Van Split tot Trogir (pienk lyn) |
Ons moet vandag vir Split groet, maar Anika en Michelle móét vir oulaas winkels toe. (Ek wonder of Anika se pa én sponser weet hoe baie sy van winkels hou). Ek gaan saam dorp toe, net om 'n ogie oor die meisies se beursies te hou. Na die laaste minuut inkopies gaan ons terug na Maja, maar dit lyk of Gerrit en Archie ook laaste minuut inkopies gaan doen het, want hulle is weg.
Almal is aan boord en Archie gee vir die nuwe bemanning 'n les, hy verduidelik al die toue, seile, katrolslinger, al die moets en moenies van seil. Michelle verstaan (sy het al geseil), Gerrit verstaan amper (want mans verstaan seil beter), maar ek kan sien dat Anika se kop draai...
Al die toue word losgemaak en almal beman hulle poste en ons verlaat Spit se kaai oppad na Trogir. Ons ken die pad, want ons was baie onlangs daar saam met Elize-hulle en ons anker weereens langs die kanaal, maar diè keer aan die wal vasgemaak.
Al die toue word losgemaak en almal beman hulle poste en ons verlaat Spit se kaai oppad na Trogir. Ons ken die pad, want ons was baie onlangs daar saam met Elize-hulle en ons anker weereens langs die kanaal, maar diè keer aan die wal vasgemaak.
Gerrit aan die stuur |
Die kinders is gretig om dorp toe te gaan en Dinkie word opgepomp en daar trek hulle.
Taxi Dinkie |
Dorp toe |
Hulle kom later terug met sakke vol lekkers en chips. Gerrit se Dinkie-taxi neem vir my en Archie na die land, want ons moet kosvoorrade koop. Die kinders eet verskriklik!!
Ons koop by die splinternuwe Konzum en met twee rugsakke vol kos, loop ons terug na die kaai, roep die taxi en ons word veilig aangery na Maja. Ek dink die kinders is meer bekommerd oor die kos as oor ons.
Dis koud en die wind waai. Gepanser met warmgoed gaan beleef ons die aand-atmosfeer van Trogir. Dis maar stil hier in die ou dorp, want van môre-aand af is hier 'n fees. Ons gaan dit misloop. Net toe ons dink daar gaan niks aan nie, kom ons op n "seventies" groep af. Jy kan sien wie sing saam - die ouer mense. Die aand skryf die meisiekinders liefdesbriewe vir hulle kêrels. Ai, waar's die dae...
Liefste ... |
Die volgende oggend is dit weg met ons. Die ewige weggaan. Altyd op die pad. Nooit stagnant, voortdurend aanskuif. Dryfhout, strome en getye neem ons van die een plek tot 'n ander. Die storie van my lewe as seilende sigeuner.
Van Trogir tot Amper Hvar (Pienk lyn) |
Ons motor en later seil ons. Dit lyk mooi met die seile.
Kleurvolle gennaker |
Dis 'n rustige seil. Kinders is snaakse goed. Hulle lê en slaap. Op al die beddens lê daar een en slaap. Hulle lê die hele Maja vol.
Ons kom by Hvar, maar dis vol en ons gaan anker weer by U. Stipanska naby Hvar. Ons sal môre weer probeer om plek by die Hvar dorpskaai te kry.
Published with Blogger-droid v2.0.10