Sunday, September 28, 2014

Turkye. Cappadocia. Valleie.

27 September 2014. Saterdag.

Vandag gaan ons hulle kry! Daai twee valleie wat ons ontglip het! Gewapen met (dieselfde) kaart, vat ons die pad. Roos Vallei,  Rooi Vallei,  hier kom ons.

Ons stap heerlik, want dis soos die boek sê: "Om elke hoek is daar 'n ander prentjie." Dis toe ons die prentjie om die hoek wil afneem, dat ons besef - ek het gedink Archie het die kamera en hy het gedink ek het die kamera. Geen kamera! Toe moet ons met die selfoon foto's neem (ekskuus vir die kwaliteit).

Die stap is regtig iets besonders. Die landskap is baie mooier as uit die lug gesien. Die kleur, die vorms van die rotse, die uitgrawings in die rotse, alles. Langs die pad tel 'n hond ons op en loop getrou saam met ons verder. 

Gidshond

Die man by die eensame padstal langs die roete, het sulke rooi granate waarmee hy sap maak. My mond water. Ek koop een by hom vir TL2, dis R10. Hy gee vir my 'n lemoen gratis. Hy groet my met 'n Turkse soen, dis nou die "die kant wang en daai kant wang" soen, 'n bladskut en 'n druk. Toe ek omkyk, waai hy vir my 'n soentjie. Ek dink die man is nou verlief.

Ons stap eers deur die Roos Vallei. Alles is romanties mooi, roospienk met sagte kurwes. Golwend, strelend op die oog, smeulend. Ons stap deur twee tonnels. Die roete kronkel-kronkel deur die mooi en ek is in ekstase.

Begin van die mooi
Roospienk
Roos Vallei

Die pad neem ons verder na die Rooi Vallei. Die rotspunte is skerper, harder, minder vloeiend, met 'n rooi skynsel. Ons daal af in die vallei, en met die hulp van twee staal traplere, is ons onder. Ons gaan deur drie tonnels. Ons loop onder in die vallei en die rotswande troon bokant ons uit.

Tussen Roos en Rooi 
Rooi Vallei
Tonnel

Toe, te gou, na vier ure, is ons weer by die eensame padstal. Hy is bly om my te sien en ek kry weer my bladskut, Turkse soen en druk en Archie kry darem hierdie keer ook 'n bladskut. Ons vat die laaste stuk van die pad terug huis toe.

Feetjie skoorstene
Kasteel en sampioene
Kurwes
Landskap

Wat 'n lekker dag!

Turkye. Cappadocia. Undergroud city tour.

26 September 2014. Vrydag.

Ons het 'n toer bespreek vir vandag. Ons bespreek nooit 'n toer nie, so dis vir my 'n luukse. Ek wil ook so ding om my nek dra met my naam op en in 'n groot toerbus ry. Hulle laai ons 09:20 voor die hotel op. In 'n minibus en ons kry toe ook nie naamplaatjies nie. Maar ons gaan op ons toer. Twaalf van ons en ons toerleidster, Guşen.

Eerste besoek ons die "three beauties of Ürgüp". Drie sulke stalagmiete wat nie in 'n grot is nie. Pa, ma en kind. Dit lyk soos sampioene.

Ek en nog drie skoonhede

Toe sit ons af na Mustafapaşa. Hier het die Turke en Grieke lank in vrede  saamgewoon, voordat die Grieke gedwing was om terug te gaan na Griekeland, tydens die geforseerde bevolkingsverskuiwings tussen Turkye en Griekeland, in 1923. Die plek se naam was eers Sinasos. Die Griekse steenhuise is nog hier te sien.

Mustafapaşa
Erciyes Volkaan

Sobessos is 'n argeologiese gebied waar hulle 'n ou Romeinse stad ontdek het met mooi mosaïek. Hulle is nog besig om dit oop te grawe.

Mosaïekvloer
Romeinse badkamer

Guşen neem ons toe op 'n staptoer van 2 km deur die Soğanli Vallei om vier kerke te sien wat in die rotse uitgegrawe is. Die Christene het lank in die vallei geskuil. Daarna het ons middagete in Soğanli by 'n buitelug restaurant waar ons bredie eet.

Kerk in Soğanli
Stap in Soğanli Vallei

Toe kom ons by die hoogtepunt van die dag. Ons gaan besoek die ondergrondse stad van Derinkuyu. Dit is vC al uitgegrawe deur die Hitiete en kon 5 000 mense huisves. Dit is sestien verdieping diep en die grootste ondergrondse stad in Cappadocia. Net agt verdiepings is oop vir toeriste. 37 ondergrondse dorpe is reeds geopen en daar is nog omtrent 100 meer.

Gedurende die 6de en 7de eeu het die Bizantynse Christene dit vergroot om hulle teen vervolging te beskerm. Dit was ook verbind met hul bogrondse huise. As die vyand hulle aanval, gaan hulle ondertoe en bly daar tot die vyand weg is. Dit was soms tot drie maande.

Daar was ventelasiegate, kombuise, sitkamers, alles wat jy nodig het om tot drie maande te oorleef. Hulle het ook kommunikasie gate waar jy kon skree vir die volgende verdieping en hulle stuur dan die boodskap aan. Daar was tot plek vir hoenders en kleinvee.

Dit is absoluut ongelooflik om te sien hoe hulle dit uitgegrawe het. Sestien verdiepings onder die grond en 85 m diep. Wil jy nou meer!!!

Ondergrondse dorp
Ondergrondse dorp
Ondergrondse dorp
Ondergrondse dorp

Die toer sluit af met 'n wynproe by Kocabağ in Uçhisar. Dis 'n mondjie vol witwyn en 'n mondjie vol rooiwyn. Niemand koop nie.

Na 'n heerlike dag vol interessante goed en baie pret spat ons uitmekaar en ons sal hulle seker nooit weer sien nie.