Thursday, August 18, 2022

Kuşadası. Laaste vaart.

 16 Augustus 2022. Dınsdag.

2022 Roete

Die oggend trek buurman sommer al 5:45 anker op. Dis nog donker toe hy vertrek. Seker moeg van bekommernis. Ons vertrek ook 6:00, soos gewoonlik.  

So verlaat ons ons laaste laaste ankerplek voordat ons vir Maja Kuşadası Marina toe vat waar haar nuwe eienaar haar gaan kry. Die laaste vaart breek aan. Dis nog skemerdonker en ons vaar met ons ligte aan. Verlaat Paulus se baai met Gus wat sterkerig uit hoofland se rigting in ons nekke blaas. Ons los hom in die baai agter, want op die see is dit as't ware windstil.

Sonsopkoms

Ons buurman

Sonstraalpad

Ons vaar in die Samos Strait, die plek waar Turkye en Griekeland die naaste aan mekaar is. Vorentoe, altyd vorentoe. Die Turkse kus is pragtig. Daar is 'n mistigheid oor Turkye, in 'n amper reguit lyn. Gus waai saggies. Maja prrr rustig voort. Ons vaar verby 'n ankerplek waar 'n klomp jagte op anker staan. Met hartseer besef ek dat dit nooit weer ons sal wees nie. Daai deel is nou verby. 

Samos ankerplek

Mistige Turkse kus

Later draai Gus effens en Archie span die genoa. Ons motorseil en dit vermeerder ons spoed darem met 'n halwe knoop in hiedie ligte wind. Ons kry soos gewoonlik ons 30 minute beurte om die helm te beman. En ons vaar vorentoe, altyd vorentoe (behalwe daai een keer in 2019 saam met Elize en Martie) saam met ons kleine Maja (soos my ma altyd gesê het).

Kaptein

First Mate

Laaste seil

Toe lê Kuşadasi voor ons. Dis 'n gawe dorp, nie mooi nie. Dis soos mens altyd van 'n vet meisie sê: "Sy is baie gaaf". 

In die baai staan "Elegant 007", 'n groot superjag met 'n grys agterstewe, asof daar 'n brand was. Ek roep die Marina op Kanaal 73, en hulle sê ons moet buite wag. Archie wag in die marina se ingang en die marinamanne kom daar aangejaag en sê ons moet by die petrolstasie alongside. Ek stry soos gewoonlik en beduie ons wil nie diesel ingooi nie. Hulle beduie ons moet kom. Intussen wil hulle ons net uit die pad kry, want die ou grote moet in die marina vaskry. Sy is 72 m lank. Dis moergroot. Ons wag toe geduldig dat hulle haar vaskry, wat meer as 'n halfuur neem. "Never a dull moment", tot aan die einde.

Marina ingang 

Elegant 007

Hy vat ons toe na ons staanplek vir 14 dae en dis net langsaan die plek waar ons die vorige keer was. Archie tru, en ons maak Maja vir oulaas veilig vas. Sela.

Ons drink ons laaste laaste koue drankies en 'n amper leë gevoel kom oor ons.

Hier is ons nou in Kuşadasi waar Ennes Maja gaan oorvat. Ons gaan eers vir 'n paar dae Goreme, in Capadocia toe. (Ons sal foto's plaas) Dan kom Ennes en hulle gaan die papierwerk doen om Maja op Ennes se naam te kry. Ons bootvrag word dan op sy boot gelaai en hy vat ons Skopelos toe, vir die begin van ons nuwe hoofstuk. Wat dit is, weet ons nog nie.

En om nie vir Archie teleur te tel nie, besluit Maja gou die koppeling aan die geyser moet lek. Mr Fixit moet vir oulaas iets regmaak. Met baie sweet kry hy die fout en herstel dit meesterlik. Wel gedaan, Kaptein!

Laaste koue drankies na vasmeer

Maak waterlek reg

Ekke en my Maja

Ons is nog steeds sigeuners, maar net nie seilende nie.

Port St Paul. Bonus

 15 Augustus 2022. Maandag.

Ons laaste dag was so lekker dat Archie besluit ons bly sommer nog 'n dag hier. Ek vertrou nie vir St Paul so heeltemal nie, want hier waai mos altyd wind hier. Maar ons bly.

