Saturday, July 18, 2015

Pserimos Eiland. Ormos Vathi.



17 Julie 2015. Vrydag.

Kos tot Ormos Vathi


Uitgerus en silwerskoon verlaat ons Kos en vertrek na Pserimos Eiland. Dis ’n klein eilandjie naby Kos. Ons mik na Ormos Vathi 36°56.072 N, 27°09.276 O, 10.6 myl.

Ons span die seile en Archie kry ’n bietjie seil in. Later is die wind van voor en ons trek die seile in. En toe word ou Gus wakker. En hy waai. Rukwinde van 23 knope reg van voor. Gelukkig is ons amper by die baai. Daar is reeds omtrent tien bote op anker. Dis ’n groot baai en daar is nog plek vir ons ook. Ons gooi daai anker en maak seker hy byt. Ons wil nie hê die anker moet sleep in die wind nie. 

Ormos Vathi, Pserimos Eiland


En toe begin Gus te waai. Hy waai en dis die een windvlaag na die ander. Al die bote dans in die rukwinde. Jy kan behoorlik sien waar trek Gus. Jy kyk net watter seiljag dans en draai.

En moenie dink Gus gaan lê toe die son sak nie! O nee, hy hou en aan en aan. Ons het gelukkig ’n ankerwag op die selfoon wat sal skree as ons uit ons sirkel beweeg. En ek weet die anker het goed gebyt. Maar dink jy nou ek kan slaap? Moenie glo nie. Die geloei van die wind boor in my siel in en krap my binneste om. Twaalf-uur, twee-uur, drie-uur. Archie maak toe vir my ’n koppie tee. Ek drink dit dankbaar, teug vir teug. Dis darem nog net twee ure dan word dit lig. Alles is erger in die nag. Die waai klink harder en sterker. Die geklap van die toue in die windvlae, die gekraak van die boot.

Net voor vier-uur raak ek aan die slaap. Dit was nie ’n lekker nag nie.

Welkom in die Cyclades!

Kos.


16 Julie 2015. Donderdag.
 
Paloi tot Kos

Ons gaan groet vir Henry, Sally en John. Ons gaan hulle nie hierdie jaar weer sien nie. Dis tyd vir koebaai sê en ons laat Nisyros Eiland agter en pak die 22.6 myl na Kos 36°53.430 N, 27°18.154 O aan. Ons hoop maar net die see en Gus speel saam.

Die eerste ruk van die vaart is sag op die lyf en op Maja. Ons kan nie glo dis dieselfde see as gister nie. ’n Klomp jagte is op die water. Almal kruip weer uit hul skuilplekke uit en gaan na die volgende bestemming. Ons nader die berugte punt van die eiland Kos en getrou aan sy reputasie, raak die see al rowwer en Gus hou hom rammetjie-uitnek. Slinger-slinger vaat ons verder en na ’n ewigheid, gaan ons om die draai.

Daar is baie wind hier, maar die see is plat. Windsurfers en vlieërs en ander watersport is in volle blom in die gebied. En ons vaar maar voort na Kos. Ons het besluit ons gaan maar marina toe. Ons is lus vir ’n lekker stort met baie water en ek wil ook ’n bietjie klere was. Gelukkig is daar plek vir ons vir een aand. Dis heerlik om veilig vas te wees in die marina na ’n lang dag op see.

Verlede jaar was ons in Kos saam met Gerrie en Ansu en ons het by die dorpskaai, wat in die hawe is, vasgmeer. Ons wil gaan kyk hoe lyk dit daar. Dis ’n ent van die van die marina af en ons stap omtrent. Oral is mense wat op fietse ry. Daar is spesiale fietspaatjies vir hulleen jy moet maar uit hulle pad uitbly. 

Wat ’n teleurstelling. Die hawe stink. By die dorpskaai is geen jagte parkeer nie. Dis net klein bootjies. Riool loop vrylik bruin in die see op dieselfde plek waar ons verlede jaar vasgemeer het. Die jagte is almal aan die kasteel se kant, waar daar op ’n daaglikse basis gekruisde ankers is. En jy betaal om daar te staan, amper net soveel as in die marina. Daar is nie storte of toilette nie. Wat goeie besluit was dit om marina toe te gaan. 
Kos was die blyplek van Hippokrates waar hy onder 'n boom sy studente geleer het. Hier is ook nog Romeinse ruïnes te sien.



Hippokrates standbeeld
Romeinse ruïnes


Ons harte is nie hier in Kos nie. Dis te besig, te veel mense. Na Tilos en Nisyros is dit ’n totale anti-klimaks. En verlede jaar het ek van Kos gehou. Ons kyk maar hier en daar rond en stap terug na Maja en sit rustig op die dek terwyl dit aand word.