Monday, September 21, 2015

Trizonia, nee Nafpaktos.



 18 September 2015. Vrydag. 

Trizonia tot Nafpaktos

Ek sê weer – ons loop die eiland omtrent plat. Vandag loop ons na die oostekant van die eiland. Ons kyk neer op Maja waar sy in die marina langs die kaai vasgemeer is. Die kaptein kyk na die toneel onder hom met hartseer in sy oë. Die jagte wat heerlik rustig en geduldig in die water lê, wagtend vir die kaptein om die opdrag te gee dat sy moet vertrek. Die seilers wat op hulle jagte doenig is met die een of ander reparasie. Die seemeeu wat in die lug sweef. ’n Vissersbootjie wat see toe gaan met die hoop op ’n goeie vangs. Die seiljaar is amper verby.

Trizonia Marina
Hartseer kaptein


Ons voltooi die staptog en gaan wag by die hawe op die klein taxi boot wat ons na Glifadha aan die hoofland se kant toe vat. Ons wil die tipiese klein Griekse dorpie gaan besigtig. Ons klim en die kaptein jaag oorkant toe. In ’n japtrap is ons in Glifadha.

Trizonia se hawe
Glifadha


Ons stap verby twee ywerige manne wat besig is druiwe te pars om retsina te maak. Dit stink te lekker na vrot druiwe en ek kan al die slegte lekker retsina op my tong proe! Die manne glimlag van oor tot oor. Baie in hulle skik met die belangstelling wat ons toon.

Wynmakers


Nou is ons haastig terug Maja toe, want ons wil vandag nog na Nafpaktos toe gaan, 38°23.467 N, 21°49.934 O, 13.5 myl. Trizonia was lekker, maar nou is dit klaar. Ons maak toue los en daar vertrek ons op ons voorlaaste dag. Dit gaan heerlik wees om vanaand weer op anker te wees. Of dit rustig gaan wees, sal ons maar moet sien.

Gus waai maar, maar gelukkig nou meer uit die noorde. Ek het al vergeet hoe mooi Nafpaktos is. Ons was verlede jaar hier. Die kasteel en sy muur staan nog trots. 

Navpaktos
Nafpaktos kerk


Aan die ander kant van die baai, spog ’n Grieks-Ortodokse kerk met sy torings. Ons bly maar op Maja, want ons is nie lus om in die wind met Dinkie land toe te gaan nie. Ons swem vir oulaas in die see en ek probeer dit baie intens beleef, sodat ek die gevoel van die blousel-blou water op my lyf saam huis toe kan neem. Die kaptein is baie bly dat ons ons laaste aand op anker deurbring.

Ou Gus waai maar heelnag, maar ek is heel gerus. Ek het gesien hoe daai anker vasgebyt het.

Trizonia. Dag 3.



17 September 2015. Donderdag.

My kaptein en ek


Ons loop hierdie eiland plat. Vandag stap ons die 1 400m roete na ‘n antieke toring toe. Dis hoër as gister se roete. Die kontras tussen die vars groen van die bome en die blou van die see is verfrissend mooi. Harmonie sit verskuil in die kontras. Oorkant lê die dorpies, kleiner as gister. Sulke popspeel huisies.

Loop eiland plat
Popspeelhuisies


Die oorblyfsels van die antieke toring is nêrens te sien nie, maar ons gee nie om nie. Die stap, die vêrgesigte, die grysgroen olyfbome is vir ons genoeg. Die sintuiglike ervarings van sien, hoor, ruik hier in Trizonia, waar ons vasgevang is, is voedsel vir my siel. Ek sal aansoek doen om hier vasgevang te word.

Grysgroen olyfbome
Uitsig


Ons stap terug en gaan sit en sweet op Maja. Hemel, die hitte wil nie weggaan nie. Trizonia se onklaar marina is vandag stampvol, hier is nie plek vir ’n muis nie. 

Archie raak verveeld. Toe haal hy die stoof uit. Sy oonddeur wil mos nie mooi toemaak nie. Al die skroefies en moertjies word met sorg en soms met moeite uitgehaal. Die oonddeur se veer is toe die sondebok en Archie maak korte mette met die ou probleempie. Dis sommer ook nog een ratel minder as Maja skommel. Soos die Grieke sou se: "Bravo, Archie!" Ons sien hoe vuil is daai stoof en maak dit deeglik skoon. Nou hou dit nie meer 'n gesondheidsgevaar vir ons in nie.

Maak stoof reg


Archie neem my vanaand uit vir ete. Dis nou al my derde jaar hier in Griekeland en ek het nog nooit hier mousaka geëet nie. Wel, vanaand is die aand. Ons klim ewe opgedress van Maja af en stap so half in gelid met Switsers na die taverna toe. Ons raak aan die gesels en eindig saam met hulle aan dieselfde tafel en luister na al hulle seilplanne. Hulle is op pad na Gibraltar en daarna die Kanariese Eilande om die Atlantiese Oseaan te kruis. Ek kan sien Archie se oë blink. Hy wil dit ook eendag doen, maar ek stel glad nie belang om dit te doen nie.

Ons neem afskeid van hulle om hulle nooit weer te sien nie. Ek is nou al gewoond aan koebaai se.

Archie sê ek maak lekkerder mousaka as die taverna.