9 Augustus 2017. Woensdag.
 |
Tselevinia tot Ermioni |
Ermioni is 13.8 myl van hier en ons vertrek. Gus
is verward. Dan waai hy van die Noord-ooste, dan van die suide. Archie span die
seile, dan waai Gus so sterk dat ons moet reef. Dan gaan lê die swerkater en af
is die seile. Dan peper hy ons met windvlae van 30 knope, net om die volgende
oomblik te gaan lê. Ons seil wel vir 30 minute, met ’n topspoed van 7.4 knope.
En dit met baie klein seile. Om so te seil, is net ’n frustrasie.
 |
Padda Eiland |
Hoe nader ons aan Ermioni kom, hoe sterker waai
die wind. Gelukkig bedaar Gus toe ons in die baai inkom. Ons gooi anker en ons
is tuis. Dis ’n groot, vlak baai en teen die aand is 23 bote daar op anker en ’n
klomp is by die kaai.
 |
Ermioni |
Ermioni is ’n baie mooi dorp. Daar is baaie aan
die suide- en noordekant. Ons gaan natuurlik dorp toe en kyk na die mooi
uitsigte van bo af. Aan die oorkant staan ’n spoggerige kerk.
 |
Suid Kaai |
 |
Ek en Archie |
 |
Noord Baai |
 |
Ek en Ermioni |
 |
Spoggerige kerk |
Ons koop ook voorrade, want dit is ook markdag. Dit
wemel van kopers en verkopers. Dit lyk soos ’n miernes en al die vars vrugte
lyk so aanloklik. Ons swig en koop twee vars visse. Ons gaan heerlik eet. Ons
stap terug na Dinkie. Sy het bietjie water in en ons wil nie al ons voorrade
nat hê nie. Archie wil die water uitgooi en met dié aksie, het daar êrens water
in die motor gekom en toe wil sy nie vat nie. En natuurlik het ons nie die
roeispane daar nie. Archie trek amper sy arm uit lid uit om te prober dat
Dinkie moet vat, maar dis puur verniet.
 |
Groente |
 |
Perskes |
Dis net toe dat ek sien ’n visserman wil met sy
boot vertrek en ek wink en waai en beduie vir hom hy moet kom help. Uiteindelik
snap hy en maak ons tou aan sy boot vas. Toe word Meneer en Mevrou Boon na Maja
toe gesleep deur Dimitri, die visserman. Vir die res van die jagte se inwoners
is dit heerlike kykgenot. Ons lag maar saam. Die wind waai baie erg en toe ons
naby Maja kom, maak Dimitri die tou los en die laaste entjie roei ek en Archie
vir die vale met die hande.
 |
Dimitri en Seun |
Soveel dae, soveel dinge. Maar Ermioni bly maar
steeds ’n pragtige plek. Ons eet die aand souvlakis wat ons by die slagter
gekoop het wat Martin van Gumnuts aanbeveel het. Verlede jaar, by die einste
Ermioni, het ons heerlike souvlakis aan boord van Gumnuts saam met Martin en
Shiree geëet.