Saturday, July 9, 2016

Pithagorion. Samos Eiland. Griekeland.

08 Julie 2016. Vrydag.

Kuşadası tot Pithagorion

Ek verjaar vandag. 

Ons neem afskeid van Deon en Ryna. Hulle sit vandag hul reis in Turkye voort. Ons gaan hulle regtig baie mis.

7:30 stap ons na die hawemeester en immigrasie om uit Turkye te klok. Papierwerk word afgehandel en die polisie wil die boot sien. Ons kry ’n taxi, want hy wil nie loop nie. By Maja gekom, gee hy haar net een kyk en hy is tevrede. Deon en Ryna is toe net op pad om op te saal en bushalte toe te loop.

Ons het R150.00 vir die taxi betaal om die doeane man heen en weer te karwei en Deon en Ryna kry toe ’n taxirit. Dis mos klaar betaal en hulle hoef nie so vêr te loop met die swaar rugsakke nie. Ons groet weer en daar trek hulle.

Ons kry vir Maja gereed en vertrek uit Kuşadası op pad na die volgende hoofstuk. Weer na Griekeland en wel na Pithagorion, 37°41.375 N, 26°56.787 O, 22 myl. Dis op die eiland van Samos.

Gus waai en ons seil vir 3h15min. Die blerrie Gus wil nie ophou waai nie. Die dorp lê voor ons en ons gaan na die dorpskaai. Dis vol, maar ’n jag is besig om reg te maak om te vertrek. Wat ’n geluk. Hulle sê hulle sal oor 10 minute vertrek. Ons wag. 

Pithagorion, geboorteplek van die wiskundige Pythorgoras

Hulle trek anker op, maar o wee. Hulle anker sukkel en hulle trek iemand anders se anker totaal uit die water. En ons wag. Hulle sukkel en al die jagters staan op die snoete van hul bote en kyk. Seilers kyk mos altyd skaamteloos as iets verkeerd loop. Hulle sukkel met die anker en almal skree raad. En ons wag.

Sukkel met anker

Hulle sukkel. Eindelik toe die anker los is, gooi hulle dit terug in die water, by die plek waar ons wou ankergooi en terug tru. Toe wil ek nie daar gooi nie. Die jag se anker is nou los op die bodem van die see en hy is los. Nee wat, dit klink te onveilig vir my en ons gaan gooi toe anker in die baai. 

Vol ankerplek

’n Eienaardige wolk kom oor die heuwel uitgerol. So bruinerig. Ek dog eers dis ’n stofstorm. Ons klim in Dinkie en vaar land toe. Ons moet nou weer in Griekeland inklok. Die hawepolisie se kantoor is toe. En ons wag. 

Wolk agter die heuwel

Toe hy te voorskyn kom, doen hy sy deel en stuur ons na die immigrasie toe. Ons loop die honderd myl tot waar hy beduie, maar ons sien niks. Stap terug en vra ’n taverna eienaar. Hy beduie bult-op. Ons stap. Maar niks. Vra weer. Sy beduie bult-opper. Kom daar maar die polisieman sê dis die verkeerde plek. Beduie weer en ons loop weer die honderd myl terug. Dis toe ’n klein geboutjie aan die eindpunt van die veerboothawe. Hy klok ons in. Terug na die hawepolisie en die doeane en alles is afgehandel. Ons is wettige immigrante.

Die bruin wolk is nou vreeslik groot. Hulle sê dit is ’n dorpie anderkant die bult wat brand.
 
Samos brand af

Ons gaan kyk na Samos se geskiedkundige geboue, ou kerke en kastele.

Vroeë Christelike basilika
Kasteel van Lycourdos Logothetes
Kasteel van Lycourdos Logothetes
Kerkdeur

Terug by Maja hou ons die aktiwiteite dop. Helikopters met waterbomme vlieg heen en weer. So oranje helikopter met ’n slurp suig water uit die see op en vlieg dan in die wolk se rigting. Ander vliegtuie vlieg almal in die rigting van die vuur. 

Laai water op terwyl dit vlieg
Gaan vuur blus
Helikopter met slurp
Bruin rookwolk lug

En al wat Gus doen, is waai. Hy waai daai vuur so flink aan dat g’n mens dit kan stop nie.

