Wednesday, August 31, 2016
Gemiler Adası.
30 Augustus 2016. Dinsdag.
![]() |
Fethiye tot Gemiler Adası |
Soos ek gesê het, Fethiye is pragtig – die môrestond het goud in die mond.
Môrestond |
Ons trek anker op, maar hy het behoorlik gebyt. Archie sukkel om dit op te trek. Dit het ’n lekker klomp modder op, Archie haal dit af en weg is ons na Germiler, 14.9 myl.
Ons sien deesdae elke dag vlieg
visse. Hulle kan vêr en vinnig vlieg. Hulle trek net bokant die water deur die
lug en duik dan terug in die water.
Ons vaar want die wind is skaars. Van seil is
daar geen sprake nie. Om die hoek is Gemiler. Hier gooi jy in diep water (20
m) anker en maak dan jou lang landtoue aan die voete van die antieke stad van
St Nicholas vas. Verlede jaar was Dirk en Leon saam met ons hier en ons het
saam met Sandi en Niel hier gekuier. Dis ook hier waar ek verlede jaar so ’n aaklige
anker ondervinding gehad het en toe geweier het om weer te gooi en ons is stert
tussen die bene Fethiye toe, waar ek sewe keer moes anker gooi voordat hy gebyt
het.
Landtou |
"Alas, poor Yorick! I knew him …" |
Maja vasgemaak |
Gemiler is ’n besige plek. Hier is
oormaat van lewe. Bote vol mense kom besoek die antieke stad van St Nicholas.
Swaaiende danslywe wieg op die ekskursie bote op die maat van die klipharde
doef-doef musiek.
Watersport is baie populêr. Vinnige
motorbote met harde musiek trek ervarings junkies op allerhande plastiese
stoele en wurms rond. ’n Boot wat roomys verkoop, ’n ander een wat pannekoek
verkoop vaar oral rond. Maar dit is vir ons lekker hier. Die water is pragtig
en heerlik en ons swem vir die vale. Dis nog baie warm hier in Turkye.
Ontspanne |
Saam met die sonlig verdwyn die geraasmakers en ’n salige stilte daal oor die eiland. Nou kan St Nicholas weer rus vir sy siel vind en ek vir myne.
Sonsondergang |
Fethiye.
29 Augustus 2016. Maandag.
![]() |
Boynüs Bükü tot Fethiye |
Boynüs Bükü is pragtig in die vroeë môrelig. Dis asof die baai ons wil vergoed vir die duur slegte kos wat ons die vorige aand moes eet, wil sê hy is jammer.
Ons vertrek na Fethiye, 13 myl. Ek
het nat kol in my mond en ’n naar kol op my maag. Dis seker daai vrot duur
garnale wat ek geëet het. Gelukkig is dit net ’n goorigheid en nie opgooi se
dinge nie.
Ons verlaat die Göcek gebied met die
besef dat dit darem regtig pragtig hier is. Die lug is swaar van die fog en dis
vreeslik deinserig. Die berge is onduidelik.
Skopea Limanı (Göcek Baai) |
Oggendskoot |
Naby Fethiye is ’n groot Deniz Market boot van Migros. Wat ’n uitstekende konsep. Dit is ’n supermark op die see wat van plek tot plek vaar en dan kan jy by hom koop. Ons het dit ook in die Göcek gebied opgemerk.
Migros se "Deniz Market" |
Sommer gou is ons by Fethiye en soek ankerplek. Dis hier waar ek verlede jaar omtrent sewe keer anker gegooi het voordat hy gebyt het. Ek gooi en die anker sleep. Gooi weer, sleep weer. ’n Matroos vloek in die vêrte. Die derde keer byt daai anker asof hy betaal word. En vas is ons.
Ons is eintlik hier om ons voorrade
aan te vul en ons gaan dorp toe. Ons koop lamsvleis en natuurlik
groenboontjies. En hope vrugte. Tevrede met al ons inkopies gaan ons terug na
Maja en alles kry hulle plek.
Fethiye arkade |
Twee dolfyne swem tussen die jagte op anker rond. Hulle is seker besig met middagete, want ons sien net die vinne. Ou Skillie swem ook rustig hier rond.
Die aand is ek nie lus vir kos maak
nie en ons eet sommer salm, avokado, feta en slaai. Heerlik lig, want onthou,
ek is mos goor.
Aandete |
Die volgende môre is Fethiye
pragtig!
Fethiye ankerplek |
Subscribe to:
Posts (Atom)