Wednesday, August 13, 2014

Turkye. Çeşme. Laaste seildag.

11 Augustus 2014. Sondag.

Mersin Körfesi tot Çeşme

Vandag is Gerrie en Ansu se laaste dag op Maja.

Ons is oppad na Çeşme (38°12.956 N, 26°26.446 O), 20.3 myl. Ons begin 07:00 te vaar, want ons wil probeer om die winde te ontglip. Dinge lyk goed, Meltie (Gerrie se naam vir die Meltemi) waai liggies en die see is lekker plat. Die windturbines draai loom in die oggendson, groet ons wuiwend.

Loom oggendson
Oggendskoot - Visplaas

Gerrie voel 'n bietjie nostalgies oor die laaste see-seildag. Hy hou nogal van die ervaring. Hy groet sy laaste ankerplek weemoedig. Ansu groet ook, ek dink sy verlang baie na haar kindertjies, Clarize en Reigardt.

Nostalgies agter stuur
Beplan die roete

Die vaart verloop goed, ons kry net die laaste stuk groter deinings. En daar lê Çeşme voor ons, met sy mooi kasteel en al.

Kasteel

Ons vaar dankbaar nader en ek roep die marina op kanaal 72. Hulle kom help mens altyd in. Die vasmeermanne op die dingy wys ons plek aan en Archie tru pragtig in die spasie. Hulle gee die snoettou vir Gerrie. Ek en Ansu is op 'n gereedheidsgrondslag geplaas vir afskop. Alles verloop seepglad. Of so het ek gedink.

Archie tru nog so ewe en toe stop die boot. Hy het geen beheer nie. Min weet hy dat Gerrie by die snoet se dik tou opgeraak het en dat hy  die tou sumier vasgemaak het. (Die dik tou word aan 'n dun toutjie vasgemaak, wat aan die kaai vas is). Maja steek viervoet vas en sy trek skeef, na die luukse jag langs ons. Ons anker dreig om aan hulle s'n vas te haak en ek en Gerrie stoot met mening af (Gerrie met meer mening as ek).

Die jongman van die boot langsaan, wat help red, sê vir Gerrie hy moet nog tou gee dat Maja nog agtertoe kan gaan, nader aan die kaai. Gerrie beduie hy het nie tou oor nie, maar die jongman van langsaan sê gee dun tou. Dit skrei teen Gerrie se beterwete in, want hy kan net nie glo day so dun tou vir Maja op haar plek kan sit nie, maar hy gee tou. Archie tru nader aan die kaai en ons maak vas. Gerrie bekyk daai dun tou en skut sy kop.

Die ouer man van langsaan kom kyk toe eers of ons hom skade berokken het. Danksy die brute krag waarmee Gerrie (én ek) gestoot het, is daar geen skade nie, net bietjie skande. Die man raas toe vreeslik met die marina se mense. Hulle praat Turks, ons verstaan geen woord nie.

So leer ons - as die dik tou opraak, gebruik die dun tou. En op die nederige noot, eindig Gerrie en Ansu se seilavontuur.

Die einde

Die  aand neem Gerrie ons uit vir ete. Ons gaan eet by die Star Restaurant en die kos is vyfster gehalte. Dankie Gerrie en Ansu!

Vyfster ete

Turkye. Mersin Körfesi.

10 Augustus 2014.  Sondag.

Gökkovar tot Mersin Körfesi

Die wind het die hele nag aangehou waai.

Ons vertrek vroeg na Mersin Körfesi (38°12.956 N, 26°26.446 O), 15 myl. Na al die toue los is, die anker opgetrek is, verlaat ons die beskerming van ons fjord-baai en vat die see aan. Dit behoort onstuimig te wees, want Gus waai weer sy hart uit.

Oggendskoot - "Fifty shades darker"

Dit begin nie te sleg nie, maar later begin Gus erg te waai. Sy waai bereik met tye 'n rekordspoed van 35 knope. Gelukkig is die see nie groot nie, want die "fetch" is klein. Die "fetch" is die afstand vanaf die land, waarvandaan Gus waai, tot ons posisie in die see, waarin Gus water bymekaar waai om groot deinings en golwe te maak om ons siele te versondig. Gus waai van voor af, van die land se kant.

Die fyn seesproei waai in ons gesigte. Ansu sê:" Ons is nou almal gesoute seilende sigeuners." Die sout van die see is oral.

Gesoute seilende sigeuners
Seesproei

Ons baan ons weg deur al die visplase na Mersin Körfesi, ons ankerplek. Moenie dink Gus waai minder hier nie. Daarvan getuig al die baie windturbines wat oral hier rondstaan. Ons kom moeg daar aan en gooi anker wat goed moet byt, want die wind die waai.

Ons lê rond soos vrot velle. Ek slaap kwylmond in ons kamer, Archie slaap rugseer in die saloon, Ansu slaap onrustig in hulle kamer en Gerrie slaap saggies-snorkend op die dek, onder die wakende oë van die stadige, statige draaiing van al die windturbines. Uitgeput deur die elemente van die natuur. Gus waai heeltyd en sy neef Louis, loei in ons ore. Van gaan lê, wil hulle niks weet nie.

Nou weet ons waar is Gus se oorsprong

Die maan kom op en hy is voller as normaal en ek en Ansu sing 'n mooi liedjie vir ons manne, terwyl die sagte, silwer maanlig op die water gaan lê.

Sing vir die manne