Thursday, May 23, 2013

Binnelanders. Dag 24, 25, 26

Prcanj tot Virpazar


Vandag is net 'n dag van niks doen. Kotor se stari grad (ou stad) is interessant. Ons is te lui om vandag die indrukwekkende mure van Kotor te gaan klim. Ons sal dit doen as ons oor 'n paar dae weer hierheen terugkom.

Kotor
Nes maak
Kotor fort
Kerkplein
Nou straatjie





Ons gee ons oor aan verdwaal in die ou dorp, maar ons verdwaal nie eers nie. Ons eet 'n baie vroeë middagete by 'n baie rooi Chinese restaurant. (11:00).

So by drie uur maak ons reg om na  Prcanj te vertrek. Dis net 'n hanetreetjie, twee myl wat ons moet vaar. Ons het by die klein Marina Prcanj plek vir Maja bespreek. Ons gaan die arme ou dingetjie alleen los vir vier dae, terwyl ons die binneland van Montenegro gaan verken. Ons kan nie vir Maja by Kotor los nie, want daar meer jy langs die kaai in die dorp vas. Almal loop daar verby en dit is nie veilig om 'n boot so lank daar te los nie.

Ons klop ons Sweedse bure op en groet hulle. Dis maar die weë van seilers. Daar is altyd te gou koebaais. Miskien sien ons hulle weer.

Ons moet eers gaan diesel ingooi. Dis nie net van stop by 'n motorhawe en sê: "Maak vol, asseblief" nie. Nee, dis parallel parkeer en vorentoe en agtertoe en toue gryp en vasmaak. Teen die tyd wat jy kan sê: "Maak vol asseblief", is jy natgesweet.

Ons kom by Prcanj Marina aan, meer vas, gee die bootpapiere en ontspan weer. Ons pak ons goedjies vir die volgende vier dae op droë grond.

Dit was aand en dit was môre. Die volgende dag.

Ons sluit vir Maja en groet haar. Mitar, die vasmeerman, laai ons agt uur op om ons oor die water na die ander kant van die baai te vat. Aan die anderkant sal daar 'n taxi wees waarmee ons Kotor toe kan gaan waar ons die bus moet klim na Podgorica, hoofstad van Montenegro.

Mitar vat ons oor die water


Die taxi is nie daar nie en ons wag 'n ruk. Dit kom nie en ons begin stap. Dis veertig minute se stap. Toe begin dit saggies te reën. Ons trek maar ons reënbaadjies aan en stap verder. By Kotor loop ons verby ons vriende se boot. Hulle sien ons en ons groet weer.

Ons klim die bus en ry na Podgorica. Dit is nie 'n mooi stad nie. Baie onversorgde woonstelblokke en almal het wasgoed op die lyn. Ons moet twee ure wag vir ons volgende bus na Virpazar.

Ons stap toe maar dorp toe waar 'n groot mark is. Ons wil twee lamtjops vir die aand koop. Eers verstaan hulle ons nie, maar nadat ek geblêr het, weet hulle ons soek lam. Toe wil hulle heel snitte aan ons verkoop. Hulle roep toe 'n man wat Engels magtig is en ons verduidelik dat ons net twee tjops wil hê. Hulle kap toe vir ons een tjop by die een stuk af en nog 'n tjop by 'n ander stuk. Hulle gebruik nie 'n saag nie, hulle kap dit met 'n kloofbyl af.

Ons klim die bus 14:00 na Virpazar en kom 14:40 by Virpazar aan. Daar is mooi berge en 'n groot binnelandse meer, Skadar Meer, wat ons wil sien.

Uitsig van ons venster op Virpazar
Vleiland 


Dit is baie bewolk en ons stap rond. Dis 'n klein plek. Die aand braai ons die lamtjops op die kamer se tweeplaat-stoof. Die lam is heerlik sag. Archie sê dis die tweede lekkerste lamtjop wat hy in sy lewe geeët het.

Dit was weer aand en is weer môre en dit reën nog steeds. Vandag is daar nie 'n kat se kans om 'n toer op die meer te neem nie, want dit reën katte en honde. Dit lyk eerder na 'n reënwoud. Archie kyk deur die venster en merk op dat dit horisontaal reën, so erg waai die wind.

Die swaeltjies kom skuil onder ons dak teen die reën. Ons hoop die weer laat ons toe om môre Skadar Meer te gaan verken.

Ons balkon se wasgoedlyn