Monday, September 3, 2018

Karaloz.

2 September 2018. Sondag.

Finike tot Karaloz
Ons laat vir Finike agter in sonnige oggendstond. Ons nuwe bestemming is Karaloz, 16.3 myl. Dis 'n ankerplek by Kekova Adası. 'n Vreedsame, rustige plek wat Till verlede jaar terdeë geniet het.
Tot siens Finike

Dis maar weer 'n ou vervelige pad. Louise is agter die helm en bestuur vir 'n baie lang tyd. Archie vat naby die bestemming oor. Kenmerkend van Karaloz se ankerplek, is die grot by die ingang van die baai. Die rotse by die grot het so 'n sponsagtige tekstuur. Baie interessant.

Ons vaar die baai binne en die kaptein soek ankerplek. 'n Gawe Turk wat reeds "line ashore" in die baai is, gee vir ons goeie raad oor waar ons kan anker. Archie volg sy raad en alles is reg vir aksie. Ek gooi anker,  Archie tru en duik later met sy sierlike boog om die toue land toe te swem en die Kanadese help met die trek van die agtertoue. Toe is ons baie knus vas in die baai. Te heerlik.
"Line ashore"

Dis nou totdat die blêrrie gulet op ons voorstoep kom intrek. Sy boot is op ons anker, so ons kan nêrens heen gaan nie. Gelukkig swem die mense net gewoonlik  en dan vertrek hulle. Daar is  'n klomp Duitsers aan boord. Ek voer maar klein vissies met brood wat ek moet verkrummel tot amper meel. Hulle hou aan en aan eet asof daar geen môre is nie.
Honger vissies

Archie-hulle gaan klim die koppie vir foto's, maar die ou gulet bederf die hele atmosfeer van die baai. In plaas daarvan dat Maja romanties in die baai lê, sien jy net die gulet. Dit word al hoe later, maar vertrek is min. Die klomp gaan vanaand hier oornag, op ons voorstoep.
Stappers
Karaloz
Blêrrie gulet

Yvon en Louise maak vir ons ratatouille en hoender en ons eet heerlik. Hulle is behoorlik natgesweet agter daai kospotte.
Kookspan

Die gulet se mense het gelukkig nie baie geraas nie en ons kon heerlik slaap. Dis net die hitte wat pla.

Finike Marina.





1 September 2018. Saterdag.

Çineviz tot Finike

Ons verlaat die pragtige Çineviz en vaar na Finike, 27.2 myl. Die berge is oop en vriendelik, skuil nie vandag skaam agter die deinserige donskombers nie. Die omgewing is waarlik pragtig. Die vissermanne gebruik die heerlike weer om 'n groot vangs te vang. Hulle glim in die oggendlig.

Pragtige kuslyn
Vissermanne
 
"Aanstap Maja, die pad is lank en swaar..." Dis 'n lang, amper vervelige pad en ons vaar vorentoe, altyd vorentoe. Yvon kry 'n beurt agter die helm en toe bestuur Louise die res van die pad. Archie maak haar touwys en sy leer vinnig. Sy geniet dit baie om agter die stuur van sake te staan.
 
Agter die stuur
Louise en Yvon
Yvon
Louise word touwys gemaak
 
Ons word beloon net 'n klonp dolfyne wat met ontbyt besig is. Hulle vervies hulle as ons nader kom en wei dan in 'n ander rigting. Die twee besoekers is in hulle skik om dolfyne te sien.
 
Skaam dolfyne
 
Later sien ons baie vliegvisse. Die visse kan darem baie vinnig oor die water vlieg en duik dan met 'n plons in die water in. Hulle is amper dieselfde kleur as die water. Dis nogal moeilik vir die gaste om hulle vir die eerte raak te sien.

Na 'n laaste vervelige stuk oor 'n groot baai, lê die marina voor ons en ek roep hulle op kanaal 73. Die swartwater word uitgepomp en toe word ons na rusplek vir die nag begelei. Die marina manne is baie bekwaam en ons is sommer gou-gou vas.
 
Finike Marina
 
Archie, Yvon en Louise stap in die hitte van die dag Migros toe vir voorrade en ek gaan was wasgoed. Mensig, maar dis warm hier in die wêreld. Ons sit blinkgesig op die boot. Dit koel verdomp nie af nie.

Ons eet heerlike koue salm met slaai. Net die regte kos vir so 'n warm aand.