1 – 3 Mei . Dinsdag – Donderdag.
Werk,
werk, werk! Die vuile kleine Maja moet weer in ’n “ship shape” toestand kom. Alles
moet uitgepak word en op hul plekke gebêre word (reël 9).
'n Trop beeste stap wei-wei verby en vat sommer kortpad deur die vlak seewater na die oorkant. Die spreekwoord sê mos hoeka die gras is altyd groener aan die ander kant!
See koeie |
Die eerste
belangrike taak is om die nuwe Mantus anker pas te maak. Die getroue ou Delta
lyk maar verwese en afgetakel teen die spoggerige windgat nuwe Mantus. Delta
word seremonieel afgehaal en vervang met Mantus, wat wonder bo wonder pas. Geen
verstellings is nodig nie en die kaptein kyk tevrede na sy nuwe anker. Ek kyk
dit maar net so en hoop ek kan net so goed daarmee anker gooi.
Delta en Mantus |
Aan die werk |
Mamtus kom op … |
… en alles pas mooi |
Maja word
van bo tot onder gewas en gestofsuig. Beddens word opgemaak, kaste word
reggepak en onnodige goed word weggegooi. Dis ook met hartseer wat ons die kapteinskussing
wat Brigida vir Archie gegee het, ook vaarwel moet toeroep. Dit het waarlik
goeie diens gelewer en die kaptein het altyd heerlik op hom gesit.
Pak kaste reg |
Maja se
dek word gewas, die hout word vertroetel en later met olie behandel, toue word
teruggesit, Dinkie word opgeblaas en die vlae word gehys.
Dek word ge-olie |
Na die
eerste dag wat mooiweer en warm was, kom groet Gus ook, net om seker te maak
dat ek weet wie eintlik baas hier in Griekeland is. Gus orkestreer en
dirigeer die nag die seiljagorkes en dit is suisings en druising. Toue klap en
waai en die maste treur en beur. Die vlae dans en vertel dat dit ’n oostewind
is.
Toe gaan
ons dorp toe. Ons is baie bly daaroor, want ons het eintlik nie kos op die boot
nie. Hier is nie winkels nie en die marina se bussie neem die seilers elke dag
10:00 dorp toe. As dit nie vir die smulpakkies was wat Elize vir ons
saamgestuur het nie en ou pasta wat nog in die kas was nie, het ons verhonger.
Mary, wat ons verlede jaar hier in Preveza ontmoet het, is ook op pad dorp toe en ons is baie bly om
haar weer te sien. Ons ry al geselsend na Preveza.
Elize se smulpakkie |
Natuurlik
gaan die kaptein eerste na die chandler toe om teak olie te koop en toe dit by
die betaalslag kom, besef hy ons wallet is nog op Maja. Geen inkopies vir ons
vandag nie! Honger is ons voorland. Die heerlike aarbeie grynslag in my
rigting. Die spanspek koggel my uit. Die roket roep my. Die vis vermy my. Die
mond word dik en my wange blaas op.
Toe kom ons
redding aangestap, Mary! ’n Engel net soos my ma was. Ons vertel haar van ons
penarie en ons hoef nie eers te vra nie, sy leen dadelik vir ons geld. Skatryk,
skatryk, pennieloos se baas. Toe kan ons koop. Ons ry doodtevrede terug na die
marina.
Vanaand eet ons nie pasta nie |
Hier in
die marina is almal aan die werk. Op die wasgoedlyne wapper trotse, welriekende,
silwerskoon wasgoed. Oral is vrolike
seilers vlytig besig om hul jagte gereed te kry vir die nuwe seisoen. Dit
woel en werskaf en ruil wenke en raad uit. Dis vreemde tale en vreemde gesigte
in ’n vreemde land, wat eintlik al so bekend is. Ja, ons is inderdaad terug!
Môre gaan
ons water toe!