25, 26 Junie 2015. Donderdag en
Vrydag.
 |
Üçağiz tot Gökkaya Limani |
Ons gaan vandag nie vêr nie. Dis
net 4 myl na Gökkaya Limani, 39° 12.657 N, 29°53.472 O. Ons kyk uit vir rotse en
riwwe en vlak water en kyk vir oulaas vir Kale Köy en sy mooi kasteel en sit
ons kort reis voort.
 |
Kale Köy |
’n Flotilla seiljagte is in ons
baai geanker, maar jou waarlik, daar is nog ’n plekkie vir ons ook. Ek gooi
anker en dit sleep en ek gooi toe maar weer anker onder die wakende oog van die
vrou op die buurboot wat ons sooo sit en bekyk. Toe byt daai anker en ek is
seker dat al ons toeskouers ook tevrede is met die byt.
 |
Op anker |
Ons is rustig en swem en lees en
kook en is maar net. Dis meer as wat ons van die arme Turkse vrou kan sê. Sy werk die hele dag in die bloedige son en slaan bosse kruie dat die berge antwoord gee. Die kruie, vermoedelik wilde salie, word geoes en dan gedroog. Dan slaan sy die takke dat die blaartjies afval en maak die blaartjies bymekaar. Dis wat die plaasboere in SA dors en oes sal noem.
 |
Dors en oes |
Die volgende dag, Vrydag is
aksiedag. Eers bak die kaptein pannekoek en ons smul te heerlik. Daarna sit
Archie die motor op Dinkie en daar trek ons na Ashil Adasi om ’n grot te gaan
besigtig. Dis ’n hele ent tot daar, maar Dinkie doen haar ding en ons word
beloon met ’n groot grot. Ons verruil die motor vir die roeispane en roei
binne. Dis heerlik koel in die grot. Daar word vertel dat van die klein vissersbote
in die middae in die grot skuil om van die warm son weg te kom en sommer dan ’n
uiltjie knip. Ons roei in die effe donker grot rond.
 |
Ashil Adasi se grot |
 |
Klam en koel |
 |
Silhoeët |
Ons vaar sommer toe om die hele
eiland en toe terug na Maja wat soos gewoonlik maar rustig op die water
ronddryf. Ek en ou Arch maak toe ook ’n bietjie lyf nat. Dis baie warm in die
geweste.
Die middag saal ons weer vir
Dinkie op om ons land toe te neem. Dis weer staptyd. Ons gaan nog ’n deel van
die Lycian Way stap. Die staproete is n baie lang roete langs die Turkse kus wat by Fethiye begin en by Antalya eindig, sowat 500 km lank. Ons vriend, Deon, wat hoeka nou in Griekeland stap, weet seker alles van die roete. Ai, die stappery is vir my so lekker, al gaan dit soms
maar moeilik. Ons kyk af op die baai en die water lyk mos altyd so vreeslik
blou van bo af. Die mooie ou Maja lê saam met al haar vriendinne daar onder.
 |
Lycian Way |
 |
Skildery van Maja |
 |
Gökkaya Limani |
Die son brand fel en die dors sit
in ons kele en die warm sit op ons lywe. Ons roei terug en drink dorstig ’n yskoue
drankie en koel die natgesweet lywe in die blou lafenis af. Toe is ons moeg en lê
so bietjie.