6 Mei 2015
Dis so lekker hier by
Asin Limani. Ons bly vir nog ’n dag. Die see is seepglad. Gus roer nie. Ons
staan lui op en gaan winkels toe, maar dis mini winkels. Hulle het nie vrugte
nie, maar darem komkommers en groenrissies. En hulle het brood. Hierdie is maar
’n klein regte-lewe plekkie.
Ons neem ons enkele
pakkie terug na Maja en aan die ander kant van die pad staan ’n groen mobiele
huis. Twee mense, ’n man en ’n vrou, sit buite by ’n tafeltjie. Op die tafel is
’n glasie met blomme. Ek is so beïndruk dat ek oorstap en vir die vrou sê dat ek
van haar blomme hou. En dis waar dit begin.
Nuran (weerkaatsing), Zafer, ek en Archie voor hulle mobiele huis |
Hulle nooi ons vir
Turkse koffie en bring neute en Turkse appelkose tafel toe. Soos ou vriende
kuier ons saam met Zafer en Nuran Türkmen. Soos ’n wafferse toergids skryf en
wys hy vir ons interessante plekke by die Swart See wat ons kan besoek. Nuran
kan nie so goed Engels praat nie, maar Zafer is heel vertroud met die taal. Ons
praat politiek, godsdiens, toere, kinders, seilbote en alles en nog wat.
Koffie met die bure |
Ons gaan stap weer,
maar dié keer aan die ander kant van die baai en sien die mure van die kasteel
van ’n ander hoek. Ons wandelings lei ons deur ’n landelike gebied en later
sien ons die wrak van die seiljag van nader. Wonder nog steeds wat daar gebeur
het. Ons kom op nog ruïnes af en op ons terugtog loop ons weer in Zafer en
Nuran vas. By die Balik (vis) winkel voel ons dapper en koop ’n dooie vis om
gaar te maak.
Die hawe en die antieke stad van Iassus |
Uitsig oor agora |
Wrak van seilboot |
Later die middag
bring Zafer vir ons ’n bordjie vol gaar groenboontjies oor. Heerlik (ons het
dit saam met die vis geëet). As ons mekaar sien, dan gesels ons. Watse
wonderlike mense is hulle nie. Ons gaan kontak met mekaar hou, want ons kan
mekaar dalk weer sien. Hulle gaan na Marmaris, waarheen ons ook op pad is.
Die aand eet ons
lekker vis.