Wednesday, April 6, 2022

 

Die lang reis

4 en 5 April 2022. Maandag en Dinsdag.

" Nou is dit weer tyd om te groet. Tot volgende jaar, wanneer ons die volgende seiljaar aanpak". So het ek so ewe in September 2019 gesê. So asof dit vanselfsprekend is. Min het ek geweet wat voorlê. 'n Nare, vreemde virus, wat die wêreld en die volheid daarvan, verander het. Covid het 'n bangmaakwoord geword. Selfs mense wat ek ken, is dood. En die meeste mense wat ek ken, het die virus gekry. Ek en ou Arch is dit gespaar (tot dusvêr).

Die tasse is gepak en dis baaaie tasse. Die familie het afskeid geneem en Francois, my oudste seun, neem ons en die magdom bagasie, lughawe toe. Hy laai ons sommer net af, ons groet en ons reis na die bekende onbekende begin. Eers is dit die rapid antigen covid toets, wat die Grieke vereis. Ons slaag die toets! Dis net papiere, covid toetse, vaccine sertifikate, paspoorte, boarding pass. Ons moet kophou om niks te verloor nie.

Archie, ekke, Michelle met Mia, Johan, Roelien met Olivia, Francois en Pa

Die vlug van Qatar is met 'n uur vertraag. Ek aard na my oorle ma en ek wonder al klaar of ons betyds gaan wees vir ons volgende vlug na Athene vanaf Doha. Ons het net 1h15min om die volgende vlug te kry en die blerrie vliegtuig is klaar 'n uur laat! Donnerdag, kan alles maar nie liewer glad verloop nie!?

Ons sit heelagter in die vliegtuig. En as ek sê heelagter, bedoel ek héélagter. Teen die agterse muur. Dit beteken ons gaan lank vat om uit die groot voël te kom. Die lugwaardin verseker ons dat hulle bewus is van die situasie en die vliegtuig sal vir ons wag. Toe voel ek beter.

Die vliegtuigkos is die slegste wat ek nóg geëet het. Hondsleg. Ek sluk dit af met 'n glasie rooiwyn (ek het eintlik vir wit gevra). Die Afrikaanse jongman wat langs my sit, sê sy meisie in Amerika is nog 'n "virgin" en hy is spyt hy is nie meer 'n "virgin" nie. En ek wonder hoekom hy dink ek moet dit weet.

Op Doha gekom, is ons amper laaste uit die vliegtuig, en ons ander vlug vertrek amper. Archie is vlugvoetig voor en ek met my bilaterale knieë, gee my beste en ons wedloop na die regte hek begin. Op 'n stadium is daar iemand wat sê:"Athens", en in 'n rigting wys. Ons kom oop en toe by die regte hek aan, gaan deur (ek dink ons het in ons haas voor 'n paar mense ingedruk wat nog besig was om te "board").  En ons is op die vliegtuig. Daai vlug is toe ook vertraag, want hulle moes ons bagasie van die ander vliegtuig kry. Wel, ons is toe verlig, doodmoeg en uitasem op die vliegtuig oppad na Athene. Langs Archie sit 'n Thailandse vrou wat niks Engels verstaan nie en sy staan toe op toe ons besig was om te land, tot Archie en lugwaardin se ontsteltenis. 

Toe ons op die lughawe in Athene kom, is ons altwee seesiek. Alles voel of dit beweeg. Na 9 ure op Athene se lughawe, vlieg ons uiteindelik Skiathos toe in een van daai vliegtuigies wat nog propellers het. Dit voel mos altyd vir my of hulle graag in die see wil val. Ons kom 22:00 in Skiathos aan. Doodmoeg. Ons is Maandag 14:30 by die huis weg en dis nou Dinsdag, 22:00. Lang reis!



George, van Sokaki Rooms, staan so ewe daar met 'n naambord en ons en die baie bagasie word aangery na ons blyplek vir twee dae in Skiathos, voordat ons Skopelos toe gaan vir die groot huiskoop.

Die aarde draai en my kop draai en ek en Archie draai saam. Alles beweeg, behalwe die bed en toe maak ons daai bed seer.