Intussen, by die veerbootkaai, is luide stemme. Dis vlugtelinge wat wag om op die veerboete te klim wat argumenteer. Hulle staan lank in rye voordat hulle gelaai word en die twee bote uiteindelik vertek in Kusadasi se rigting. En Gus waai.

Die hele aand is die vliegtuie besig om die vuur te blus. En my vriende en familie sê hulle hoop ek het lekker verjaar …

Toe ons die volgende oggend opstaan, is Maja toe onder die roet wat gedurende die nag afgedaal het na benede. Sy ruik na veldbrand.


Afskeidsete en tot siens.



7 Julie 2016. Donderdag.

Alles kom op 'n end. Altyd die groot koebaai. Ons gaan eet ons laaste noenmaal by die Green House restaurant. Deon het ’n bottel Roodeberg gebring en ons vat dit saam. Ons vertel vir die eienaar dat dit ’n spesiale bottel wyn van Suid-Afrika is en vra of ons dit kan drink. Hy vra vreeslik uit oor die wyn en daar is geen probleem nie. Ons mag dit drink. 

Opgetof …
… ons ook

Deon bestel seekos en die res van ons lamsbredie. Die kos is ’n fees vir die oog. Die opdienbakke kom al vlammende daar aan en die kos word opgedien. Ons eet heerlik.

Drink Roodeberg
Kos lyk heerlik

Baie dankie Deon en Ryna vir ’n baie besonderse afskeidsete. Die mengsel van die kos en julle samesyn maak dit onvergeetlik.

Deon.

Deon is tevrede

Deon is ’n stapper. Met sulke lang bene kan jy ook nie anders nie. Hy stap nou behoorlik die wêreld plat. Vroegoggend is hy uit en verken. Hy moet vêrlangs familie van Livingston wees.

Dáárby is hy ook ’n fotograaf. Hy net seker ’n miljoen foto’s geneem, gaan nooit êrens sonder sy kamera nie. Alles word op beeld vasgelê.

Hy is baie entoesiasties met die geseil. Hy het gou geleer van toue trek en seile span. Archie verklaar hom as bevoegde dekhand.

Deon skryf:
Wat natuurskoon betref, is die mooiste plek beslis die Komen Adasi anker. Sit daarby ’n redelik stil baai na 2 dae van ’n stormsterkte Meltemi en perfekte 30m sig vir ons snorkelduikers. Ons Aliwalers ken van warmwater bronne, maar hier borrel dit in die see uit! Dit was beslis die plek vir my.

Körmen Adası
Piekfyn duiktoestande

Die tragiek van Ayvalik se Giekse geboue van die 1920’s en Ortedokse kerke wat nou in moskees verander is, lê na aan die hart.

Die “wow” tye was beslis die 8 knope seil in 30+ knope wind en as Gus ons by tye teen 60° geruk het.

Rowwe see

Ryna.

Ryna

Sy kom as ’n ’n onbekende en gaan weg as my vriendin. Sy is altyd reg en gereed om te help. Sy kan ook vreeslik jok! Sy sê sy kan nie kosmaak nie, maar haar kos was heerlik!

Ek het altyd gesing as ek benoud was. Ryna lees. Sy vat haar storieboek, The Longest Ride” en lees doelgerig, dan gaan die benoud weg. 

Ryna en haar boek

Ek en Ryna het saans op die dek gesit en skerts en grappies vertel. Ek het haar vreeslik geniet.

Ryna skryf:

Die mooiste plek was Yenifoça. Die panoramiese uitsig vanaf ‘n heuwel gee ’n gevoel van rustigheid. Die dorpie is goed beplan, vreedsaam en die mense is hardwerkend. Mens kan LEWE eintlik hier inasem. Yenifoça was ook pragtig….ek sou net die Turkse vlag wat die man op die berg dra met ‘n vlag van die kruis wou vervang … . Ons het ‘n perfekte sundowner op ’n spieëlgladde see geniet. 

 
Yenifoça

Dit was idillies wanneer ons smiddae op anker almal kan ontspan met ‘n glasie wyn in die hand. Maja wat haar stertjie heen en weer wieg om seker te maak ons kan alles rondom ons indrink.

Smiddae op anker

Deon en Ryna was ook modelgaste. Dankie, dat julle by ons op Maja kom kuier het. Ons het dit vreeslik geniet. Julle is altyd welkom!

Koebaai julle