Monday, August 29, 2016

Boynüs Bükü.



28 Augustus 2016. Sondag.

Tomb Bay tot Boynüs Bükü

Ek is opgewonde. Ons gaan vandag na Boynüs Bükü, 3.7 myl. Ons was verlede jaar saam met Dirk en Leon daar en ons het heerlik uitgeëet. En raai wat? Ons moet water kry, so ons gaan na die restaurant kaai toe en dan is ons verplig om uit te eet. Ek slyp al my tande.

Ons is sommer gou-gou daar, want dit is net ’n hanetree vêrder. Die man van die restaurant waai en swaai met die arms en ons kry ’n plek. Archie tru, ek gryp die snoettou en Maja is vasgemeer.

Restaurant
Weerkaatsings

By sekere körfezi's is daar veronderstel om bote te wees wat jou swart water kom uitpomp. Archie het hulle al keer op keer gekontak, maar sonder sukses. Wonder bo wonder daag die Goçek uitpompboot op die afgespreekte tyd by Maja op en hulle pomp ons tenk in 'n japtrap leeg. Baie goeie diens, dankie!

Uitstekende diens

Hier is storte en ek gaan ’n lang stort neem. Met baie water. Ai, dit gaan lekker wees.

Ons maak klaar en ek trek sommer ’n rok vir die geleentheid aan. Die tafeltjies is langs die see gedek onder die groot bome. Ons kry die spyskaart. Die kos word bedien met vier gratis mezes. Dis blerrie duur. Ek bestel garnale en Archie ’n “Mix grill”, teen 65 TL (R300.00) per bord. Alles op die spyskaart kos of 60 TL of 65 TL.

Aangetrek
 
Die mezes is opgekookte smaaklose broccoli, ’n paar stukkies gaar beet, tzatziki, gaar soetrissies en ’n afgeskeepte slaai. Geen moeite is met hierdie mezes gedoen nie! Ons eet maar, want dis duur kos hierdie.

My hoofmaal kom. Daar lê ses dooie garnale op my bord (dis R50.00 per garnaal) en rys. Dis glad nie lekker nie en ek sê vir Archie ek sal nie verbaas wees as die goed my gaan siek maak nie. Ek eet maar. (Ek moes dit eintlik teruggestuur het.)

Archie se kos is bietjie beter, maar glad nie verlede jaar se standaard nie. Die hele ete is onsmaaklik en ons word ontsettend uitgebuit. Toe ons die rekening kry, sien ons dat die elektrisiteit 25 TL ekstra is. Archie roep die eienaar en doen navraag daaroor en hy sê dis maar soos dit is. Archie beveel aan dat hulle ’n bord opsit waarop hulle sê die krag is ekstra. Ons het nie eintlik krag nodig gehad nie, maar ons het dit ingeprop, want ons het gedink dit is gratis. Soos by alle ander restaurant kaaie.

Smaaklose ete
 
Hy gee toe vir ons 5 TL afslag en toe ek so in die donker na ete op Maja se dek lê, kom die man met ’n flits en sit ons krag af. Die vermetelheid!

Die plek sien ons nooit weer nie en ek sal almal waarsku teen hulle. Wat ’n teleurstellende aand. Ten minste was die volgende oggend dramaties mooi!

"The morning after"

Tomb Bay.



27 Augustus 2016. Saterdag.

Kızılkuyruk tot Tomb Bay
 
Vandag gaan ons na die bekende Göçek area. Dis ’n bewaringsgebied. Hier kan jy nie sommer anker waar jy wil nie. En bewaar jou siel as jy grys water (was water wat seep bevat) in die see loslaat. Om nie eers te praat van swart water nie! Hulle het baie streng regulasies hier.

Ons is op pad na Tomb Bay, 7.6 myl. Ons soek ankerplek, maar hierdie water is diep. Ons gooi in 20 m anker en vat ’n tou land toe. Ek hou mos glad nie daarvan om in sulke diep water te anker nie. Archie doen die swemwerk en ons is vas aan die land. (“Long line ashore”)

Dis geweldig warm en ons is gedurig in die water. Ou Archie is in sy element, want hy swem saam met Skillie. Ons geniet die skilpaaie vreeslik. Hulle steek kop uit vir so drie asems, dan is hulle weer bodem toe. Oral sien jy net koppies uitsteek. Moenie dink jy kan lekker foto’s van hulle neem nie. As hulle jou sien, skep hulle ’n groot hap asem en verdwyn.

Skillie
Skillie loer vir ons
 
In hierdie baai is antieke graftombes. Hier word weggesteek deur die denne takke. Ons roei met Dinkie en kyk daarna. Dit lyk soos argitektoniese kunswerke. 

