![]() |
Efemia tot Oxeia Baai |
Ons laat Efemia agter en vaar verder op ons roete na Oxeia Eiland (38° 20.119 N, 20° 07.161 O), 25.5 myl, waar ons gaan anker tussen die eiland en die hoofland.
Kefalonia Eiland naby Efemia |
Dis moeilik om te glo, maar die skipper werk met sy wit pantoffels op die dek. Dis nou nie eintlik skoene wat vasklou aan jou voete nie.
Wel, so werk die kaptein op die doubenatte dek, met die span van die seile en die voorspelbare ding gebeur. Soos Aspoestertjie van ouds, glip die pantoffel uit sy voet en beland in die water. Dis toe amper soos "man overboard" en die reddingsaksie begin. Archie staan gereed met die boothaak, ek vaar agteruit en na vele pogings, met die hoofseil wat gespan is, is die pantoffel gered en Aspoester het sy skoen. En sowaar, dit pas. Nou kan hy met die prinses trou.
Aspoester en sy pantoffel |
Die water is weer eens seepglad en Leon en Dirk het 'n perfekte dag. Hulle tyd raak nou baie min. Ons benader die moerasland van die hoofland en soek ankerplek in die groot oop baai van Oxeia.
Oxeia Baai |
Oxeia Baai |
Op die strand is daar Griekse aktiviteite aan die gang. Blêrende musiek vul die lug oorverdowend. Leon dink dis mooi en ek dink dis lelik. Daar is braaivleisvure aan die land se kant.
Leon en Dirk ry met Dinkie land toe. Ek dink hulle is lus vir Griekse skaapbraai en ry agter hulle neuse aan. Hulle gaan kaalvoet aan wal maar maak geen vordering nie, omdat hulle voete brand. Teleurgesteld keer hulle terug Maja toe, nog steeds honger. Geen Griekse braai vir hulle nie.
Dirk, Dinkie en Maja |
Dis twee verskillende wêrelde. Ons sit hier, draaiend in ons bewegende huis en leef in 'n borrel in 'n vreemde land wat nie ons eie is nie. En tog voel dit of die water, die see, die wolke, die hier aan ons behoort.
Dis 'n skynwerklikheid waar ons net wil beleef. Ons slurp alles gulsig op om in ons geheue weg te bêre vir eendag...
Die wolke raak onverwags dik en Gus waai woes vir 'n wyle en skielik sous dit. Ons vind skuiling in Maja, waar ons alles dig toemaak teen die elemente en kuier binne.
Die son breek deur die wolke |
Net so skielik soos wat dit begin het, hou dit op en ons verlustig ons aan die kleure-skouspel wat in die lug afspeel.
Kleur-skouspel |
Dit was 'n heerlike dag.