Sunday, August 11, 2013

Sing seeman sing. Dag 105.

10 Augustus 2013. Saterdag.


Kotor tot Bigova


Hulle het reën voorspel vir vandag. Daar is wolke, maar die son skyn. Archie roof gratis internet en doen eers bietjie sake op die rekenaar. Toe vertrek ons uit Kotor.  

Mure van Kotor


Ons gaan INA toe om diesel in te gooi, maar ons moes eers wag vir 'n groot boot om vas te meer. Uiteindelik is ons vol diesel en oppad na Bigova (42º 21.305 N, 18º 42.226 O), waar ons gaan anker. Dit is 23 myl tot daar.

Ons vaar in die  Golf van Kotor oppad na die oop see. Die wolke pak digter saam, want Gus waai hulle almal op 'n hoop. Gelukkig vaar ons wegger van die wolke.

Oggendskoot - Oortrokke


Ons vaar uit die Golf en span die hoofseil. Ons tref die see en hy is groooot. Die wind is gelukkig van agter en die deinings kom ook van agter wat dit makliker maak. Agter ons lê die Golf van Kotor onder 'n pikswart wolk-reën kombers.

Gus pluk aan die seile en ons trek die hoofseil in en skakel die motor aan. Dit klink anders as gewoonlik! Ek ruik iets soos warm engin! Daar is skrik in Archie se oë. Die motor spoeg nie water uit nie. Dit beteken dat die waterverkoelerding nie werk nie. As dit nie werk nie, kan die motor oorverhit en uitbrand, of iets.

Hy skakel die motor af en gaan ondertoe om ondersoek in te stel en ek moet die helm vat. Maja kan nie stuur sonder spoed nie, maar ek klou verbete aan die helm. Ons is soos 'n dobber op die see! Totaal uitgelewer aan die elemente van die natuur. Sing seeman sing!

Die see gooi ons genadeloos heen en weer. Ek voel totaal magteloos, op hierdie rowwe see, sonder motor en deinings soos berge. Archie werskaf aan die motor se binnegoed, maar  helaas, Maja spoeg steeds nie water uit nie. Nou is ons totaal afhanklik van wind. Ons span die hoofseil, want die wind waai ons in die regte rigting en ons sal móét seil.

Archie is weer af ondertoe, engin toe en ek is alleen op die dek met die helm vasgeklem in my hand. Ek roep (eerder gil) 'n paar keer Archie se naam hard en dringend, maar hy is verbete besig om die motor reg te maak. Die see gooi ons heen en weer. Gelukkig is hy 'n man met baie kennis en na, wat soos 'n ewigheid voel, is dit reg. Die verkoeler verkoel weer, verligting en dankbaarheid spoel soos 'n groot golf oor ons. Archie vat die helm oor. En  steeds is dit sing seeman sing!

Die deinings is baie groot. Ek kan nie agtertoe kyk nie en ook nie vorentoe nie. Die deinings agter Archie lyk soos berge.  Ek sing en sing en word kalmer en kalmer. Ek sal myself nie beskryf as 'n onverskrokke, dapper matroos nie. Nee, eerder 'n banggat! En ek sal nooit weer vloek nie!

Seeman sing en sing. En so nader ons die hawe waar ons gaan anker. Die weer lyk dreigend, dit kan enige tyd begin reën. Ons het vir twee en 'n half uur so gevaar. Die kalm water in die hawe was wonderlik en vervul my met 'n diepe dankbaarheid. Daar is restaurant boeie en ons gryp 'n boei. Dit begin later reën, nee, sous en Gus waai sy hart uit, maar ons is veilig.

Dit sous!


Dit hou op reën teen 20:00 en ons klim in Dinkie en roei Restoran toe. Daar is 'n basaar of iets aan die gang op die kaai in Bigova en dit wemel feestelik van die mense. Ons eet lekker en geniet die uitgelate lewe rondom ons.

Bigovabaai


Ai, die lewe van 'n seilende sigeuner...
Published with Blogger-droid v2.0.10