![]() |
Kalopoulou Baai tot Syvota |
Dirk verjaar vandag. Dis vir ons 'n vreeslike voorreg dat die oulike ding saam met ons op 'n Griekse eiland kan verjaar. Baie geluk, Dirk.
Oggendskoot - See en land word een |
Toue word losgemaak en ingetrek, anker gelig en weg is ons na Syvota (38° 37.218N, 20° 41.064 O), 11.6 myl op Lefkas Eiland.
Toue word losgemaak |
Ons vaar om die punt van Meganisi Eiland met sy ruwe kuslyn en talle grotte. Dirk verjaar voor op Maja se snoet, diep-denkend en omring deur die mooi. Leon wys elke interessante klip en rots en wat nog vir my uit en wonder altyd oor alles. Archie sit agter die helm soos dit 'n kaptein betaam en ek is maar net die seilende sigeuner.
Meganisi se suidepunt |
Kythros Eiland |
Die waters is blou, soos gewoonlik, maar dit betower my steeds. Ons kom by die Papanikolis Grot. (Elke boek skryf die name anders).
Papanikolis Grot |
Ons wil van naderby gaan kyk, maar die manne sê drie is te veel vir Dinkie. Ons gaan sink. Ons redekawel en bespreek wie gaan wanneer en wanneer gaan wie. Toe beveel die kaptein: "Julle al drie klim saam in en gaan tog net!" Ons al drie klim in en gaan toe net.
Die manne roei ons na die grot en op 'n stadium sing ek vir my twee gondeliers. Die grot is groot. In die Tweede Wêreldoorlog het die Grieke 'n duikboot in die grot versteek. Ons bekyk dit van bo tot onder. Toe is ons klaar gegrot.
Op die water dobber ou Arch vir Maja, terwyl hy geduldig vir ons wag. Goeie man, hy. Die manne roei ons terug en ons vaar verder.
Maja vanuit Papanikolis Grot |
Syvota kom in sig. Ons kry 'n staanplek, Archie tru en ek gooi anker. Daar is vier helpende hande reeds op die kaai en Gus rus 'n bietjie, so vasmeer is kinderspeletjies. Ou Gus word wakker, en begin kyk waar hy amok kan maak. Hy is baie dwars vandag en waai met sterk vlae.
Syvota |
So is Leon besig om te lees en Dirk besig om verder te verjaar op die dek en ek en Archie besig om te blog toe Leon senuweeagtig vir Archie kom roep. Daar is konsternasie buite. Archie is soos blits op die dek. Die Pole het ingekom om vas te meer. Hulle gooi anker en tru in. Gus gryp vir hulle en dryf hulle na die Walliese boot (twee bote van ons af). Hulle haak aan die ankerketting vas en ruk die Walliese se anker los. Toe dryf Gus hulle na die Italianers se boot (langs ons) en hulle sit aan die ankerketting vas. Met moeite en baie lawaai kom hulle los.
Die Italianers |
Italianer se ankerketting onder die Pole se boot |
Oral help mense met fenders en om af te stoot. Op die kaai neem nuuskierige bystaanders foto's. Dit is 'n skouspel van formaat.
Staan gereed |
Toe is dit Maja se beurt. Hulle kiel of roer (rudder) raak verstrengel met ons ankerketting. Maar soos in totaal verstrengel. Die oplossing sou wees om ons ankerketting uit te laat, maar die saak staan so - al ons ketting is reeds uitgegooi, ons het net 'n meter ketting oor. Een van die bemanningslede van die Poolse boot swem onder die boot om te sien wat gaan aan, of om die ketting los te haak. Hulle motor loop, en ons verwag enige oomblik dat die man aan flarde gekap gaan word deur die propreller toe hy onder die boot beland.
Maja se beurt |
Archie hou kop. Hy maak die laaste punt van ons ketting vas aan 'n sterk tou om vir die Pole speling te gee en ons ketting pap te maak dat dit kan loskom van hulle kiel. En wonder bo wonder, dit werk en hulle kom los. Toe is daai manne skaam en hulle trek daar weg met 'n spoed, skoon uit die hawe uit oppad na 'n plek waar niemand van hulle skandes weet nie.
Na al die opwinding gaan stap Leon en Dirk hulle rigting en ons stap ons rigting.
Om die opwindende dag af te sluit, neem Leon ons uit vir ete om Dirk se verjaardag te vier en ons ontspan heerlik in die plaaslike Taverna.
Dirk verjaar lekker |
Min het ons geweet ...