Friday, May 24, 2019

Datça. Nuwe gaste.

23 tot 26 Mei 2019. Donderdag tot Sondag.

Knidos to Datça

Roete tot op datum

Knidos is stil in die oggend. Baie jagte het vertrek. Ons volg in hul waterspore en ons vertrek na Datça, 20.3 myl. Dis hier waar ons Maja gaan skrop en polish (soos my oorle ma altyd gesê het).

Paddy, nog 'n ou skoolvriend van Archie, en sy vrou Mary-Jane, ontmoet ons Sondag by Datça om vir so paar dae saam met ons te kom seil. Ons sien uit daarna om hulle te sien.

Eindelik is dit sukke tyd. Die nuwe gaste daag op. Paddy en Mary-Jane is hier.
 
Hulle is hier
 
Archie is bly om sy ou skoolmaat te sien. Paddy is eerste aan boord. Hy lyk gretig om die blog wat hy so getrou gelees het, eerstehands te beleef. Mary-Jane kyk daai plank so uit die hoek van haar oog. Maar toe kom sy ook veilig aan boord, nadat Paddy handjie bygesit het.
 
Paddy kom aan boord
Mary-Jane volg
 
Hulle is lekker moeg en koffie is net die regte ding om hulle aan die gang te hou. Nadat ons ietsie geëet, en lekker gesels het, gaan ons dorp toe. Hulle verken die dorp alleen verder en ek en Archie gaan terug na Maja.

Ai, Datça se seefront is darem mooi. Oral is sukke eienaardige marmerbeelde en Maja se mense en die honne verfraai die beelde nog meer. Die restaurante langs die waterfront verlei mens om daar te sit. Ons weerstaan die versoeking en neem maar net droëbek- glimlaggend foto's. Gail en Norman van Mosselbaai loop daar verby en poseer saam. Hulle is nie seilers nie, maar kuier in Turkye.
 
Seefront honne
Ou vrinne
Gail, Norman, Archie, Paddy en Mary-Jane
Uitsig
Terug by Maja
 
Dit is gesellig op Maja se dek en Paddy en Mary-Jane is baie bly om hier te wees. Later word aandete bedien. Eenvoudige Turkse kos. Mantie en Ayran.

Die son sak langsaam en die dag kom tot 'n einde. Saam met skemer kom die soel aandlug van die amper-somer.
 

Knidos

22 Mei 2019. Woensdag.

Körmen Marina to Knidos

Ons is weer alleen leen leen. Sullivan is vort en ons bly agter. So gaan dit maar met seilende sigeuners. Altyd op pad. Altyd groet. Vandag is dit die bekende pad na Knidos, 17.1 myl.
 
Trevor en Leslie Koekemoer is ook vandag op pad na Knidos, so ons gaan hulle daar sien. Darem 'n vertroosting noudat Sullivan weg is.

Kaap Krio ligtoring

Ons is die derde boot wat anker gooi in die bekende baai. Later daag Trevor en Leslie op en ek en die kaptein roei in Dinkie na Azuria, hulle catamaran. Die baai word al voller en die jagte stroom in. Sommige gaan na die kaai en dié is later vol.

Azuria
Leslie span wasgoedlyn

Dinkie gaan water toe

Ons kuier en gesels en drink koffie. Ek nooi hulle vir aandete. Dit gaan 'n groot uitdaging vir my wees om vir hulle te kook. Ons vleis en groente is op. Ek het wel twee uie, drie tamaties wat gevries het en bietjie purslane (soort onkruid), wat ook half gevries het. In die pestobotteltjie is nog  bietjie pesto. En ons het baie pasta.

Hulle kom 19:00 daar aan en ons skink vir hulle 'n glasie Griekse tsiprou. Şerefe! Ons eet die pasta met kaas en my heerlike pastasous en die komplimente stroom in. Ons smul aan die eenvoudige kos.

Kom kuier
Tsiprou aperitif
Leslie en Trevor
Archie en ek
Ons vier

Later gaan hulle huis toe en toe begin die Knidos Baai vertoning. Die wind, wat net liggies waai, draai en die groot jagte, wat te naby mekaar geanker het, het moeilikheid. Ons hoor 'n harde dowwe stampgeluid. Dis die Belgiese boot wat stamp teen die Luxembourgers. En laasgenoemde is nie op hulle jag nie. Hulle is in die restaurant. Die Belge laat hulle enjin hardloop om gereed te wees om bietjie weg te vaar as hulle weer wil bots. Hulle anker is nog vas. Later kom die Luxembourgers terug en almal staan op die jag rond. Die Belge trek anker op.

Die Belge soek na nuwe anderplek. Dis moeilik in die donker, veral in 'n oorvol baai. Hy gooi later anker, nadat 'n paar ander jagte hom wegjaag van hulle af, want hy wil te naby anker. Hulle kry toe eindelik 'n plek.

Gelukkig is ons buite gevaar, want ons is alleen aan die noordekant van die baai. Tussen ons en die suidekant is 'n strook seegras en niemand anker daar nie.

Maar toe kom daar nog 'n jag in die donker ingevaar. Hy pyl reguit op ons af en wil toe baie naby voor ons gooi. Ek gaan uit en skree vir hom dis te naby ons en hy trek sy anker op. Toe kom gooi hy vreeslik naby die land. Effe agter ons. Ek is benoud vir sy part. Ai, "never a dull moment".

Gelukkig het almal tot rus gekom en die baai verander in Droomland.