Sunday, September 3, 2017

Preveza.



2 September 2017. Saterdag.

Varkos Baai tot Preveza

Ons seilseisoen staan einde se kant toe. Hierdie jaar oorwinter Maja op stelte in Aktio Marina by Preveza. So, ons is vandag op pad na Preveza, 17 myl, in die Golf van Amvrakia of Amvrakikos Kolpos. Ons word die 6 de September uit die water gehaal en vertrek dan ’n paar daarna na Macedonië. Ons Schengen tyd hardloop uit. Ons moet maak dat ons wegkom.

So, vandag gaan ons na Preveza se dorpskaai en dan môre vêrder in die golf. Maar eers is die die smal, vlak kanaal van Lefkas en die brug waardeur ons moet vaar. Die brug maak elke uur vir ’n paar minute oop sodat die bote kan deurvaar. 

Lefkas Kanaal
Mistieke moeras

Daar is ’n hele klomp bote wat tussen die rooi en groen boeie in die kanaal vaar, almal in ’n ry, nes Michelle daarvan hou. Sommige is op pad na Lefkas Marina, ander wil deur die brug vaar. Ons het beplan om 9:00 by die brug te wees en wag ’n ruk voordat dit oopmaak. Die staal kontrapsie swaai stadig oop. ’n Mishoring blaas. Die bote wat van die noorde kom, vaar eerste deur en toe is dit ons wat van die suide kom, se beurt.

Besige kanaal
Wit ystervarkpenne
Brug begin oopswaai
Brug is oop
Bote vaar deur
Lefkas se fort

Hierdie is glad geen “hair raising” ervaring meer nie, want die kanaal is breër gemaak en jy vaar tussen die bakens deur. En deur is ons en op pad na Preveza. 

Om die sandbank

Ons vaar deur die bakens wat die kanaal aandui, want hier is dit ook vlak water net waar jy kyk. Ons gaan dorpskaai toe en daar is baie jagte, maar ook nog baie plek. Archie tru, ek gooi anker en twee mans help ons met die toue en vas is ons.

Ons is baie beïndruk oor die groei wat in die dorp plaasgevind het sedert ons laas in 2014 hier was. Daar is krag en water op die kaai. Toeriste is die hele wêreld vol. Die plek bars omtrent uit sy nate. Daar is pretdraf aan die gang en die hardlopers draf sommer tussen die hawe en die straatkafees én al die mense op straat deur. Dit gaan te jolig. Jy hoor net hoe skree die omstanders: “Bravo, bravo!” as hulle klaarmaak.

Ons stap in die dorp rond. Die kasteel is niks watwonders nie, maar het darem ’n hoë muur. Die dorp is nie vreeslik interessant nie, maar ons kom darem op ’n bruid af. Almal trou gedurig in Griekeland. Daar is altyd ’n bruid!

Kasteelmuur
Daar kom die bruid
Straatkafee

Ons sit die aand heerlik op Maja se dek en kyk na die mense, baie mense, wat verbyloop. Waar is Michelle en Johan nou! Hulle sou so lekker na die straattonele gekyk het.

Vir aandete eet ons weer ’n vars vis. Dis deesdae Archie se gunsteling aandete.