Thursday, July 24, 2014

Kalymnos Eiland. Vlychadia.

24 Julie 2014. Donderdag.

Levitha tot Vlychadia

Vandag is die dag. Dis die dag van die groot kruising. Normaalweg waai die Meltemi in dié kanaal, waaroor ons moet gaan, met groot fors af.

Poseidon het ligte winde voorspel en ons vaar in spanning om te sien wat die dag na Vlychadia (36°55.867 N, 26°57.921 O), 26.6 myl vir ons inhou.

Ek moet die anker optrek. Ek wonder of die anker gaan werk. Ek druk die groen op-knop met verwagting. Gaan die anker, waaraan die swaers gister so hard reggemaak het, werk? Dit werk! Ek trek die anker sonder sukkel op.

Ons vertrek en die rof en ruheid van die Aegean See is nêrens te sien nie. Ons vaar op 'n seepgladde see. Dit is te wonderlik vir woorde! Dat ons die moeilikste deel van die Cyclades so kan kruis! Jubel jubel jubel!

Wasgoed
Kalymnos kalm see

Ons kom by Vlychadia en die plek het 'n ware vakansie atmosfeer. Ons gooi maklik anker, sonder huismoles. Later ontdek Archie 'n konkreet vasmeerblok direk onder ons en na 'n diep duik het ons sowaar die perfekte vasmeerplek. Vanaand slaap ek sonder  ankersleep-vrese.

Vlychadia

In die laatmiddag laai Archie eers vir Gerrie en daarna vir my en Ansu in die dorpie af. Die vier van ons saam is te swaar vir Dinkie - sy sal waarskynlik sink.

Dorp toe

Die dorpie is baie klein, maar het pragtige uitsigte oor die baai.

Maja in die baai
Aandstond het goud in die mond

Dis sowaar lekker by die see.
Ansu soek 'n huisie by die see.
En Gerrie sê sowaar nee!

Huisie by die see


Levitha Eiland. Levitha.

23 Julie 2014. Woensdag.


Aigialis Baai tot Levitha Baai

Ons vat vandag die pad na Levitha (36°59.922 N, 26°26.744 O), 'n ver pad, 28.6 myl.

Oggendskoot - Mooi berge

Al is die pad lank, word die eentonigheid onderbreek deur 'n paar eilande met pragtige, imposante, höe kranse. 

Imposante kranse

Uiteindelik kom ons in ons baai. 

Daar is twee keuses - of anker gooi of gryp 'n boei. Natuurlik wil Archie anker. Natuurlik wil ek 'n boei gryp. Maar die Kaptein is altyd reg en ons kies die ankerbaai. Ek moet erken, dit was baie mooi en ons was alleen daar.

Ankergooi is deesdae vir ons net 'n roetine, ons weet wat ons doen en ons gooi.

Ongelukkig beland ons te ver van die kant af vir die landlyn en ek moet die anker weer optrek. Ek trek op en gooi weer. Arch moet land toe swem met die landlyn. Die tou is te kort en ek swets voor op die  Maja se snoet. Hoekom het die  #&@¥》Engelsman nie twee toue aanmekaar geknoop om 'n lang genoeg tou te maak nie?!

Die wind dryf vir Maja in die baai rond en dis weer anker optrek. Ek gooi weer, maar die ankerkatrol wil nie werk nie. Gerrie help en gooi die ketting met sy hand uit. Die anker sleep en ons moet optrek. Die ankerkatrol werk skielik weer.

Ons gooi weer anker. Genadiglik byt die anker en Archie moet kant toe swem met die landlyn. Die  toue is wéér nie aanmekaar geknoop nie. Die swaers sweer hand en mond dat hulle dit wél geknoop het. Ek en Ansu wonder maar net.... Gerrie sê ek het ook 'n paar knope gegee. Archie swem terug, knoop die tou en swem weer land toe. Hy maak ons vas aan die land.

Swemoefening
Gerrie hanteer die toue

Gerrie sê: "Krieks (dis ekke) het vandag ge-cum in matrooswoorde en knope en Arch het omtrent sy gat af geswem en ek en Ansu kyk mekaar grootoog aan - na die geswoeg, geknoop, geswem en geanker EN 'n "cold beverage" is almal vergewe en veilig in ons eie vasmeerbaai iewers in die Aegean see!"

Uiteindelik veilig geanker in ons eie baai

Archie en Gerrie spandeer die hele middag, tot donker word toe, om die ankermotor reg te maak. Op 'n stadium het Archie, kop eerste, boude in die lug, in die ankerkas vasgesit en Gerrie moes hom aan sy broek en boude uittrek.

Die dek word 'n werkswinkel

Die hele katrol is uitmekaar gehaal, swaar soldeerwerk is gedoen, borsels is omgeruil, 'n kabel "lug", wat losgebreek het, is weer geklink en die hele spul is weer aanmekaar gesit. Archie sê vir Gerrie: "It will be a miracle if this thing works." Ansu sê: "Laat ons dan bid!"

Twee koppe is beter as een

Hulle sit die motor terug en ...
DIT WERK! Geluk swaers!

Ansu maak kos vanaand - heerlike tuna pasta met agurkies.

Ansu agter die kospotte

Gerrie sê: "Wat 'n woelige dag, vol opwinding, afwinding en geen winding!"

Toe ek die dek skoonmaak, tel ek 'n skroef op ...



Amorgos Eiland. Katapola en Aigialis.

22 Julie 2014. Dinsdag.

Katapola tot Aigialis

Ons besluit ons gaan besoek die chora (dorpie op die heuwel) voordat ons vandag vaar. Ons klim die bus en ry daarheen.

Katapola vanuit die bus

Dis 'n pragtige dorpie en ons loop daar rond. Kyk hier en bewonder daar. Die sweet tap ons af, maar ons doen ons ding. 

Archie, Ansu en Gerrie
Blou

Later loop ons verder in die bloedige hitte na die klooster in die rotse. Die pad daarheen is gevul met die een mooi uitsig na die ander. 

Die pad is lank ...
... maar die uitsig is jou beloning
Blou baai

Die klooster is so gebou dat niks en niemand hulle kan oorrompel nie. Dis hoog op en ons swoeg en sweet die trappe uit. 

Klooster teen die krans
Amper daar

Voor ons die klooster kan betree, moet jy geskik geklee wees. Mans moet langbroeke dra en vrouens toe skouers en rokke. So, dit beteken dat Archie 'n oorgroot langbroek van 'n vreemde weldoener moet leen en aantrek. Toe lyk hy soos Dawid Sekels.

Gert en Dawid Sekels
Ingang na klooster

Die hele klooster binne is baie interessant. Die rots vorm een van die mure. Trappies is so half uit die rotse gekap. Aan die einde gee die priester in swart, met die baard, vir ons 'n glas yskoue water, 'n knertsie geurige likeur en 'n lekker.

Ons neem die bus terug na Katapola en maak klaar om na Aigialis (36°54.354 N, 25°58.544 O), 10 myl verder te vaar. Die see lyk heel anders as gister en ons is verlig en dankbaar. Geen lewensbaadjies vandag nie!

Hoë kranse

Ons gooi anker en soos gewoonlik het ek en Archie 'n woordewisseling oor die saak. Ons baklei soos kat en hond. Arme Gerrie en Ansu.

Die laatmiddag is loom en lok vir Gerrie en Ansu dorp toe. Hulle klim-val, gelukkig sonder voorval, in Dinkie en roei weg. Hulle hou hul lyf aasvöel en kom net betyds vir ete terug.

Aigialis 

Die Griekse aande het 'n bekoring van hul eie.

Bekoorlike Maja