5 Mei 2018. Saterdag.
Dit reën in die oggend. En dit donder en bliksem. Toe skyn
die son weer. Ons moet gou die laaste voorrade gaan koop voordat Sullivan kom.
Ons stap na die supermark en ons goedjies word by Maja afgelaai. Ons spoed na die vis-en
vrugtewinkel vir die laaste varsprodukte en ’n vars vis vir aandete. Ons stap
tevrede terug. Ek is eintlik haastig om gou-gou vir Maja slaggereed te kry vir
Sullivan se koms. En toe sien ons die eensame figuur op die bankie naby Maja.
Hy het ’n groot sak en Archie sê dit is Sullivan. Hy was wraggies voor ons by
Maja. Hy het te vroeg opgedaag!
Archie en Sullivan groet soos Dawid en Jonatan. En skielik
kry Archie se vriend ’n gesig. Nou weet ek ook hoe hy lyk.
Ou skoolmaats |
Hy trek sy skoene uit en loop seremonieel oor die plank.
Sullivan is aan boord en gereed vir sy twee weke op Maja. Ons geniet ’n welkomdrankie
en eet ietsie op die dek en die twee ou vrinne praat land en sand. Hulle was saam
op skool, baie jare gelede.
Sullivan aan boord |
Bagasie volg |
Welkom |
Ons stap dorp toe, maar al die winkels is toe. By die waterfront, waar al die jagte in hul glorie langs die kaai ingeryg staan, is daar volop lewe. Dit klink feestelik en die eetplekke sit vol honger en dorstige mense.
Ons maak gereed vir Charl en Mary se kuier. Hulle het ons
gister vreeslik bederf en nou is dit ons beurt. Die baan word geopen met Raki
van Skiathos. Daarna peusel ons aan al die eetgoedjies en drink ’n glasie wyn.
Dit word ’n heerlike aandjie met bekende onbekendes in ’n bekende onbekende
land.
Sullivan, Mary en Charl |
Archie, ek en Sullivan |