiste uitsig. Wat ’n luuksheid om ’n koppie koffie slukkie vir slukkie te drink terwyl jy daar vêr in die vêrte tuur. Die wêreld aan jou voete. Ai, maar dis lekker om weer op regte aarde te wees.

Ons stap na die tempel van Athena. Delphi is op ons linkerhand. Ons roofkyk na die enkele kolomme wat sigbaar is van die pad. Die berge lê majestueus-mooi op die agtergrond, die bewakers van die stad.

Delphi se berge


Van die Tempel van Athena is daar nie veel oor nie. Ou kolomme en klippe lê die wêreld vol. Hulle is besig om van die ou klippe en kolomme weer aanmekaar te sit dat mens die glorie vanmelewe se tyd beter kan herleef. Die ouwêreldse se kolomme van die tempel staan trots daar vir die nageslag om te bewonder. En ek bewonder dit.

Tempel van Athena
Trotse kolomme
Tempel van Athena


Die terugstap is weereens mooi en ek het net oë vir die berge en dale. Die pad lei ons verby die museum. Ons gaan nie in nie, maar ek kyk vir die sarkofaag.

Drink van die Kastaliaanse fontein
Sarkofaag uit 2de eeu n.C.


Ons stap ’n ent op die E4-staproete. Dis ’n deel van ’n 10 000 km roete wat in Spanje begin en in Kreta eindig. Die Delphi roete is 18 km lank. Ai, ek wens ek kon die hele roete stap! Ons is lekker hoog en kyk na Itea wat doer onder lê. Ons kan amper, met ’n tikkie verbeelding vir Maja in die marina sien lê.

Uitsig



Tevrede en gevul met die wonder van Moederaarde se mooi natuur, klim ons die bus en geniet die terugrit na Itea.