10 Junie 2016. Vrydag.
Ons klim die rooi bus en daar trek ons na die Evangelistrias Klooster toe.
Ek is mos ’n kerkmens en wou lank gelede’n non geword het, so ek is in my
element. Dit is ’n werkende klooster met monnike wat daar werk en take verrig.
Die klooster is verfraai met die mooiste, kleurvolste
blomme. My ma sou baie hiervan gehou het. Ons bekyk alles. Duiwe word gevoer.
Die arme jong monnik stoot kruiwa en gooi blomme nat. Hy doen die eenvoudige
werk met oorgawe. So asof dit vir ’n Hoër Hand is. Soveel ywer.
 |
Klooster |
 |
Evangelistrias Klooster |
 |
Monnik aan die werk |
Ou Archie sit onder die boom terwyl ek in die museum gaan
rondloer. Foto’s neem word nie hier toegelaat nie. Ons gaan koop vir my ma en
pa geskenke wat deur die monnike self gemaak is
 |
Sit rustig |
 |
Klipkoepels |
 |
Kumkwat brousel |
Toe besluit Archie hy wil die 7 km sirkelroete stap. Dit
begin en eindig by die klooster. Hy sê ek kan maar solank met die bus terug na
Maja gaan. Wel, hoe kan ek dit weerstaan en ek stap saam, moer toe knieë en al.
Ons stap die rooi kol roete. Dit gaan goed. Die pad lei deur die bos, dan weer
op die grondpad. Die uitsigte is net bietjie min, maar die stap is heerlik.
 |
Uitsig met Skopelos Eiland in agtergrond |
 |
St Charalambos Klooster |
 |
Uitsig van hoofland |
Ons stap sonder ’n kaart en verdwaal natuurlik toe die rooi
kolle opraak. ’n Vriendelik Griek verduidelik vir ons hoe ons moet stap en daar
trek ons weer. Ek weet nie hoe vêr ons gestap het nie, maar dit was vêr. Die
laaste deel van die stap was die mooiste. Deur die bos. Varings wat welig
groei. Groot ou bome en ’n klippaadjie. Ons kom toe eindelik weer by die
klooster uit, moeg maar tevrede. 15:00 klim ons die minibus en gaan huis toe.
 |
Uitsig van Skiathos Dorp |
Toe begin die werk. Archie sê mos altyd ’n huisvrou se werk
is nooit klaar nie. Dis waar, veral as jy gaste kry. Dis klere was, boot was,
hare was, kos maak en alles is toe “spick and span”.
Ons stap na die veerboothawe en wag vir die Flying Dolphin.
Hy kom aangejaag en ons hoop maar net ons herken die gaste. Ons het hulle ’n paar
jaar gelede by die Dolomites stap in Italië ontmoet. Die veerboot stop en die
insittendes klim af. Ek staan gereed met die kamera om hulle te kiek. En jou waarlik,
ons herken ek en hulle neem die regte persone af. Ons soengroet soos familie.
 |
Hier kom Louise |
 |
Is dit Yvon? |
 |
Archie, Yvon en Louise |
 |
Louise durf die plank aan |
 |
Yvon se beurt |
Ons geniet welkom drankies op die dek. Ja, Zane, Retsina, ’n
regte egte Griekse wyn waarvoor jy so gril. Ons gesels en eet en lag en praat
oor daardie berugte laaste aand in die herberg in Italië …
Daardie aand langs die kaai ontmoet ons vir Paul en June Savage, oud-Suid-Afrikaners wat nou in Australië woon. Sowaar, die volgende dag trek hulle langs ons in en June maak vir ons heerlike boeretroos. Ons kuier te lekker.
 |
June en Paul Savage |