Graftombe
Grafte
 
Een of ander bekende Turkse kunstenaar, Bedri Rahmi, het ook ’n prent van ’n vis op ’n klip geskilder. Vir my lyk dit maar net na ’n gewone vis. Maar ek bewonder soos ’n toeris veronderstel is om sulke goed te bewonder.

Vis kuns
 
Tomb Bay is ’n baie gewilde baai en soos wat die dag vorder, kom hier al hoe meer bote in. Dis later stampvol en die hele atmosfeer is heerlik.

Ons geniet ons verblyf in Tomb Bay terdeë.

Kısılkuyruk Köyü.



26 Augustus 2016. Vrydag.

Baba Adası tot Kısılkuyruk

Ek is dankbaar om van die gewieg af weg te kom. Dit het darem al minder en minder gewieg soos die nag gevorder het.



Vandag gaan ons na ’n nuwe plek, Kısılkuyruk (“Rooi Stert”), 36°37.050 N, 28°51.953 O, 13.5 myl. Gus is nêrens te sien nie en ons vaar maar net.



Dis ’n pragtige baai en ons gooi anker en Archie duik met sy tradisionele sierlike boog in die water om die tou land toe te vat. Hy vroetel aan al wat ’n rots is om die beste een te kry om Maja aan vas te maak. Hy vind plekke wat aan sy standaarde voldoen en siedaar! En ons is stewig aan die land vas met twee toue.

Rotsvas

Archie gaan kyk weer vir die anker en sowaar, ek jok nie, langs ons anker sit Skillie se tweeling boetie! Hier is heelwat skilpaaie in die waters. En ons sien gereeld vlieg visse.


Daar is ’n vissersboot in die baai en ons sien ons bure in die gullet gaan koop vis. Archie sê hy is lus vir vis en ons roei soontoe. Die buurman van die gullet spring in sy dinghie en kom aangejaag. Hy is ’n Turk en hy kom verduidelik ons van al die vissoorte, want die visserman kan nie Engels praat nie. Ons koop ’n peperduur vis. Vanaand eet ons vis!

Vissersboot

Ons gaan stap. Van die baai loop ’n paadjie na die antieke Lydae. Daar is oorblyfsels van die agora, 'n kolossale standbeeld en ander geboue. Die twee reuse mausoleums trek die aandag, want dit is nog in ’n redelike goeie toestand.


Kısılkuyruk Baai
Mausoleum (Praalgraf van 'n hooggeplaaste persoon)

Praalgraf
Murasie

Met tye stap ons nog op die oorspronklike paadjie wat hulle gebou het. Ons stap tussen die bome deur en die koelte wat die groen vriende aan ons verskaf, is salig. Onder lê die blouste blou see. Ai, dis so lekker om hier te stap.

Oorspronklike pad

Nog bote kom soek ’n tuiste in die baai en later is ons vol. Mense lag en gesels en swem. Dis lekker om weer mense om my te hê. Die afgelope tyd was dit net afgesonderde ankers. Dis vir my eensaam so sonder ander mense. Ek hoef nie eers met hulle te gesels nie, hulle moet net daar wees.

Dis lekker hier








Baba Adası.




25 Augustus 2016. Woensdag.

Ekinçik tot Baba Adası
 
Dis een van daai dae. Van net anker optrek en vaar. Na ’n plek waar ons al twee keer vantevore was. Dis die probleem van Turkye, daar is nie soveel nuwe plekke nie.

Ons gaan na Baba Adasi, 36°41.781 N, 28°41.859 O, 12.5 myl. Die optimistiese kaptein probeer een keer seil span, maar ou Gus verdwyn en ons trek maar weer die seile in. En ons vaar verder.

Die ankerplek is agter ’n eiland en ek gooi anker en Archie tru. Die anker byt en toe Archie later die snorkel vat om na die anker te gaan kyk, sien hy ek het die anker amper bo-op Skillie gegooi. Hy sit so ewe langs die anker en vreet. Hy wonder seker wie is die effe blink sexy skilpad wat hier langs hom sit. Skillie het daar en dan verlief geraak op ons anker.

Baba Adası
Baba Adası ankerplek
Antieke vuurtoring
 
Die see wemel van mense wat watersport beoefen. Daar is klein seil dinghies, bote wat valskerms trek, mense wat met vlieërs vlieg en bote wat wurms trek. En so tussen die geroesemoes van mense swem Skillie en sy vrinne rond. Jy sien net so nou en dan steek hulle die kop bo die water uit. Te dierbaar. As hulle sien iets pyl op hulle af, verdwyn hulle net onder die water.

Skuinslê
Seewurm
 
Ag en die hele tyd wieg ons in Maja, want die see rol met ligte deinings in. Wieg en wieg en wieg.