12 Augustus 2017. Saterdag.
![]() |
Monemvasia tot Ieraka |
Ek het nie geweet hierdie Peloponnesos gaan my so beïndruk nie!
Ons gaan vandag na Ieraka, 8.88 myl. Die kuslyn is indrukwekkend en Ieraka word
soos ’n geheim versteek. Ons sien dit eers toe ons amper daar is. Die boek sê
die klein gehuggie steel altyd besoekers se hart. En dit is die waarheid. My
hart is skoonveld. Seker gesteel.
Versteekte ingang |
Ieraka |
Ieraka |
Ons anker in die baai saam met ’n klomp jagte. Ek tel 23
jagte wat in die baai en by die kaaie is. ’n Rivier mond hier in die see uit en
reuse- berge bewaak die gehuggie.
Op die kaai is daar behoorlik aktiwiteit. Tientalle staaltafels word aangedra. Stoele word uitgepak. Luidsprekers neem op die verhoog stelling in. En dit alles in die hitte van die dag. Iets gaan gebeur. 'n Troue? Tradisionele danse? 'n Partytjie? Later word daar vure aangesteek.
Die groot Griek se boek se mens eet hier garnale
in rooiwynsous en die aand gaan stel ons ondersoek in of dit die waarheid is.
Die taverna se eienaar sê dit is wel
so (ek weet nie so mooi nie) maar ons sit aan, Die tafeltjies is langs die see
en die atmosfeer is lig-romanties. Die garnale was heerlik. Ons eet letterlik
ons vingers af.
Na ’n heerlike ete is ons in Dinkie en roei terug.
Onthou Dinkie se motor wil mos nie werk nie. Daar is iets eerie aan die stil
water en twee donker figure in ’n klein bootjie, wat stilweg terugroei na ’n donker
boot wat in die lig glim. Ek kraai soos ek lag van lekkerkry. My ma sal bly
wees as sy hoor ek kan weer lag!
Toe begin die Griekse partytjie. Dit sing dat die
berge antwoord gee. Hulle glo mos daaraan dat almal wat ore het, moet dit kan
hoor. Ek slaap sommer op die dek dat ek die verrigtinge so met die een oog kan
dophou. G’n mens kan in elk geval in die geraas slaap nie. Die gesing en dans hou
aan tot hanekraai, met ’n bonus van ’n vuurwerkvertoning tussenin.
Dis ’n wonderlike plek, dié Ieraka.