4 September 2017. Maandag.
 |
Koprainia tot Koukounitsa |
Die son skyn en die baai lyk sommer vriendelik.
Ons trek die anker op en hy het behoorlik gebyt, die modder omsingel hom
omtrent. Archie sukkel om hom skoon te kry en ons vertrek.
 |
Dis hoe 'n anker moet lyk |
En so met die uitvaar uit die baai, kom Skillie
ingeswem. Sowaar ’n skilpad, maar ’n skaam een. Hy gee ons twee kyke en verdwyn
onder die troebel water. Dinge hier in die golf lyk al hoe beter.
Ons is op pad na Koukounitsa Baai, 13 myl, naby
Vonitsa. Ons seil nie, want Gus waai nie. Baie riviere vind hul pad na die see
hier in die Golf. Mens kan sien waar die riviere in seestrome verander, want
die dennenaalde en ander plantmateriaal dryf in die water al met die stroom
langs.
 |
Rivier stroom |
Koumounitsa Baai is pragtig en toe ons so ingevaar
kom, sien ons nog ’n skilpad. Ons gooi anker en vas is ons. Die baai het ’n mooi
uitsig oor Vonitsa se kasteel wat bo teen die berg uittroon. Ek sit so op die
dek en hoor iets wat asem uitblaas. Ek kyk na die water en dis wraggies ’n dolfyn
reg by Maja. Ek storm af om die kamera re kry, maar toe is die vabond klaar te vêr
om te kiek. Twee van hulle swem rustig in die baai waar ons geanker is. Die
boek het nie gejok nie! Dolfyne en ’n skilpad in die baai!
 |
Vonitsa se kasteel |
Die wind begin waai en van die deinings rol om die
hoek van die eiland, maar niks ernstig nie. Ons klim in Dinkie en ry land toe.
Die klein eiland is met ’n brug verbind aan die land. Ons stap dorp toe en kom
soos gewoonlik op ’n Griekse bruid af. Hulle het eintlik Saterdag al getrou,
maar neem vandag nog foto’s. Slim plan. Ek kan die versoeking nie weerstaan om
saam met haar te poseer nie. Soos ’n wafferse moeder van die bruid!
 |
Brug tussen eiland en land |
 |
Bruidspaar op die brug |
 |
Moeder van die bruid |
Archie sit op die bankie by die kaai en oordink
die lewe van ’n kaptein. Ons stap kasteel toe, maar dié is nog steeds, vanaf
2013, gesluit. Die mure is hoog en ek loer deur die hek na binne. Ek moes seker
maar n prinses of iets gewees het, want ek hou baie van kastele. Dit gee my gedagtes
en verbeelding vrye teëls, en in my geestesoog sien ek baie tonele wat daarin
afgespeel het.
 |
Dorpskaai |
 |
Kasteel |
Ons stap terug en verken die klein eiland. Maja en
vriendinne lê en swaai in die baai. Gus waai nogal sterk. Daar is baie
dennebome op die eiland. Ai, die stap in die koelte van die bome is heerlik.
 |
Koukounitsa Baai |
 |
Koukounitsa Baai |
Wat ’n goeie keuse was dit om hier in Koukounitsa
te kom anker. Deinings of te not!