Vandag is ons oppad na die eiland Korcula. Ons gaan anker (?) by Uvala Luka (42º 57'.072 N 17º 08'.462 E) en dis ver soontoe, amper 22 myl (40 km).
Ons ontboei en vat die pad, ag ek bedoel die water. Dis mistig. En die pad is lank. "The road is long..." Klink my dis 'n mistige melodie dag vandag.
Dis mistig |
"The road is long ..." |
Ons motor en motor en motor. "The road is long..." Waar's die wind? Die see is glad. Die mis klaar op.
Na 'n ruk, wat soos 'n ewigheid voel, sien ons die dorpie, Korcula, in die verte. En ek bedoel vérte. Ons ry aan. Stadig maar seker, myl vir myl kom ons nader en nader... en toe is ons daar.
Korcula |
Korcula |
Ons vaar verby die dorpie en gaan na Uvala Luka, net langsaan, waar ons moet anker gooi. Die hele anker oefening van gister speel deur my kop. Dit was eintlik 'n uitstekende oefening en dit voel vir my of ek weet wat om te doen. Archie kry die geskikte plek. Die baai is gelukkig leeg, so daar is baie plek vir anker én om foute te herstel. Ons werk soos 'n span. Bevele en antwoorde word vriendelik en duidelik oor en weer geskree.
Ons ankergooi word suksesvol uitgevoer en Maja is geanker. Ons trek aan om dorp toe te gaan. Ons gaan altyd dorp toe.
Gedeelte van die muur |
Ons vat vir Dinkie en roei na die land toe. Dis so 400 m. Onthou, as jy anker, is jy in die see met water om jou. Dinkie het 'n motor, maar haar motor is nie op nie. Ons roei en roei. Geen spanwerk nie. Ons stry die hele pad. Ons gaan aan wal, sleep vir Dinkie uit die water en stap dorp toe.
Die pragtige ou dorp is stil. Waar is almal? Ons eet gebraaide vis by 'n restaurant. Heerlik.
Toe ons teruggaan na Maja het ons 'n oomblik van paniek beleef. Dit het gelyk of sy gestrand staan tussen die klein bootjies. Ons was sprakeloos van skok. Gelukkig het sy net gedraai en die lig het snaaks op haar geskyn. Die hoek en die afstand waarvandaan ons gekyk het, het ons oë bedrieg. Scary movie.