Archie roei ons om Su Eiland en Maja staan eensaam en alleen in die baai. (Ek wonder of sy weet ons het haar verkoop...) Ek gaan haar baie mis. Ons sien die nare seegras van naderby en nou weet ons hoekom 'n anker nie in sukke gras byt nie. Dis nogal vêr om om die eiland te roei, maar ou Archie doen goed. Lekker rustig en stadig, asof ons wil keer dat die tyd uitloop. In die vêrte is Samos, die eiland wat altyd vir Gerrie so gefassineer het en waar Elize en Martie in 2019 saam met ons was. So baie herinneringe. So baie ervarings.

Archie roei

Maja

Samos in die vêrte

Maja

Seegras

Su Eiland met hoofland in die agtergrond

Ons swem gereeld is die amper yskoue water. Ek besef ek gaan nooit (never say never) weer rondom Maja op anker kan swem nie.

Later kom daar nog 'n jag en gooi vêr voor ons anker. In die baai self is net eintlik plek vir een jag om anker in sand te gooi. Die kaptein toets nie of sy anker gebyt het nie.  Archie toets altyd ons anker deur vir Maja in tru te sit teen 2 500 000 opm (refs) om te sien of anker hou.

Nog later kom 'n groot jag ook in. Gooi nog verder voorder anker en vat 'n tou land toe. Hulle bly vir een uur en vaar verder.

Toe begin die aksie. Gus waai, maar nie te sterk nie en buurman besluit om 'n tou land toe te vat. Ons vermoed hy vertrou nie sy anker nie. Later gaan maak hy weer landlyn los en trek anker op. Dis nou al sterk skemer. Hy gooi weer anker en hoop seker dit het gebyt. Die verskil tussen slaap en slapeloos op anker, is as jy weet die anker het gebyt.

Hier op Port St Paul waai die wind uit die weste en uit die ooste. Dan kyk Maja wes en dan kyk sy oos. Dis nie altyd goed vir anker nie, want as ketting styf raak, moet anker in die sand draai. Archie dink nie ons ketting was ooit styf nie.

Ek word wel in die nag wakker van die ankerketting en Maja wat kreun, maar ons anker hou. Dis net doodgewone ankerketting-geluide. Gus het heelnag gewaai, nie te sterk nie, maar sterk genoeg vir ons buurman om hom te bekommer.


Port St Paul. Afskeidsdag

 14 Augustus 2022. Sondag.

Weereens is dit 5:00 uit die vere. Kapteinskoffie, kry vir Maja gereed en vertrek na Port St Paul, 25 myl. Altinkim is doodstil in die oggend. Almal slaap seker hulle roes af na 'n nag van goedkoop alkohol en seks. 

Weer wind-op en teen die deinings in. Gelukkig waai Gus omtrent nie, maar die deinings is daar. Ons vaar verby talle visplase en stadig maar seker kom ons bestemming nader. Dit voel vreemd om te dink dat die uurglas van die lewe van seilende sigeuners besig is om leeg te loop.

Visplaas

Visplaas

Ons wil eers weer by St Nikolas gaan probeer anker. Die bodem lyk aaklig en ek gooi net een keer. Anker sleep en ons gaan toe maar net langsaan na Port St Paul. Die anker byt en ons is vas.

Ek hou eintlik glad nie van Port St Paul nie, al het Paulus ook hier geskuil. Die wind waai altyd hier en as jy nie op die regte plek gooi nie, is die houkrag nie goed nie. Ons het darem 'n sandkol gekry.

Port St Paul

Port St Paul

Port St Paul

Port St Paul

Reier

Dit word 'n idiliese anker. Gus waai nie, dis nie so warm nie en ons swem heerlik. Dis ons laaste anker saam met Maja. Ons drink ons laaste koue drankies en ek geniet my laaste ankerswem waarvoor ek so lief was. Ek spring seremonieel in die see. Ek klou vas aan die laaste ankerswem-ervaring.

One eet ons laaste eenvoudige anker-aandete op Maja. Hoender en bulgar, met slaai. So baie laastes. En hier op 'n heel ongewone, windstil en salige Port St Paul.

Laaste "cold beverages" na anker

Laaste swem

Laaste skemerkelkie

Laaste avondmaal

Dis so ongewoon hier op Port St Paul. So anders. Ek wil vashou aan die dag, maar die son gaan tog onder. Glip deur my vingers. 'n Traan glip uit my oog, rol teen my wang af en val in die see. Die dag is  voorwaar 'n afdkeidsgeskenk aan ons, die seilende sigeuners.

Sonsondergang